Sy het onlangs in ’n innige plasing op Facebook oor die geestesgesondheidsteuring gepraat wat haar teister sedert sy ’n tiener was. 

Die 26-jarige vrou skryf sy het in die kerk grootgeword, was altyd deur godsdienstige figure omring en het ’n Christelike skool bygewoon. 

Maar min mense het geweet agter haar glimlag was baie pyn.  

“Ek onthou ek is van gr. 7 deur donker gedagtes van selfdood geteister wat tot selfverminking gelei het,” skryf sy. 

“Dae in die huis het gewissel van lag en dans tot ander van honger, angs en skynbaar eindelose beproewing.” 

Ek onthou ek is van gr. 7 deur donker gedagtes van selfdood geteister wat tot selfverminking gelei het.

Depressie het haar deur hoërskool en die Universiteit van Pretoria agtervolg, waar sy aanvanklik in 2010 ingeskryf het om sielkunde te studeer. Dit was die jaar voor haar ma as die land se openbare beskermer aangestel is.  

“Ek het min kennis gehad van die vrees, smart, eensaamheid en afsondering wat die verandering in ons lewe sou bring,” sê sy. 

“Ek het my gewend tot onophoudelike partytjies en enigiets wat die stilte binne-in my sou vul. Rook en drink was nooit ’n vreemdeling vir my nie.” 

Wenzile het haar studie opgeskop en ’n verhouding aangeknoop waarin sy emosioneel en liggaamlik mishandel is, “waarin ek gebly het asof ek myself wou beskut van die afsondering wat die nuwe wêreld in die openbare oog meegebring het”. 

Twee jaar en drie selfdoodpogings later het sy eindelik daaruit ontsnap, vertel sy. 

“Ek het huis toe gegaan om van nuuts af te begin.” 

Dis toe dat sy besluit om in die regte te studeer en haar man, Khulekile Msimanga, ontmoet het. 

“In dié tyd het God naby gevoel in tye van vreugde, maar ver in swaarkry. My familie het doodsdreigemente gekry, was die slagoffer van leuens en propaganda.” 

Ek wou sterk wees, maar was stukkend.

Sy sê dis toe dat haar “ou vriend, depressie," weer kop uitgesteek het en dié keer het sy in dagga troos gevind. 

“Dit het my laat goed voel en uit die werklikheid van die harde wêreld verwyder.” 

In 2015 het sy die nuus gehaal toe sy by die Economic Freedom Fighters aangesluit het en by die Universiteit van Pretoria tot sekretaris van die organisasie verkies is. 

Sy het haar in maatskaplike geregtigheid verdiep. 

“Hoe meer my hart aan my party veranker was, hoe meer onreg het ek ervaar, van werkers wat net sowel kleingeld betaal kon gewees het en studente wat in die skadu van die nag op kampus gebly het omdat hulle nie 'n huis het nie.”  

Haar stryd teen die onreg op kampus het haar diep geraak. 

“Ek wou sterk wees, maar was stukkend,” sê sy.

Maar Wenzile het nooit ophou bid nie, maak nie saak wat oor haar pad gekom het nie.  

“Selfs wanneer ek nie my gebede geglo het nie, het ek gebid en het God my gehoor.” 

Sy is steeds op 'n pad van genesing.  

Wenzile is dankbaar teenoor God vir haar man wat haar "soos ’n koningin behandel”, hul baba en die krag om oor depressie te praat. 

“Vandag streef ek steeds my studie in die regte na en vat dinge dag vir dag.” 

Sy glo God se liefde en genade het haar so ver gebring.  

“Sy liefde en genade vervolmaak die onvolmaakthede in my lewe.” 

In ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot in 2015 het sy erken sy ervaar druk omdat sy die dogter van die voormalige openbare beskermer is. 

“Daar is die ding dat my ma ’n prokureur en ’n openbare figuur is; dus: 'Wat gaan jy doen en hoe gaan jy uitblink?’ ”

Thuli het toe gesê sy vrees haar dogter gaan onbewustelik te veel druk op haarself plaas. 

“Ek probeer net seker maak sy weet sy hoef nie uit te blink om my tevrede te stel nie,” het Thuli destyds gesê. “Sy moet net haar lewe lei so goed as wat sy kan.”