Die tweejarige kleuter, wat breinskade opgedoen het nadat sy as baba by haar dagsorg aan melk verstik het, se ouers is al gewoond aan hospitale. 

Mienke Mulder in die hospitaal.
Mienke Mulder in die hospitaal.

Verna, Mienke se ma, vertel toe Mienke twee weke gelede op Saterdag 2 Maart begin siek word, het sy eers gedink sy sukkel met haar tande. 

“Ek kon die Saterdag sien Mienke voel nie lekker nie. Sy was maar baie koorsig en het ook ’n loopneus en hoes gehad. Ons het maar eers besluit om dit net dop te hou. Sy is besig om tande te sny.”

Mienke is by die huis na meer as week in die hospitaal. Foto: Facebook

Die Maandag toe hulle haar by haar versorger aflaai, kon sy sien haar toestand het vererger.

“Die versorger het my gebel en gesê sy het al twee keer die dag probeer, maar Mienke wil glad nie haar pap eet nie.”

Mienke Mulder is onlangs vir die eerste keer “grootskool” toe nadat haar vorige dagsorgsentrum sy deure in Desember toegemaak het. Foto: Verskaf

Verna het Mienke gaan haal en die versorger het aangedui die hoes het in hoesbuie ontaard. 

“Mienke het die parainfluenza 3-virus opgedoen. Dit is ’n respiratoriese virus wat die lugweg aantas. Simptome sluit koors, ’n loopneus en hoes in, soos wat sy gehad het. Die dokter het agtergekom Mienke gooi baie op, al het sy reeds ’n jaar gelede ’n operasie ondergaan om die kos binne te hou. 

“Weens die virus kon hulle haar nie teater toe vat nie, want haar lugweg sal onder narkose toetrek.

”Mienke was vier dae in die hospitaal, maar dit sal tot ses weke neem vir Mienke om beter te word voor sy moontlik teater toe sal gaan om uit te vind hoekom sy steeds opgooi. 

Kort voor Mienke se tweede verjaardag in Januarie het Verna vertel hulle beplan ’n reis na Indië sodat Mienke stamselbehandeling kan kry om haar toestand te probeer verbeter. Mienke kry egter steeds erge aanvalle, en weens die vog op haar brein, wat ook die aanvalle veroorsaak, kon hulle nog nie vlieg nie.

“Ons vrees is dat Mienke in die lug op die vliegtuig ’n aanval sal kry. Soms kom sy nie daaruit nie en dan moet sy ingespuit word.”

Sy is nou op nuwe medisyne wat haar verbetering laat toon.

“Ons hoop om later in April te kan gaan.”

Intussen duur die geveg om Mienke se lewensgehalte te verbeter voort.

“Ons is al so gewoond aan hospitale. So sleg as wat dit is, raak ’n mens dit ook maar gewoond. Jou mindset moet reg wees. Ons doen dit om haar beter te maak.”

Intussen hou sy Mienke se meer as 56 000–volgelinge op die Please Pray for Mienke-groep op Facebook op hoogte.

“As dit kom by die groot goed – soos die sluk en sit en eet – is daar nie verbetering nie, maar Sondag het ek vir haar musiek gespeel toe begin sy lag! Mienke love musiek.”

Baba Mienke

Mienke is ná die voorval in Augustus 2017 by haar dagsorg in Mbombela, Mpumalanga, eindelik met serebrale verlamming gediagnoseer.

Die gesin het intussen na Benoni aan die Oos-Rand verhuis. Sy kan tot vandag nie self eet, sluk, sit of iets self met haar handjies vat nie. Sy ontvang buisvoeding.