Buite knetter die skote soos ’n veldbrand in die nag. En in die hotel waar hulle saam met ander buitelandse kontrakteurs skuil, worstel drie Suid-Afrikaners met ’n besluit wat letterlik lewe of dood kan beteken.

Dis nou al twee dae dat die broers Wesley (37) en Adrian Nel (40), hul stiefpa, Greg Knox, en sowat 200 ander mense hier in die Amarula Palma-hotel vasgekeer is.

Twee vreesaanjaende dae sedert sowat 2 000 vegters van al-Shabaab, ’n Islamitiese terreurgroep verbonde aan Isis, die dorp Palma binnegeval het.

Die vraag waarmee die gespanne groep worstel, is dit: Bly ons hier en hoop dat redders tog sal opdaag? Of probeer ons in ’n voertuigkonvooi vlug?

Die drie Suid-Afrikaners werk al sedert Januarie saam hier op Palma as kontrakteurs vir ’n nuwe behuisingsprojek. Adrian (40) van Durban het sy werk as kommersiële duiker weens die inperking verloor en toe by sy broer en stiefpa kom aansluit. Soos die honderde ander buitelandse kontrakteurs wis hulle van die terreuraanvalle op die omringende platteland, maar die aanval op Palma in Maart was totaal onverwags.

Gou was daar lyke in die strate, brandende geboue en ’n desperate uittog deur duisende plaaslike inwoners. In die hotel moet die gespanne groep tussen die vet en die vuur kies: Bly hulle, kan hulle sterf. Ry hulle, sterf hulle miskien ook. 

'n Desperate boodskap van die mense wat in die hotel vasgekeer was. Foto: Gallo Images/Reuters
'n Desperate boodskap van die mense wat in die hotel vasgekeer was. Foto: Gallo Images/Reuters

In Suid-Afrika het hul families angsbevange gewag op elke kosbare nuusbrokkie per satellietfoon uit die beleërde hotel, vertel Samantha (skuilnaam), ’n familielid van die broers Nel, net dae later aan Huisgenoot. Die broers het twee dae tevore, die Woensdag, laat weet Palma is binnegeval.

“Wesley en Adrian het gesê ons hoef nie bekommerd te wees nie, hulle is veilig, alles is onder beheer. Maar ons was ontsettend bekommerd.”

Toe, die Vrydagaand, kom die boodskap dat hulle in ’n konvooi gaan vlug “omdat kos en water in die hotel opraak”, vertel sy. Dit sou ’n slapelose nag vir hul geliefdes tuis word.

Ver weg op Palma klim die broers en hul stiefpa in een van 17 stampvol motors. Die plan: Jaag na die strand in die hoop dat daar nog bote is wat hulle kan ontruim.

Maar die militante het reeds ’n doodsakker voorberei. Toe die konvooi deur die hotel se hekke jaag, skeur koeëls deur die voertuie, en Adrian word getref. Tien van die 17 voertuie in die konvooi, en baie insittendes, haal nooit die strand nie. Van dié wat wel die desperate jaagtog oorleef, is talle beseer. Hul moed sak in hul skoene toe hulle sien daar is geen bote nie. Adrian sterf in sy broer, Wesley, se arms. 

Adrian Nel is oorlede. Foto: Verskaf
Adrian Nel is oorlede. Foto: Verskaf

Omstreeks 06:30 Saterdagoggend lui die telefoon oplaas in Suid-Afrika. Maar ondanks hul gebede is nie al die nuus goed nie: Wesley en Greg is gered, maar Adrian is dood.

“Toe ek die nuus hoor, het my lyf heeltemal afgesny,” vertel Samantha bedroefd.

“Ek kan steeds nie glo Adrian is weg nie. Ek voel ’n leegheid binne my wat ek vir niemand kan verduidelik nie.”

Die familie het baie vrae oor die tragiese gebeure.

“Die Mosambiekse owerhede het Donderdag vir mense gesê om by die hotel te bly en daar weg te kruip; hulle sal hulp stuur,” beweer Samantha. “Maar geen hulp het gekom nie. Hulle is weerloos gelaat.”

Wesley Nel wat die aanval oorleef het. Foto: Versk
Wesley Nel wat die aanval oorleef het. Foto: Verskaf

Die twee geskokte oorlewendes van die doodskonvooi, Wesley en Greg, het die dag voor Huisgenoot se onderhoud op Durban se Koning Shaka- internasionale lughawe geland.

 “Wesley is ongelooflik getraumatiseerd nadat sy broer in sy arms dood is en hulle toe nog ure lank met sy lyk in die bosse moes wegkruip terwyl hulle om hulp wag,” vertel Samantha.

Die twee mans weet nie hoe lank hulle so in die bosse moes skuil voor hulle deur ’n helikopter gewaar en opgepik is nie.

“Dis hul redders wat ons die Saterdagoggend gebel het.”

Buitelandse oorlewendes van die aanval is met ’n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag ontruim, en ook Adrian se oorskot is tuis in Durban.

Die Suid-Afrikaners Francois van Niekerk en Brent September asook Nick Alexander, ’n Suid-Afrikaans gebore Brit, is ook veilig ontruim. 

Ongeveer 10 000 mense is uit Palma gered, insluitend Suid-Afrikaners. Meer as 60 mense word nog vermis. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ongeveer 10 000 mense is uit Palma gered, insluitend Suid-Afrikaners. Meer as 60 mense word nog vermis. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die aanval op Palma het gekom kort ná die Mosambiekse regering se aankondiging oor die Franse energiemaatskappy Total se vloeibare gasprojek by die afgeleë dorp.

Die afgelope jaar was al-Shabaab en hul skrikbewind in die noorde van Mosambiek gereeld in die nuus, maar die kontrakteurs het veilig gevoel danksy ’n 25 km-strook rondom Palma wat deur die Mosambiekse veiligheidsmagte gevestig was.

Drie maande het die broers gelukkig daar gewerk, en hulle was opgewonde oor die goeie geld wat hulle huis toe sou bring. Maar op Woensdag 24 Maart laat hulle hul families weet dat al-Shabaab die veiligheidsektor rondom Palma binnegedring het.

“Hulle het ons aanhoudend verseker alles is onder beheer,” vertel Samantha. Maar die militante vegters het die dorp te voet, in bakkies en op motorfietse ingeval en op alles losgebrand.

“Mense is uit hul huise gesleep en in die strate onthoof,” het ’n Suid-Afrikaanse intelligensiebron gesê. “Ander is uit hul skuilplekke in die bos gelok met beloftes dat hulle nie doodgemaak sou word nie, maar dan summier tereggestel.”

Helikopters van die Suid-Afrikaanse privaat veiligheidsmaatskappy Dyck Advisory Group het die Mosambiekse weermag gesteun, op die militante gevuur en sowat 150 mense opgepik. Maar hul brandstof was gou op en almal is na die hotel om op redding te wag. Die broers het heeltyd kontak behou met hul pa, Paul Nel, in Mpumalanga.

Hoewel duisende mense deur helikopters gered is, is die dodetal onbekend. Foto: Getty Images/Gallo Images
Hoewel duisende mense deur helikopters gered is, is die dodetal onbekend. Foto: Getty Images/Gallo Images

Donderdagaand is Palma se kommunikasie met die buitewêreld afgesny en was die broers op ’n gedeelde satellietfoon aangewese. Toe kom daardie boodskap oor die konvooi, ’n nag van gebede . . . en toe die verskriklike oproep oor Adrian.

“Die seuns se pa het die eerste vlug na Pemba (die Mosambiekse hawestad sowat 250 km suid van Palma) geneem om Greg en Wesley daar te ontmoet en Adrian se liggaam huis toe te bring,” vertel Samantha.

Adrian laat sy vrou en drie kinders agter.

“Hy en sy vrou was meer as 20 jaar saam. Sy probeer nou net sterk wees vir die kinders,” vertel Samantha.

“Adrian se pa, Paul, probeer ook sterk wees, maar ons kan almal sy seer sien. Adrian het sy lewe voluit geleef, was die liefdevolste en respekvolste mens wat jy ooit kon ontmoet. Hy kon enige vertrek ophelder en was die beste mens wat ek ooit geken het.”

Die familie het in Durban saamgetrek om Adrian se begrafnis te reël en mekaar te ondersteun.

“Ons almal rou oor sy dood, maar is terselfdertyd verskriklik dankbaar dat Wesley en Greg veilig is,” vertel die steeds geskokte Samantha.

“Ons het baie om te verwerk.” 

Wie is al-Shabaab?

Vyf jaar gelede het al-Shabaab (“die jeug”) se boodskap in Mosambiek se provinsie Cabo Delgado ­begin posvat. Die streek is oorwegend Moslem, en Mosambiek se armste streek.

Dus vind al-Shabaab se ekstremistiese boodskap maklik aanklank by ontnugterde jong mense. Sedert 2018 het al-Shabaab ’n groot deel van die provinsie onregeerbaar gemaak, alles van klinieke tot banke vernietig en derduisende mense laat vlug.

Jonathan Whittall, senior ontleder van die hulpverleningsorganisasie Dokters Sonder Grense, noem dit “ ’n humanitêre krisis”.

Die Mosambiekse weermag rig min uit teen hulle. En sedert al-­Shabaab trou aan Isis gesweer het, word die terreur ál feller.

“In ’n 2019-propagandavideo sê al-Shabaab hulle wil die Mosambiekse regering omvergooi en die sjaria (fundamentalistiese Islamitiese wette) instel,” sê Martin Ewi, navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria.

Verlede jaar het al-Shabaab die hawedorp Mocímboa da Praia, 80 km van Palma, verower, waarna Total sy R300 miljard-gasprojek in Palama gestaak het. Total het later ingestem om die projek te hervat danksy die Mosambiekse weermag se 25 km-veiligheidstrook.

Hoekom word niks gedoen nie – en wat is die gevaar vir Suid-Afrika?

Hoe verder dit van Maputo is, hoe minder beheer het die Mosam­biekse regering en weermag nog altyd.

  • Suid-Afrika, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika-­unie en internasionale gemeenskap is in die spervuur omdat hulle nie ingryp teen al-Shabaab nie.
  • Maar telkens is die antwoord: Ons kan niks doen alvorens Mosambiek as soewereine land ons vra nie.
  • Sekerheidskenners is bekommerd daaroor dat gevegte verder suidwaarts kan beweeg en ’n ­instroming van Mosambiekse vlugtelinge na Suid-Afrika ont­keten.
  • Suid-Afrikaanse toeriste wat jaarliks na Mosambiekse strande stroom, kan ook in groter gevaar wees.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe