Chanté Volkwyn (17), matrikulant aan die Sekondêre Skool Saxonsea, Atlantis

Chanté Volkwyn Foto: Verskaf

Om ’n tiener in 2018 te wees is vir haar “baie moeilik”, veral weens boelies met selfone.

“As gevolg van die internet word jou selfbeeld met die druk van ’n send-knoppie binne sekondes afgebreek. Jy word verneder en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.”

Dit kan lei tot depressie en selfdood, sê Chanté. “Ouers moet besef tieners se lewe is deesdae baie anders as 10 jaar gelede; daar is meer druk en probleme.”

Sy hanteer dit deur na musiek te luister en volg haar ma se raad. “Ek vra haar mening oor elke besluit.”

Chanté wil ná skool medies studeer.

Marco van Staden (18), matrikulant aan die Helpmekaar Kollege, Johannesburg

Marco van Staden Foto: Verskaf

“Ons grootste uitdaging is om onsself te vind en te wees,” sê Marco.

“Leerders wat prestasiegedrewe is, het ’n aggressiewe, mededingende aard in skole aangeleer, wat die welstand van kinders nadelig beïnvloed – fisiek sowel as emosioneel.”

Hy gesels graag met sy gesin en vriende oor die moeilike en ongelukkige tye in sy lewe. “Dit help om my op positiewe dinge gefokus te hou.”

Hy wil ná matriek ’n graad in rekeningkunde voltooi.

JG Marais (18), matrikulant aan die Hoërskool Oudtshoorn

JG Marais Foto: Verskaf

Volwassenes moet minder swartgallig wees, meen JG.

“Hoe kan ouers wil hê hul kind moet suksesvol wees, maar die ouers is negatief oor die toekoms waarin hul kind moet leef?”

Volwassenes moenie tieners aansê om hul naaste lief te hê en dan rassisties teenoor ander optree nie, sê hy. “Help ons liewer om ons energie positief te gebruik.”

Hy wil ná skool meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

En sy lewensfilosofie? “Om ’n gelukkige mens te wees, is dit baie belangrik dat ’n mens ’n gebalanseerde lewe het.”

Joedy Pietersen (17), gr. 10-leerder aan die Sekondêre Skool Brentpark, Kroonstad

Joedy Pietersen Foto: Verskaf

Joedy se seksuele identiteit is wie hy is en hy is trots daarop; tog is dit vir talle rondom hom ’n kwessie.

“Maar ek het geleer om nie mense se woorde kop toe te vat nie, want as jy gelukkig is met jouself, kan jy alles in jou lewe bereik.”

Dit sou dit vir hom makliker gemaak het as daar mense in sy familie was wat hom aanvaar en ondersteun het vir wie hy is, sê hy.

“Dan sou dit vir my ook makliker gewees het as ek geweet het ek het mense wat agter my staan en my ondersteun. Die belangrikste is om te luister na mense wat ’n positiewe bydrae tot jou lewe lewer.”

Bianca Smith (16), gr. 11-leerder aan die Hoërskool Bellville

Bianca Smith Foto: Verskaf

Dit is soms ’n groot uitdaging om goeie punte op skool te behaal, sê Bianca. “Saam met hierdie uitdaging kom hoë stresvlakke.

"As tiener is dit ook ’n uitdaging om met jou ouers te probeer kommunikeer. Hulle verstaan nie altyd die uitdagings wat jou as tiener in die gesig staar nie.”

Daar word ook deesdae baie meer druk op tieners geplaas om perfek in die sosiale media te wees, sê sy.

“Maar ek steur my nie aan wat die media sê oor hoe ek moet leef nie.” Sy meen dis belangrik om nie die lewe te ernstig op te neem nie, “want in ’n oogwink kan dit alles verby wees”.

Jasper Richter (18), matrikulant aan Grey-kollege in Bloemfontein

Jasper Richter Foto: Verskaf

Groepsdruk is ’n groot uitdaging vir Jasper, veral wat rook en drink betref.

“Dit is ’n baie moeilike keuse om nie drank te gebruik of te rook nie weens al die groepsdruk in tieners se lewe.”

Tog meen hy dis wel moontlik om die versoeking te weerstaan. “Dit is net ’n probleem as jy dit vir jouself moeilik maak,” sê hy.

“Die maklikste manier om sulke probleme te hanteer is om met goeie vriende te praat. En onthou om nie die gewilde besluit te neem nie, maar die regte een.”

Ané Havenga (18), matrikulant aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch

Ané Havenga. Foto: Verskaf.

Die samelewing stel deesdae te hoë eise aan tieners, meen Ané.

“Ons kurrikulum is propvol werk, terwyl van ons verwag word om op die sportveld of verhoog te presteer. Tieners sukkel met tydsbestuur en prioritisering.”

Gelukkig verstaan haar ouers haar doelwitte en sien hulle dat “ek my uiterse bes in alles doen. Dit help my besef nie alles in die lewe gaan oor prestasie nie; werketiek is ook belangrik.”

En haar raad aan medetieners? “Wees net jouself.”

Ané wil ná haar matriekjaar in die regte studeer.

Megan Abrahams (17), gr. 11-leerder aan die Hoërskool Suid-Skiereiland in Grassy Park

Megan Abrahams Foto: Verskaf

Sy soek ’n bietjie meer vryheid noudat sy 18 jaar oud word, sê Megan.

“Ek is oud genoeg om my eie foute te maak, maar volwassenes kritiseer sommige van my besluite omdat hulle dit anders ervaar het.

"Dinge soos Instagram en Facebook maak dit makliker om tieners in die openbare oog te verneder en te teister. Die sosiale media stel ’n mens ook bloot aan euwels, soos dwelms, en stel ’n slegte voorbeeld aan tienermeisies van hoe hulle moet lyk of aantrek.”

Kies jou vriende versigtig, is haar raad, en probeer om altyd openlik met jou ouers te wees; moet nooit vir hulle lieg nie.

Fred Solomons (17), matrikulant aan die Hoërskool Stellenbosch

Fred Solomons Foto: Verskaf

Misdaad, dwelmmisbruik, groepsdruk en sommige tieners wat geen toekomsvisie het nie – dis wat Fred daagliks onder sy portuurgroep sien.

“Dit is soms baie moeilik (om staande te bly), maar gelukkig beweeg ek in ’n vriendekring wat nie in rook of drink belangstel nie.

"Dit help ook om jou met positiewe vriende te omring. Ek het ook ’n paar ouer vriende wat my baie goeie leiding gee en my belange op die hart dra.”

En tieners moenie bang wees om hulp te vra nie, sê Fred. “Dit is hoe ’n mens leer.”

Hy droom daarvan om eendag as professionele motorwerktuigkundige te werk.