Oral hou kykers asem op. Wie gaan hy kies? Is hy al verlief?

Wanneer hy saam met die hele groep sexy vroue op ’n afspraak gaan, hou jy fyn dop watter een van die deelnemers hom die meeste laat lag, sy gesig laat ophelder of skaamteloos om sy aandag wedywer.

Soms vertel die vroue tranerig hoe hulle hul hart op die hubare man verloor het. En meestal wroeg die einste hubare man (gewoonlik met ’n asemrowende uitsig of reusehuis op die agtergrond) oor watter vroue hy eindelik huis toe moet stuur en watter een hy aan die einde dalk die jawoord wil vra.

Ja, jy het reg gelees. Dié maatsoekwerklikheidsreeks loop dikwels uit op ’n huweliksaanbod.

Suid-Afrikaners kon al jare lank die drama van die Amerikaanse weergawe van die reeks aanskou, maar vir die eerste keer sal dié bekende televisiereeks ook ’n plaaslike geur hê.

Die Suid-Afrikaanse weergawe van The Bachelor sal binnekort op M-Net (DStv-kanaal 101) te sien wees, het Jan du Plessis, M-Net se kanaldirekteur, Donderdagoggend in ’n verklaring bekendgemaak.

Die eerste episode van die nuwe reeks, The Bachelor South Africa, sal na verwagting vanaf 14 Februarie volgende jaar uitgesaai word - en dit op Valentynsdag.

Hoe werk dit?

Tydens die reeks kry ’n enkellopende man kans om 25 vroue te ontmoet en saam met hulle tyd deur te bring in die hoop om ware liefde te vind. Die groep neem aan verskillende aktiwiteite deel en soms kry kleiner groepies uitgesoekte vroue kans om saam met die hubare vrygesel op uitstappies te gaan. En soms neem hy ’n enkele vrou uit op ’n romantiese afspraak om haar beter te leer ken.

Aan die einde van 'n episode moet die man tydens 'n "roos-seremonie" rose uitdeel aan die deelnemers wat hy graag beter wil leer ken en wat steeds in die kompetisie moet aanbly. Die vroue wat nie rose kry nie, se deelname aan die werklikheidsreeks kom tot 'n einde en hulle gaan terug huis toe. So raak die vroue wat aan die reeks deelneem ook stelselmatig minder, tot net een oorbly.

Hoewel dit nog nie bekend is wie Suid-Afrika se eerste "bachelor" gaan wees nie, is die vervaardigers opsoek na 25 belangstellende vroue om in te skryf vir die splinternuwe reeks.

Maar hoe gemaak as jy aan die program wil deelneem?

•    Jy moet ouer as 21 jaar wees.
•    Jy moet ongetroud of wettig geskei wees.
•    Jy moet ook die bepalings en voorwaardes op M-Net se webblad gaan lees en instem om deel te neem aan die program.
•    Jy sal op die webblad ’n kort inskrywingsvorm moet invul.
•    Jy moet twee foto’s van jouself verskaf.
•    Jy sal tussen 6 Oktober en 25 November beskikbaar moet wees vir die verfilming van die program.

Het jy geweet?
•    Daar is al 22 seisoene van The Bachelor in Amerika vervaardig.
•    Meer as 30 lande het die reeks se lisensie bekom om plaaslike weergawes te vervaardig.
•    Daar het ook al ander weergawes van die program uit die hoofreeks gespruit, soos The Bachelorette, Bachelor in Paradise en Bachelor Winter Games.
•    Sowat 19 paartjies, wat mekaar in die verskillende weergawes van die reeks ontmoet het, is nog saam, berig die vermaakwebtuiste Popsugar.com.
•    Verlede jaar was die program die gewildste televisieprogram in 10 verskillende lande, onder meer in Kanada, Duitsland, Swede, Nieu-Seeland, Rusland en Switserland.

Die mees onlangse Amerikaanse seisoen van The Bachelor het kykers aan die praat gehad toe Arie Luyendyk jr. (36) ene Becca Kufrin (28) vra om sy vrou te word. Kort daarna – sowaar nog in dieselfde episode – het hy die verlowing verbreek en erken dat hy eintlik verlief is op een van die ander deelnemers, Lauren Burnham (26). Op die ou einde het Arie vir Lauren tydens die reünie-episode gevra om te trou. En volgens Arie se Instagram-blad lyk dit asof hul liefde tot dusver seepglad verloop. Die paartjie beplan glo om volgende jaar af te haak.

My heart ??

A post shared by Arie Luyendyk ?? (@ariejr) on



Inskrywings vir Suid-Afrikaanse deelnemers sluit op 20 Augustus.