EG Jansen
Nooddienste op die toneel. Foto: Netcare911/Verskaf

’n Tienerseun van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg aan die Johannesburgse Oos-Rand is steeds in die hospitaal ná ’n voorval waartydens ’n swaar konstruksievoertuigband op hom beland het.

Tristan Jansen van Vuuren (14), ’n gr. 9-leerder aan dié hoërskool, is Maandagmiddag met ’n lugambulans na ’n hospitaal in Alberton, Gauteng, geneem, sê L.F. de Beer, die skoolhoof.

Luidens ’n verklaring van die Netcare911-nooddienste het ’n groep vriende glo met die band, wat so swaar as 400 kg kan weeg, gespeel voordat dit “onstabiel geraak” en op die 14-jarige beland het. Dis onduidelik of Tristan deel van dié groep was en of hy bloot ’n toeskouer was. 

L.F. het dié voorval as ’n fratsongeluk beskryf. 

“Hy is beseer nadat ’n swaar band op hom geval het,” sê L.F. in 'n video wat intussen op die skool se amptelike Facebook-blad gedeel is. “’n Personeellid was dadelik teenwoordig gewees.” 

Die skool wou nie uitbrei oor die aard van Tristan se beserings nie, maar het bevestig hy is op die skoolterrein gestabiliseer voordat hy na die hospitaal geneem is.

“Daar is gisteraand ’n operasie op hom uitgevoer,” sê L.F. “Vanoggend is aan my berig dat dit onder omstandighede goed gaan met Tristan en dat sy toestand stabiel is.” 

Die skool het by verdere navraag van Huisgenoot laat weet dat meer inligting nie nou bekend gemaak sal word nie. 

EG Jansen
Tristan Jansen van Vuuren (14) is beseer nadat 'n swaar vragmotorband in 'n “fratsongeluk” op hom beland het. Foto: Netcare911/Verskaf

Tristan se ouers het by monde van Chrizanne Pretorius, die skool se hoof van bemarking, gevra vir privaatheid oor die aangeleentheid. Ook hulle wou nie verdere onderhoude toestaan nie.

“Ons gaan nie ’n amptelike verklaring in die verband uitreik nie,” sê Chrizanne. “Mnr. de Beer sal die nodige inligting en medelye in die video uitreik.”

L.F. sê dis vir hom belangrik om ook die nooddienste te bedank vir hulle “vinnige optrede.” Hy het ook gevra vir gebede vir Tristan se herstel. 

“Ek glo dat Tristan nog lank in die hospitaal gaan wees,” sê L.F. ten slotte. “Maar ons dink aan hom en ons hoop dat hy vinnig weer terug by die skool sal wees.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe