Dr. Ridwan Mia by Pippie en haar ma, Anicè op 11 S
Dr. Ridwan Mia by Pippie en haar ma, Anicè op 11 September 2013. Foto: Lubabalo Lesolle

Pippie Kruger, nou 12, is in 2011 erg vermink nadat ’n bottel vuuraansteekjel tydens ’n Oujaarsaand-braai op die gesin se plaas naby Lephalale in Limpopo ontplof het. 

Pippie is Vrydag met dr. Ridwan Mia herenig wat voorheen die veloorplanting op haar uitgevoer het.

Dié keer om ’n prosedure te ondergaan om die vel in haar nek te help ontspan. 

Anicè Kruger, Pippie se ma, vertel: “Die vel in haar nek het so styf begin span dat sy nie haar nek kon beweeg nie. Dr. Mia moes ’n Z-plastiek- prosedure uitvoer.”

Sy verduidelik die dokter moes tydens dié prosedure klein snye in die vorm van ’n ‘z’ in haar nek maak om die weefsel te laat ontspan.

Klein Pippie het destyds met die ongeluk ernstige derdegraadse wonde oor 80% van haar lyf opgedoen. 

Tydens ’n baanbreker-veloorplanting destyds is van haar eie gekloonde vel op haar wonde oorgeplant. Sy het sedertdien oor die 60 operasies ondergaan en rehabilitasie ontvang – en toe nou nóg een.

Pippie en haar ma, Anicè Kruger, op die vooraand v
Pippie en haar ma, Anicè Kruger, op die vooraand van Pippie se 10de verjaardag. Foto: Corrie Hansen

“Die prosedure het goed verloop. Sy was twee uur onder narkose en was daarna in baie pyn, maar sy herstel nou goed,” vertel Anicè.

Pippie het ook botoks-inspuitings ontvang om haar spiere te laat verslap.  

“Dit gaan baie goed met Pippie,” vertel sy. 

Volgens haar het die jong meisie se lyf ook nou soos enige jong tiener begin verander. 

“Dokters het gesê sy sal nooit soos enige vrou borste kan ontwikkel nie, maar ek het eendag ’n knop op haar bors ontdek en was baie bekommerd. Die dokter stel my toe gerus dat sy net besig is om deur die gewone stadium van puberteit te gaan.”  

Sy sê Pippie begin nou ’n regte tienermeisie word.

“Sy het maar soos enige tiener haar nukke, maar sy bly steeds die pragtigste en vriendelikste dogtertjie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe