Davey Strydom
Hy probeer moed hou, sê Davey Strydom van Klerksdorp – al het hy ’n kind en sy vrou aan die dood afgestaan en baklei sy jongste dogtertjie teen ’n harttoestand. Foto: Lubabalo Lesolle/Gallo Images

By tye bid hy: “Here, asseblief, ek kan nie meer nie . . .”

Dit voel asof die slae van die lewe nooit gaan ophou nie – asof hy vasgevang is in ’n malende kolk waarin smart sy ewige voorland is.

Die dood van ’n kind, die dood van sy vrou, en nou die lewensgevaarlike toestand van sy jongste – pas twee maande oud – wat hy op sy eie moet versorg nadat haar ma kort ná haar geboorte oorlede is . . . 

Elke keer wat Davey Strydom (36) sy kop ná ’n tragedie optel, tref nóg ’n hou hom.

Die eerste vernietigende slag was toe sy tweejarige dogtertjie in 2018 aan breinvliesontsteking gesterf het. Dit het Davey en sy vrou, Corné, verpletter.  

“Ons het nie geweet hoe mens aanhou asemhaal nadat jy ’n tweejarige kind se as moes strooi nie,” sê hy vandag. “Maar ons hét. Ons het geglo ons sou eendag weer kon glimlag sonder die konstante seer.” 

Die geboorte van nog twee dogtertjies daarna het hulle gehelp om hul vreugde weer te vind. “Dit was asof die Here aan ons teruggegee het wat van ons weggeneem is,” onthou Davey.

Davey Strydom
Davey en sy vrou, Corné, in gelukkiger tye. Foto: Verskaf/Lizel Snyman Photography

“Kort-kort het ons onsself weer vang glimlag – die lewe was weer mooi en vol.”

Maar hoe vlietend was die voorspoed nie. 

Want net ’n paar dae ná hul jongste dogter se geboorte twee maande gelede, het hulle uitgevind sy het ’n hartdefek.

“Dokters het ’n gaatjie in een van die hartkamers bespeur, maar ons het albei onderneem dit sou ons nie onderkry nie – ons sou veg vir ons dogter en doen wat nodig is.”

Helaas het Davey teen daardie tyd nog nie die laaste skoot pyn beleef wat vir hom bestem was nie: Skaars tien dae ná hul baba se geboorte, het Corné weens komplikasies van die geboorte begin bloei en gesterf. Sy was maar 32 jaar oud.

Nou moet hy die babatjie – wat haar ma nooit sal ken nie – alleen grootmaak, en sy jongste se gesondheidstryd alleen aandurf.

“Ek vra die Here elke dag hoeveel keer die weerlig dan op een plek kan slaan,” sê hy hartgebroke. “Daar is tye dat ek dink die seer en die verlange gaan my versmoor. Maar dan kyk ek weer na die kinders – na ons kinders – en ek weet ek mag nie opgee nie.” 

Davey Strydom
Davey en Corné by die geboorte van Samantha. Foto: Verskaf

Die seer op seer

Solank hy kan onthou, wou Davey ’n pa wees. Corné het saamgestem – vir haar sou dit dalk net meer oorreding verg om in te stem tot die groot gesin waarvoor hy gehoop het.

“Ek wou sommer ’n klein rugbyspannetjie gehad het,” vertel Davey vandag hier in sy kantoor op Klerksdorp, Noordwes, waar hy as die bestuurder van ’n motorhandelaar werk.

Maar oor die jare het die een slag ná die ander hul droom ondermyn.

Hulle het gedink dis die grootste seer wat twee mense kán ervaar toe Corné in 2012, ’n jaar ná hulle troue in 2011, ’n miskraam gehad het, sê Davey.

Sy oë swem in die trane as hy in ’n rou stem vertel: “Maar as ek geweet het wat op ons wag in die komende jare – wat op mý wag . . .” 

Davey Strydom
Klein Dané in die hospitaal waar sy om haar lewe geveg het kort voor haar dood in Augustus 2018. Foto: Verskaf

Vir ’n paar jaar is hulle weer geluk gegun toe hul seuntjie Davey in 2013 en ’n dogtertjie, Dané, in 2016 gebore is.

Die teenspoed het egter weer kop uitgesteek. Klein Dané se kort lewetjie sou deur erge gesondheidsterugslae gekenmerk word. Toe sy maar een jaar oud was, is breinvliesontsteking twee opeenvolgende kere by haar gediagnoseer. Die tweede keer het dit haar brein so beskadig dat ’n hartstilstand en ’n beroerte gevolg het. Sy is in Augustus 2018 dood.

“Ons het alles verloor om ons kind te probeer red,” sê Davey. “Ons het ons huis op Klerksdorp verkoop en later die voertuie. Maar toe word sy in elk geval van ons weggevat.” 

Haar dood het die ouerpaar geruk. “Daar is hierdie allesvernietigende skuldgevoel wat jou jaag . . . Moes ek meer doen? Kon ek meer doen? Maar ons het aan ons geloof probeer vasklou, ons wou glo haar dood sou ander lewens kon aanraak.” 

Nog twee dogtertjie is vir hulle gebore. Klein Madison – hulle “reënboogbabatjie” – se geboorte in 2019 het “baie gate toegemaak”, sê hy. En Samantha, die jongste, se geboorte in Januarie vanjaar het hulle weer breed laat glimlag. “Dit was moeilik, maar ons kon weer vreugde in die klein dingetjies vind.”

Davey Strydom
Tien dae ná klein Samantha se geboorte is Davey se vrou, Corné, dood. Foto: Verskaf/Lizel Snyman Photography

Selfs toe dokters vasstel Samantha het ’n gaatjie in haar hart, het dit die ouerpaar nie onder gekry nie.

“Dokters het vir ons gesê dit stel nie haar lewe in gevaar nie. Daarom, al was dit vir ons sleg dat ons kind siek is, het ons besluit om nie daaroor te tob nie,” vertel hy.

Maar op die aand van 17 Januarie – 10 dae ná Madison se geboorte – het Corné van hoofpyn begin kla. 

“Ons het om 19:00 daardie aand met haar na die hospitaal gejaag toe sy begin bloei het. Sy was erg duiselig en dokters moes ’n noodhisterektomie uitvoer in ’n poging om die bloeding te stop.” 

Die operasie was ’n sukses, het dokters aan ’n angstige Davey in die wagkamer van die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp gesê. Maar kort daarna het Corné weer begin bloei. “Hierdie keer het sy te veel bloed verloor en haar hart het gaan staan. Ek was daar toe sy ophou asemhaal het.” 

Davey Strydom
Samantha saam met ouma Rhoda in die hospitaal. Foto: Verskaf

Dit het hom geknak, sê Davey. “Ek was verbitterd teenoor God. Ek wou weet: Hoe kan soveel van my weggevat word? Ek het geweet ek moet sterk wees vir my kinders, maar ek het nie geweet hoe nie.” 

Terwyl hy nog in skok was oor die dood van sy vrou, het die jongste slag gewag: Baba Samantha het ’n erge longinfeksie opgedoen en haar regterlong het platgeval.

Die ergste, vertel Davey, was toe sy seun huilend aan hom vra: “Dadda, vat jy nou vir sussie ook hemel toe?” Davey huil. “Ek het sy sussie Dané na die hospitaal gevat, maar sy het nie teruggekom nie. En dieselfde met sy ma. Dit het my totaal gebreek.” 

Toe die dokters egter weer bel, was dit vir een genadige keer met goeie nuus: Samantha het herstel en kon huis toe kom. 

“Jis, ek het snot en trane gehuil,” erken die pa. “Jy verwag die ergste, maar dan is daar eindelik genade.” 

Davey Strydom
Hy is dalk nou ’n alleenpa, maar Madison (links), Samantha en Davey jr. is die middelpunt van sy bestaan, sê Davey. Foto: Verskaf/Lizel Snyman Photography

Nuwe moed ná die verlies

Deesdae sterk Samantha aan in ’n kamer van ’n gastehuis wat aan Rhoda Strydom, Davey se ma, op Klerksdorp behoort. Die kamer is behoorlik soos ’n hospitaalwaaksaal ingerig, vertel Davey.

Hy is aangeraai dat die kleinding wegbly van groepe mense en nie in aanraking kom met enige virusse of bakterieë terwyl sy aansterk van haar hartoperasie nie. ’n Suster sien na haar om.

Die kleinding lag wanneer haar “dadda” haar in sy arms hou, spog hy trots. Maar kan hy dit waag om weer te glimlag? Nes hy weer geluk wil proe, word hy opnuut herinner aan die verterende verlange na sy vrou en hul oorlede kind – en die lewe soos dit eens was.

“Die aande is die ergste. Bedags werk jy en jou kop is besig met honderd dinge. Maar saans sak daar hierdie wrede stilte toe . . . Wanneer ek alleen in die huis sit, met net my gedagtes as geselskap, vang dit my die ergste.”

Hy leef nou vir sy oorlewende kinders – al is dit ook nie altyd maklik nie. “Die drietjies is my vrou se asem. Ek sien haar in alles wat hulle doen en sê. Daarom, al is dit ook hoe moeilik, staan ek elke dag op – ek doen dit vir hulle én vir my vrou.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe