Die blondekop-tienjarige, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, het op Maandag 5 November huilend in die Chippewa-distrikshof in die Amerikaanse deelstaat Wisconsin verskyn en is van moord met voorbedagte rade op ’n ses maande oue seun aangekla. Sy is in boeie weggelei.

Die meisie, wat vroeër dié maand in pleegsorg geplaas is, het na bewering die baba laat val en paniekerig geraak toe hy begin huil, het distriksprokureur Wade Newell vir die hof gesê.

“Sy beweer sy het die kind vasgehou en dis toe dat sy hom laat val het,” sê Newell.

“Die kind het sy kop teen die voetstoel gekap en toe begin huil. Sy het paniekerig geraak en nie geweet wat om te doen nie, en sy wou nie in die moeilikheid kom nie. Sy het toe op die baba se kop getrap.”

Volgens Amber Sweeney, die dagversorger, was daar benewens die 10-jarige ook twee tweejariges, 'n sesjarige en Amber by die huis toe die voorval plaasgevind het.

Sy het na bewering die baba omstreeks 15:00 vir sy middagslapie neergesit. Die sesjarige en die 10-jarige het ongeveer 15:40 met die bus tuisgekom van skool. Volgens Amber was die kinders in en om die huis en het sy hulle versoek om buite te speel terwyl die baba nog slaap.

Die 10-jarige het egter nie buite gespeel nie en Amber het haar by die kombuisvenster sien sit.

“Later die middag van 30 Oktober het die polisiekantoor ’n noodoproep ontvang van iemand wat gesê het 'n ses maand oue baba in haar sorg se kop is aan die bloei,” het sheriff Jim Kowalczyk tydens 'n mediakonferensie bekendgemaak.

Die seun is per lugambulans na die St. Paul’s-hospitaal gebring waar dokters wat in kindermishandelingsgevalle spesialiseer, ook aan die polisie gesê het die baba se beserings stem ooreen met mishandeling en nie ’n ongeluk nie.

Die baba het die volgende dag gesterf en daar word nog op die uitslae van die nadoodse ondersoek gewag om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel.

Die meisie, wat deur haar biologiese ouers vergesel is, was ten tyde van haar verskyning in die hof in ’n gestreepte romp en donker baadjie met 'n kappietop geklee. Sy het deurentyd haar ma se arm vasgeklem.

Haar borgtog is op sowat R700 000 vasgestel.

Hoewel haar biologiese ouers saam met haar in die hof verskyn het, was die meisie glo tydens die voorval saam met haar pleegouers, wat die dagsorg bestuur.

Tweede tragedie tref die Chippewa-gemeenskap

Colten Treu (21) is Maandag op borgtog van R3,54 miljoen vrygelaat nadat vier mense Saterdag gesterf het toe hy hulle met sy Ford F-150-bakkie tref. Treu en sy passasier het glo doelbewus die een of ander chemiese stof ingeasem ('vaping') kort voor die ongeluk. Hy sal ook van bestuur onder die invloed aangekla word.

Drie van die vier oorledenes was lede van die Girl Scouts: Jayna Kelley (9), Autum Helgeson (10), Halee Hickle (10) en haar ma, Sara Jo Schneider (32). Nog ’n 10-jarige is in die hospitaal en sover bekend verkeer sy in ’n bestendige toestand.

Bronne: washingtonpost.com, wbay.com, weau.com, wsaw.com,