Die reddingsdrama waarin die vaardigste grotduikers – een het in die proses sy lewe opgeoffer – die vasgekeerdes deur lang, nou tonnels na veiligheid gebring het, het mense oraloor vasgenael gehou.

Hier is nog reddingspogings wat die wêreld se verbeelding aangegryp het:

Jessica, die 'putbaba'

Sy was met modder oortrek en plek-plek in verbande toegedraai toe sy in 1987 ná twee en 'n half dae waarin sy onder in 'n verlate waterput in Texas vasgekeer was, oplaas in 'n reddingswerker se arms te voorskyn kom. Maar die 18 maande ou Jessica McClure was grootliks ongeskonde . . . en derduisende TV-kykers – CNN het die hele drama verfilm – kon weer asemhaal.

Honderde olieboorwerkers van die omgewing het saamgespan om die kind te red. Sy het deur 'n opening van net 20 cm in die put in haar tannie se agterplaas afgetuimel toe haar ma, Reba, vinnig die telefoon wou gaan antwoord.

"Wêreldwyd het mense die gebeure in Midland, Texas, dopgehou . . . en as hulle nie soms ’n traan gestort het nie, het hulle nie 'n hart nie," het James Shaw, wat die boor wat in die reddingspoging gebruik is, beheer het, destyds laat hoor. "Ek weet daar was trane in my oë, en ek’s nie skaam om dit te erken nie."

Die reddingspan het met 'n sogenaamde rathole-rig – 'n masjien vir die plant van telefoonpale – 'n gat van sowat drie verdiepings diep parallel met die put geboor en toe 'n verbindingstonnel na die put, sowat 50 cm onderkant die vasgekeerde baba.

Jessica het nie net sonder enige ernstige beserings oorleef nie – met haar 25ste verjaardag het sy boonop 'n trustfonds van $800 000 ontvang wat Amerikaanse TV-kykers vir haar geskep het.

Chili-mynongeluk – 'Die 33' in kapsule na veiligheid

Dit was nie net die Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika wat in 2010 die wêreld geboei het nie. Dié grootse reddingspoging, waarin 'n begeesterde span onder leiding van pres. Sebastián Piñera alles in die stryd gewerp het om die "onmoontlike" te vermag, het omtrent ewe veel aandag getrek.

Ná meer as twee maande waarin die sogenaamde Los 33 ("Die 33") meer as 600 m onder die grond vasgekeer was, is hulle in 'n rooi-wit-en-blou kapsule (die nasionale kleure) deur 'n skag wat met ongekende vernuf en deursettingsvermoë geboor is, na veiligheid gehys.

Terwyl dié reddingskag geboor is, is hulle met kos, drinkgoed, medisyne en ander hulpmiddels wat deur 'n veel nouer 'gidstonnel' laat sak is, aan die lewe gehou.

Een van die 33, Juan Illanes, het nog sy kapsulereis na vryheid 'n "plesiervaart" genoem.

'n Wonderwerk te midde van die Haïti-ramp

Darlene Etienne (toe 16) was begin 2010 met huiswerk in 'n familielid se huis teen 'n heuwel besig toe die katastrofiese aardbewing van 7,0 op die Richter-skaal die eilandstaat tref.

Die hele gebou het inmekaargestort en sy is onder al die puin vasgevang.

Meer as twee weke later het 'n verbyganger 'n sagte gekreun uit die puinhoop gehoor. Franse reddingswerkers het binne ure 'n tonnel tot by die bron van die geluide gegrawe en Darlene aangetref waar sy, oortrek met wit stof en met diep versonke oë, onder 'n stuk metaal vasgepen was.

Maar buiten 'n gebreekte been en uiteraard erge ontwatering, het sy wonderbaarlik nie ander ernstige beserings gehad nie. Sy sou later vertel dat sy heeltyd wakker en by haar positiewe was, en hoe lank sy vergeefs om hulp geroep het.

Dolfyn gryp in toe mense misluk

'n Groep reddingswerkers wat 'n walvis en haar kalf wat op 'n sandbank in Nieu-Seeland gestrand geraak het, probeer help het, wou al tou opgooi toe 'n vriendelik bottelneusdolfyn in 2008 op die toneel verskyn.

Nadat al hul pogings misluk het, was die span op die punt om die twee diere met 'n genadedood uit hul lyding te verlos, toe Moko opdaag.

Die dolfyn het blykbaar op 'n manier met die walvisse gekommunikeer: Terwyl die mense hulle ure lank vergeefs in die regte rigting probeer aanpor het, het Moko binne minute sy boodskap oorgedra en die ma en haar kalf na 'n kanaal van 180 m gelei waardeur hulle na vryheid kon swem.

Moko, wat daarna gereeld na die betrokke strand teruggekeer en soms saam met baaiers geswem het, is ongelukkig twee jaar later dood.

Bronne: history.com, Reuters, Wikipedia, YouTube