Hulle moes soms gewonder het of hulle ooit uit die donkerte sou ontsnap. Tien dae lank het die 12 seuns en hul afrigter gebukkend gesit op die modderige rotslys in die grot, koud, bang en honger.

16
Soveel dae was die span in die grot voor die eerste vier seuns na veiligheid gebring is.

En toe, net toe dit sekerlik moes begin voel het asof hulp nooit sou opdaag nie, het ’n lig deur die donkerte gesny. Eindelik het iemand gekom.

Die wêreld het gejuig toe dit bekend word dat die Britse grotduikers Rick Stanton (56) en John Volanthen (47) die vermiste lede van die sokkerspan Moo Pa (wat wildevarke beteken) sowat 5 km binne die Tham Luang-grot in die noorde van Thailand gevind het.

Maar al was daar verligting dat die seuns, tussen die ouderdomme van 11 en 16 jaar, en hul 25-jarige afrigter lewend was, het ’n groot uitdaging op reddingswerkers gewag: Hoe om die verswakte, uitgeteerde groep, wat amper twee weke op reuseslakke en vuil water oorleef het nadat ’n kitsvloed hulle vasgekeer het, uit die grot te kry.

900 m
Dis hoe diep ondergronds die seuns vasgekeer was; net 200 m minder as die hoogte van Tafelberg.

Min van hulle kan swem, wat nog te sê onder water, en van die grottonnels was heeltemal oorstroom.

Terwyl die wêreld se oë op hulle gerig was, het meer as 1 000 reddingswerkers, onder wie kenners van sewe lande, op die toneel byeengekom vir die grootste grotreddingspoging tot dusver.

Selfs die ruimtemiljardêr Elon Musk het ’n span gestuur om hand by te sit.

Dis die uitdagendste reddingspoging sedert die San José-mynongeluk in 2010 toe 33 Chileense mynwerkers 69 dae lank 700 m ondergronds vasgekeer was.

Dit was selfs vir ervare duikers ’n uitdaging. Terwyl reddingswerkers gespook het om ’n plan op te stel, het ’n ramp toegeslaan toe ’n oudduiker van Thailand se spesiale magte, Saman Kunan (38), sterf nadat sy suurstoftenk tydens ’n duiksessie in die grot leeggeloop het.

Dit het die owerheid nog versigtiger gemaak. Terwyl duikers by die seuns in die grot agtergebly, hulle leer swem en hulle proteïenryke etes gegee het om hul kragte op te bou, het die owerheid tientalle nywerheidspompe ingebring in ’n poging om soveel water moontlik uit die tonnels te onttrek.

Hulle het gehoop as hulle genoeg kan uitpomp, sou die seuns bloot kon uitstap.

13 000
Dis hoeveel liter water per uur die nywerheids­pompe uit die grot onttrek het.

Maar met die moesonseisoen op pad het dit ’n wedloop teen die weer geword. Namate nog reën begin val het, kon reddingswerkers eenvoudig nie meer bekostig om te wag nie; hulle het geweet as die grot enigsins verder oorstroom, sou dit maande – tot ná die reënseisoen – duur om die seuns uit te kry.

Altesaam 35 dokters en medici was op die toneel toe ’n span van 18 duikers die grot invaar. Met hul eerste duiksessie het hulle daarop gekonsentreer om die vier siekste seuns te red – en dit was geen geringe taak nie, want 1 km van die reddingsroete was heeltemal oorstroom en om te duik was onvermydelik.

Die roete het ook ’n nou ruimte van slegs 38 cm wyd ingesluit, waardeur die groep hul moes wurm. Die vloedwater het so gestyg dat dele van die grot, wat amper 10 km tot in die berg strek, nie net heeltemal onderwater was nie, maar ook verstop was van die modder.

“Dis soos om deur koue koffie te swem,” het ’n reddingswerker opgemerk.

Maar met twee duikers wat aan elke seun toegewy was, was hulle in goeie hande. Toe hulle eindelik die oppervlak bereik, het elkeen van die duikers die seuns omhels.

11 uur
Dis hoe lank ervare duikers nodig gehad het om by die grot uit te kom waar die seuns vasgekeer was, en weer terug te keer.

Daarvandaan was dit ’n maklike entjie te voet na die bek van die grot, waar ambulanse gewag het om die seuns te neem na ’n hospitaal in Chiang Rai, die naaste groot stad, waar ’n hele vleuel vir hul versorging ingerig is.

Hoewel hulle ná die beproewing in ’n ernstige toestand was, was die seuns merkbaar verlig om uit die grot te wees. Toe hulle die volgende oggend wakker skrik, het hulle gevra vir pad kra pao vir ontbyt – ’n gewilde gereg van geurige basiliehoender en rys.

Intussen het die duikers wat hulle gered het, teruggegaan op hul spoor na die grot om die ander seuns in klein groepies te verwyder. Teen druktyd is altesaam agt van die 12 seuns suksesvol ontruim.

Dinsdag, 10 Julie, is al 12 die seuns en hul afrigter ontruim.


Sielkundige letsels

Maar terwyl die wêreld die redding gevier het, het talle gewonder hoe maklik dit vir die seuns sal wees om terug te keer na hul lewe. Dat hulle langer as twee weke in ’n grot vasgekeer was, moes tog diep sielkundige letsels gelaat het?

Van die Chileense mynwerkers ervaar selfs nou nog angswekkende terugflitse na die tyd toe hulle vasgekeer was.

“Daar sal op lang termyn dinge wees wat by hulle spook,” sê prof. Alexander McFarlane, hoof van die die Universiteit van Adelaide in Australië se sentrum vir traumatiesestresstudie.

“Wanneer hulle aan die risiko’s terugdink en hulle die donkerte onthou en hoe dit voel om vasgekeer te wees, kan dit uiterse angs veroorsaak. Selfs die gevoel van honger of dors wees kan hulle weer kwel en vreesbevange maak oor waar hulle was,” sê hy.

Tog meen ander kenners kinders is dikwels veerkragtiger as volwassenes. Daar was ’n sterk gevoel van kameraadskap in die grot tussen die seuns. Hulle was blykbaar in ’n goeie gemoedstemming. Eindelik kan dit hulle dalk help om gouer weer hul voete te vind.

Kenners meen dis danksy hul afrigter, Ekapol Chanthawong (25), dat die stemming so goed was. Dit was hy wat hulle ná ’n sokkeroefening na die grot vergesel  en die kennisgewing geïgnoreer het wat hulle gewaarsku het om uit te bly weens die risiko van oorstroming.

Toe die water styg en hulle vasgekeer word, het hy geweet die seuns se lewe is in sy hande. En toe hulp eindelik opdaag, het hy daarop aangedring om ’n brief saam met vlootduikers terug te stuur waarin hy hul ouers verskoning vra.

“Ek belowe ek sal so goed moontlik na die kinders omsien,” het hy geskryf.

“Ek wil dankie sê vir al die ondersteuning en ek wil vir die ouers sê ek is jammer.”

Die 12 seuns tussen die ouderdomme van 11 en 16 was 10 dae lank op ’n lys in ’n stik­donker grot vasgevang voor hulp eindelik opgedaag het.

Die afrigter, wat glo op 10 wees gelaat is, het ’n hegte verhouding met van die seuns gehad en het hulle glo in die grot leer mediteer om hulle deur die beproewing te help.

Alexander sê die beste ding wat medici kan doen vir die seuns wat gesond is, is om hulle so vinnig moontlik by hul gesin uit te kry.

“Hulle moet net veilig voel en met hul ouers herenig word. Hulle moet weet alles is in die haak,” sê hy.

Pheeraphat Sompiengjai se familie weet presies hoe om hom op te beur.

Die seun met die bynaam wat “nag” beteken, het die grot op sy 16de verjaardag binnegegaan. Toe hy op die uitstappie vertrek, was sy suster, Phunphatsa, besig met die afrondingsversiering aan ’n SpongeBob SquarePants-koek. Dis sy geliefkoosde strokieskarakter en sy het geweet hy sou in die wolke daaroor wees.

Die beloofde koek vir Pheeraphat Sompiengjal wat tuis op hom wag. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar toe hy nie terugkeer huis toe nie, het sy geweier om hoop te verloor – selfs toe sy sokkertoerusting gevind is en dit duidelik geword het wat met hom gebeur het.

“Die koek is in die yskas,” het sy vertel toe die reddingspoging aan die gang was. “Ek’t dit gehou om hom te verras.”

Twitter reageer


BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, CNN.COM, TENDAILY.COM.AU,THE WASHINGTON POST