Sy het Nong Ying (17), geklee in ’n swart T-hemp en jeans, langs haar bed aangetref. Boonpeng het eers gedink sy slaap net en het haar dogter in haar arms geneem om haar wakker te maak. Dis toe dat sy sélf ’n geringe elektriese skok opgedoen het. Boonpeng het dadelik die huis se krag afgeskakel, maar dit was te laat vir Nong.

Nong is doodgeskok terwyl sy op haar selfoon besig was wat in ’n verlengkoord ingeprop was om te herlaai. Maar die verlengkoord het al beter tye geken en was uitgerafel. Sy het dit op haar manier probeer herstel deur kleefband verskeie kere om die uitgerafelde deel van die koord te draai.

Volgens die Thaise nuusdiens Thai Rath, is Nong gevind met haar wysvinger en duim nog steeds op haar selfoon. Daar was brandwonde op albei vingers en ook aan die regterkant van haar liggaam.

Tekens van ’n elektriese stroom is ook op die metaalpote van die bed gevind. Die polsiehoof van Chaiyaphum, Khantipian Soongern, het gesê Nong is doodgeskok toe sy aan die metaalraam van die bed geraak het.

Nog ’n faktor wat moontlik ’n rol in Nong se dood gespeel het, is dat daar klammigheid op die vloer was as gevolg van reën deur die loop van die dag.

Verlengkoord-veiligheid
  • Koop slegs ’n verlengkoord wat deur ’n onafhanklike toetslaboratorium goedgekeur is.
  • Moenie binnenshuise verlengkoorde vir buitenshuise gebruik aanwend nie.
  • Vermy water wanneer jy met verlengkoorde werk.
  • Moenie die koord deur ’n muur, plafon of onder ’n vloer of matte plaas nie — dit hou ’n brandrisiko in.
  • Vermy die inprop van verskeie elektriese toebehore terselfdertyd in een verlengkoord. Gebruik slegs een item per koord.
  • Moenie verlengkoorde buig of oprol wanneer dit in gebruik is nie.
  • Voel die verlengkoord warm? Hou dadelik op om dit te gebruik
  • Prop verlengkoorde uit wanneer dit nie in gebruik is nie.
  • Trek die prop, nie die koord nie, wanneer jy dit uit die kragprop haal.
  • Gooi beskadidgde verlengkoorde dadelik weg. Jy kan ’n elektriese skok of brand opdoen deur aan net neen enkele blootgestelde draadjie te raak.

Bronne: statefarm.com, esfi.org, dli.pa.gov, thairath.co.tha, samuitimes.com, dailymail.co.uk