Die tonge was los toe daar eksklusief deur Pretoria News berig is oor ’n Gautengse ma, Gosiame Thamara Sithole (37), en haar man, Teboho Tsotetsi, wat die lewe geskenk het aan 10 babas.

“’n Guinness-wêreldrekord is verbeter,” is uitbasuin.

Die laaste keer toe daar soveel opwinding was, was toe die Rosenkowitz-sesling in 1974 gebore is; tog was dit nie lank voor die vrae en onsekerheid opgeborrel het nie. 

“Waar is die babas dan?” het mense gevra. “Waar is die dokters en spesialiste wat by die geboorte betrokke was?”

Niemand kon hierdie vrae beantwoord nie, en die opwinding het plek gemaak vir agterdog. En tot nou toe is dit nie bekend of die babas inderdaad gebore is en waar hulle is nie. 

Dit is hoe die petalje ontvou het.

So het dit begin . . .

Op Dinsdag 8 Junie berig die joernalis Piet Rampedi eksklusief in die Pretoria News dat Gosiame op Maandag 7 Junie geboorte gegee het aan sewe seuns en drie dogters. 

Sy was 29 weke swanger.

Die naam van die hospitaal, wat volgens die berig in Pretoria is, is nie bekendgemaak nie, en daar is ook geen foto’s van die babas gepubliseer nie.

Gosiame het voor die geboorte aan Piet vertel dat sy reeds ’n sesjarige tweeling het en nie op enige vrugbaarheidsbehandeling was nie. 

Met die geboorte is Malian Halima Cisse van Marokko se Guinness-wêreldrekord van verlede maand verbeter, is berig. Sy het aan ’n negeling geboorte gegee. 

Vrae ontstaan

Baie gou het mense begin wonder hoe dit moontlik is dat ’n 37-jarige vrou sonder die hulp van vrugbaarheidsbehandeling ’n tienling kan hê en waarom daar nie foto’s van die babas gedeel word nie.

Maar op Woensdag 9 Junie het die familie ’n verklaring uitgereik waarin hulle bevestig dat die babas gebore is. Hulle sê hulle verstaan mense se belangstelling en het almal vir hul gelukwensings en seënwense bedank. 

Die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, het Woensdag op Twitter bevestig dat hy met die familie in kontak was en dat daar vir hom gesê is dit gaan goed met die babas. 

Sy woordvoerder, Phakamile Mbengashe, het Huisgenoot se navrae na die familie se woordvoerder, Piet Rampedi, verwys. 

Waar staan sake nou?

Teen Vrydagmiddag was daar steeds geen foto’s of amptelike bevestiging van die regering dat die babas gebore is nie. 

’n Woordvoerder van die Gautengse regering, Thabo Masebe, het aan Huisgenoot bevestig hulle kon geen tienling in enige van die privaat of openbare hospitale opspoor nie. 

’n Familielid, Matamakgole Mahlangu, wat op die familieverklaring aangedui is as kontakpersoon, het enige navrae na Piet verwys. 

Maar Piet het nie op enige navrae gereageer nie.

Donasies 'stroom in'

Intussen het die donasies vir die babas glo ingestroom.

Teboho was volgens berigte Woensdag in Kaapstad as ’n gas van Survé Philanthropies onder leiding van Iqbal Survé, waar die organisasie onderneem het om R1 miljoen oor die volgende vier jaar aan die kinders te betaal.

Die vismaatskappy Lucky Star het ook onderneem om vir hulle ’n hele jaar se voorraad Lucky Star te voorsien. 

’n Nuwe kinkel

News24 berig ’n vrou sê die pa van die tienling is eintlik háár man. Sibongile Gxekwa sê Teboho het haar verneuk met Gosiame en die geboorte van die kinders is vir haar baie moeilik. 

Ekstra bronne: Timeslive.co.za, Iol.co.za, News24.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe