“Ek huil nou nog daaroor, maar as ek dit weer kan doen, sal ek. My kind se behoeftes sal altyd bo myne gestel word,” sê sy.

Haar 15-jarige dogter, Larochelle, het byna twee jaar lank vir ’n dringende nieroorplanting gewag nadat erge nierversaking op die ouderdom van 13 by haar gediagnoseer is. Sy het in daardie stadium slegs 5% nierfunksie gehad.

Maar in Oktober 2017 het Lisa besluit om haar eie lewe op die spel te sit om haar kind s’n te red, en een van haar eie niere aan Larochelle geskenk. Lisa moes 60 kg afskud voor sy die operasie kon ondergaan.

Nou is Lisa die siek een en moet Larochelle na haar ma omsien.

lisa steenberg,larochelle steenberg
Foto: Facebook

“Ek het so 'n paar maande terug swak begin voel. Met bloedtoetse was my bloeddruk baie hoog. Ek het dadelik geweet iets is fout.”

Lisa se nier kan nie optimaal funksioneer nie en daar is ’n kans dat sy nierversaking kan ontwikkel.

Volgens haar moet sy eers verdere toetse ondergaan om presies te weet wat die oorsaak is.

“Dit gaan baie goed met Larochelle. Sy is ’n gesonde tienermeisie en probeer my help en ondersteun waar sy kan.”

Larochelle Steenberg en haar ma, Lisa.

Maar daar is net soveel wat Larochelle vir haar kan doen.

“Ons het nie ’n mediese fonds nie en omdat die naaste staatshospitaal in Bloemfontein is, moet al die bloedtoetse by ’n privaat hospitaal geskied. Ek moet ook ’n streng dieet volg, maar die kossoorte is belaglik duur.”

Lisa gaan op 29 Mei weer vir toetse om te bepaal wat die presiese toestand van haar nier is.