Tiener vergiftig stiefpa met pasta; wurg sy ma

akkreditasie
Toe die seun aanbied om aandete te maak, het sy ma nie besef moord is op die spyskaart nie.

Dis genoeg om enige ouerhart week te maak: 'n tienerseun wat aanbied om spesiaal vir sy ma en stiefpa pasta te kook. 

Maar die huislike toneeltjie in die Italiaanse dorp Casalecchio di Reno het gou ontaard in iets uit ’n gruwelfliek wat mense oor die wêreld heen sou skok.

Daar was glo gif in die pasta wat Alessandro Leon Asoli (19) aan sy ma en stiefpa voorgesit het. En toe sy plan nie so gou werk soos hy gehoop het nie, het dit ’n lang aand van verskrikking geword . . . 

Plaaslike media berig die tiener het ’n spesifieke preserveermiddel aanlyn gekoop en in die pasta gegooi. Daarna het hy gekyk hoe sy stiefpa, Loreno Grimaldi (57), en sy ma (66), slegs bekend as MM, begin eet. 

Alessandro Leon Asoli
Alessandro Leon Asoli word daarvan beskuldig dat hy sy stiefpa vergiftig en sy ma wou verwurg het. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Dié middel word gewoonlik gebruik om vleis te preserveer en is skadeloos in klein dosisse, maar kan dodelik wees in groter hoeveelhede.

Volgens MM se vertelling het haar man dadelik siek geword nadat hy al sy pasta geëet het. Sy self het egter net ’n paar happies gehad, omdat die kos vir haar te souterig gesmaak het. 

Loreno het besluit om op die rusbank te gaan lê tot hy beter voel. Dis toe dat Alessandro glo ontsteld raak en vir sy ma sê: “Ek kan nie eens aandete voorberei nie! Jy’s reg as jy sê dat ek ’n mislukking is.”

Die ma en seun is na die tiener se kamer waar sy hom wou troos. Sy beweer Alessandro het sy musiek toe kliphard aangesit. Sy glo nou dit was om die sterwende Loreno se pynkrete uit te doof. 

“Hy (Alessandro) het vir my ’n drukkie gegee en gevra dat ek by hom bly. Ek het nogal gedink dis vreemd dat hy skielik so liefdevol is,” vertel MM. 

Loreno Grimaldi (57) en sy vrou (66), wat net as M
Loreno Grimaldi (57) en sy vrou (66), wat net as MM geïdentifiseer is. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Toe ek vir hom sê ek wil gaan kyk hoe dit met Loreno gaan, het hy my aan die nek gegryp en my probeer verwurg. Hy het geskree: ‘Nie eens gif kan jou doodmaak nie!’” vertel sy.

Die tiener het egter opgehou en gevlug toe bekommerde bure, wat die rumoer gehoor het, kom ondersoek instel het. Loreno was reeds dood, maar MM is na die Maggiore de Bolonia-hospitaal geneem. Sy het later ook siek geword van die gedokterde pasta en word steeds behandel, maar is buite gevaar. 

Die polisie het Alessandro dieselfde nag by sy grootouers se huis vasgetrek. Hy het glo erken hy het die preserveermiddel gekoop, maar het beweer dit was om sy eie lewe te neem.

“Ek is mal en wil myself doodmaak," was glo sy woorde.

Die woonstelblok waar die voorval plaasgevind het.
Die woonstelblok waar die voorval plaasgevind het. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die plaaslike media berig Alessandro was ’n maand voor die gruwelnag in ’n motorongeluk betrokke. Hy het dit glo self veroorsaak omdat hy sy eie lewe probeer neem het.

Hy is tans in aanhouding terwyl klagte van moord en poging tot moord teen hom ondersoek word. Hy word voltyds gemonitor omdat hy as ’n hoërisiko-geval vir selfmoord beskou word. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe


Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees