’n Stompneusdolfyn van byna 3 m lank, wat glo seksueel gefrustreerd is, het die afgelope paar maande die gewoonte aangekweek om sy lyf teen baaiers in die see op Landévennec te vryf, berig Metro

Die vryerige dolfyn het selfs ’n paar swemmers verhoed om by die strand uit te kom. 

Landévennec se burgemeester, Roger Lars, het plaaslike inwoners en toeriste verbied om binne 50 m van die soogdier, Zafar, te kom. 

“Ek het ’n verordening uitgevaardig om veiligheid te verseker. Talle baaiers was bang. Hy het selfs ’n vroulike baaier met sy snoet opgelig,” het Roger aan ’n plaaslike koerant gesê. 

’n Woordvoerder van Oceanopolis, ’n akwarium op Brest, het aan Independent gesê mense moet dit nie te naby aan ’n seesoogdier in “volle seksuele volwassenheid” waag nie. 

Maar die prokureur Erwan Le Cornec sê die verbod is oordrewe en hy hoop dit word gou opgehef, berig Mirror.

“Hoeveel ongelukke waarby ’n dolfyn en ’n mens betrokke is, het al in die streek Finist?re plaasgevind sedert die twee spesies naas mekaar leef? Nie een nie,” sê Erwan. 

“Met die verordening probeer die burgemeester die dolfyn as ’n wrede gedierte uitbeeld, iets wat onvoorspelbaar is en mense kan laat verdrink.” 

Bronne: Mirror, Metro, Independent