Formidabel, vasberade, rateltaai – dis waarskynlik hoe sportliefhebbers die tennis-ikoon sal beskryf wanneer hulle aan haar dink.

Martina Navratilova se onwrikbare dryfkrag en vlymskerp fokus het haar een van die suksesvolste tennisspelers gemaak wat die sportwêreld nog gesien het.

Langer as twee dekades lank het sy die vrouespel oorheers en in dié tyd 18 Grand Slam- enkelspeltitels gewen – onder meer ’n rekord van nege seges op Wimbledon.

Sy het ook hoofopskrifte gehaal toe sy in 1981 onthul sy is gay en so die eerste beroepsportvrou geword het wat openlik oor haar homoseksualiteit was.

Maar daar is ’n ander kant aan die 63-jarige baanbreker: ’n kwesbare, skaam kant wat nie strook met die sterk vrou wat die wêreld leer ken het nie.

Onlangs was dié minder bekende kant van Martina duidelik te sien toe sy saam met ’n groep Britse glansmense in die ITV-program The All New Monty: Ladies Night verskyn het.

Die vroue het almal ’n ontkleedans uitgevoer met die doel om vroue aan te moedig om hul borste vir tekens van borskanker te ondersoek en hulle gereeld vir servikskanker te laat toets.

Martina het besluit om aan die program deel te neem omdat sy borskanker vroeër oorleef het, maar dit was nie ’n maklike besluit om haar in die program bloot te stel nie.

“Ek het besef al voel ek hoe kwesbaar, is die saak so belangrik dat ek die geleentheid moes aangryp,” sê sy.

“Dis iets wat oor lewe en dood gaan, en as ek op die een of ander manier mense wat dit gekyk het, kon oorreed om hulle te laat ondersoek, was dit vir ’n goeie doel.”

Die “fantastiese kameraderie” wat Martina met haar mededeelnemers – baie van hulle die helfte so jonk as sy – ervaar het, het ook gehelp. “Ek kon hul ouma of hul ma gewees het,” spot sy.

Martina op ITV
Martina (regs) ontklee in die ITV-program The All New Monty: Ladies Night om vroue bewus te maak van bors- en servikskanker. By haar is Megan Hanson van Love Island. Foto: ITV

Die blonde tennislegende wou op dié manier ook hulde bring aan haar vriendin en medetenniskampioen Jana Novotná. Albei is in die destydse Tsjeggo-Slowakye gebore, en hulle het later ’n hegte band gedeel.

Jana is in 2017 op 49 aan kanker dood. Martina erken sy het nadat sy haar bra voor die regstreekse gehoor laat sak het “die grootste gil” van haar lewe gegee.

Die opname het ’n ernstige wending geneem toe sy in trane uitbars tydens ’n openhartige gesprek met haar mededeelnemer Coleen Nolan (54), ’n Britse televisieaanbieder en sangeres.

Tussen die trane deur het Martina onthul om kanker te hê was “kinderspeletjies” in vergelyking met haar grootwordjare in ’n kommunistiese land waar jy “jou moes inhou.

“Ek het my gesin verlaat en my ouers vier jaar lank glad nie gesien nie, en dis waaroor ek elke keer huil, want ek kan nooit daardie tyd terugkry nie.”

Martina het op 17 uit Tsjeggo-Slowakye na Amerika getrek om haar tennisloopbaan na te jaag en vier jaar later, in 1978, haar eerste Wimbledontitel gewen.

Haar ma, Jana, moes haar dogter se prestasies jare lank van ver af volg, want sy was nog vasgekeer agter die ystergordyn van kommunistiese Oos-Europa.

“Wat my seergemaak het, was om my ma seer te maak,” het Martina tydens die onlangse opname vertel. Tog moes sy vorentoe kyk en op haar tennis konsentreer.

“Jy dink net: ‘Doen dit’, want die ergste deel van my lewe was reeds verby.” Haar ma is in 2008 aan emfiseem dood; Martina vertel sy mis haar steeds elke dag.

“Sy was die beste mens wat ek geken het. Sy was baie slim. Wanneer ’n speletjiesprogram uitgesaai is, het sy elke liewe antwoord geken. Sy’t my verstom.”

Martina sê haar ma sou nie kon glo sy trek haar klere uit voor die kameras nie, want sy het haar dogter ondanks hul jare lange skeiding goed geken, en “sy het geweet hoe skaam ek is”.

Vier jaar nadat sy haar tennistekkies weggepak het, is borskanker in 2010 by Martina gediagnoseer. “Ek noem dit my persoonlike 9/11,” het sy onlangs aan The Telegraph gesê.

“Ek was gelukkig in die sin dat dit op die ou end behandelbaar was, maar aan die begin weet jy nie of dit die geval gaan wees nie. Aanvanklik was dit ’n bom.”

Sy het ’n buiskarsinoom gehad, ’n nie-indringende soort borskanker wat tot die melkbuise beperk is en nie versprei het nie.

“Soms voel ek ek het dit gelukkig getref,” sê sy en beskryf dit as die “goeie kanker” vergeleke met ander soorte kanker. Tog erken die vreeslose tennis- kampioen sy het oorweldig en “vreesbevange” gevoel toe sy die diagnose kry.

“My lewe lank het ek op my liggaam staatgemaak – ek het altyd mooi daarna gekyk, en in ruil het dit my goed behandel; die diagnose het soos ’n soort verraad gevoel.”

Die verlies aan beheer het haar diep getref. “In my ervaring as atleet word jy beseer en jy behandel dit, maar (die kanker) was heeltemal buite my beheer; daarom was dit vreesaanjaend.”

Dit is steeds vir haar angswekkend om vir mammogramondersoeke te gaan, vertel sy. En dit is veral dan dat sy haar ma weer mis.

Haar grootste steunpilaar is die voormalige Russiese skoonheidskoningin en model Julia Lemigova (47), met wie sy in 2006 begin uitgaan het en in 2014 getroud is.

Martina en Jana
Martina is getroud met die voormalige Russiese model Julia Lemigova. Hier is hulle by Julia se jongste dogter, Emma. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle woon in Suid-Florida saam met Julia se twee tienerdogters en ’n klompdiere. Martina glo hul besluit om te trou het haar “sterker” laat voel. “Moenie met my verhouding of gesin mors nie.

Dit bemagtig my en gee my ’n soliede steunbasis. Dit laat die kinders ook beter voel,” het sy aan The New York Times gesê.

Sy is as vurige kampvegter vir gay regte onlangs deur lede van die LGBTQI-gemeenskap gekritiseer weens opmerkings wat as “transfobies” beskou is.

Martina het gesê sy dink dit is problematies om transgender vroue toe te laat om as vroue aan vrouesporttoernooie deel te neem omdat dit dan teoreties vir mense wat as mans gebore is moontlik sou wees om aan vrouetoernooie deel te neem.

“Om die argument op sy eenvoudigste te stel: ’n Man kan besluit om vroulik te wees, hormone gebruik, alles in sig wen en dan sy besluit omkeer en terugkeer na babas maak as hy wil.

“Dis gek en dis verneukery. Ek sal ’n transgender vrou tegemoetkom, maar ek sal nie teen haar wil meeding nie. Dis nie regverdig nie.”

Op haar webtuiste het sy geskryf sy weet sy het nie “al die antwoorde” nie, en dis hoekom sy ’n debat wil ontlok.

“Ek wil ’n gesprek hê wat almal insluit en, soos ek gesê het, nie op gevoel of emosie gegrond is nie, maar op wetenskap, objektiwiteit en die belang van vrouesport in die geheel.”

Sy het beklemtoon sy beskou Caster Semenya se deelname aan sekere vrouenommers op die atletiekbaan in ’n ander lig omdat ander bepalende omstandighede geld: Caster is nie transgender nie; sy is gebore as ’n vrou met verskille in haar seksuele ontwikkeling.

Martina Navratilova.
Martina Navratilova. Foto: Gallo Images/Getty Images

Martina sê transgender atlete en atlete met verskille in hul seksuele ontwikkeling is “twee heeltemal verskillende kwessies”.

Sy was dus “persoonlik teleurgesteld” toe ’n hof onlangs ’n uitspraak bekragtig dat atlete met verskille in hul seksuele ontwikkeling medisyne moet gebruik om hul testosteroonvlakke te verlaag voor hulle aan sekere nommers mag deelneem.

Dié uitspraak kan Caster inperk en selfs haar loopbaan kortknip; Martina glo dis onregverdig.

“Caster is ’n kampioen vir vroue, ’n kampioennaelloper en ’n kampioen- atleet – sy is so gebore en sy hoor nou basies dis nie goed genoeg nie.”

Sy sê sy sal uitgesproke bly oor sake waaroor sy sterk voel.

“Ek het nog altyd vir die onderdruktes opgestaan en sal altyd. Ek het altyd gepraat, punt. Dis deel van die rede waarom ek die land waarin ek grootgeword het, verlaat het.

“Dit maak my woedend wanneer mense vir my sê waaroor ek moet praat of dat ek moet stilbly.” 

Bronne: Telegraph.co.uk, Express.co.uk, Dailymail.co.uk, Nytimes.com