Carol van der Linde (43), eggenoot van die oud-Springbok en televisieaanbieder, Toks van der Linde, word deur adv. Barry Roux bygestaan terwyl die Suid-Afrikaanse polisie nou ’n klag van aanranding teen ’n medepassasier ondersoek.

Huisgenoot het ook betroubaar verneem Carol is nog erg getraumatiseerd en moet weens die voorval sielkundige behandeling ontvang.

Dié manlike passasier het haar na bewering Saterdag 12 Oktober geklap kort voor sy op ’n Mango-vlug van die Lanseria-lughawe in Johannesburg na Kaapstad vertrek het.

Hy het haar glo so hard op die hand en voorarm geklap dat haar selfoon uit haar hande gespat het. Dit het na bewering gebeur toe Carol ’n onderonsie afneem wat tussen dié medepassasier en ’n lugwaardin ontstaan het.

Toks en Carol van der Linde Foto: Facebook
Toks en Carol van der Linde Foto: Facebook
Carol van der Linde.
Carol van der Linde.

Carol het video’s van die voorval op Facebook gedeel en die voorval as “onnodig en onsmaaklik” beskryf.

Die lugwaardin het na bewering die man en sy metgesel aangevat toe hulle kort voor opstyg van sitplek wou verander. Hulle het by die nooduitgang gesit en wou glo na die oop sitplekke by Carol skuif.

Die lugwaardin het hulle glo gevra om terug te keer na hul sitplekke aangesien sy reeds die veiligheidsprosedures verduidelik het, insluitend vir die passasiers wat by die nooduitgang sit. Toe die man glo weier en hy en die lugwaardin begin vassit, het Carol dit glo begin afneem vir latere bewyse omdat die man reeds begin het om sy stem teenoor die lugwaardin te verhef.

Dit is glo toe dat hy en sy begin stry kry en hy haar glo skel en slaan.

In die sosiale media het sommige mense geskryf dit is Carol se “eie skuld” dat die man aggressief geraak het. Een man het glo sover gegaan om onder een van die berigte te skryf “hy sou haar (Carol) se neus breek” as sy hom so afgeneem het.

Carol en Toks, wat Maart verlede jaar getroud is en in Kaapstad bly, het op navraag gesê hul regspan het hul gemaan om nie oor die voorval te praat nie aangesien die polisie se strafregtelike polisieondersoek teen die vermeende aanrander steeds aan die gang is.

Huisgenoot het verneem die swaargewig advokaat Barry Roux staan die egpaar by oor die pad vorentoe terwyl die polisie die saak ondersoek.

Toks en Carol van der Linde Foto: Facebook
Toks en Carol van der Linde Foto: Facebook

Roux het kort voordat hy in die hof moes verskyn vir ’n ander saak Maandag aan Huisgenoot bevestig: “Ek ken vir Toks baie goed. Ek het nog nie amptelik instruksie van sy prokureur ontvang nie. Ek sal dus sê ek is nog net padlangs betrokke.”

Barry Roux

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder het Maandag aan Huisgenoot bevestig die polisie is steeds besig om verklarings van ooggetuies in te samel.

Sy sê die identiteit van die vermeende verdagte kan en mag nog nie bekend gemaak word nie. Nie alvorens hy gearresteer en in die hof verskyn het nie. Video’s van die voorval is egter reeds wyd in die sosiale media versprei.

Muridili het bevestig ’n klag van aanranding is in Kaapstad gelê, maar na die Diepsloot-polisiekantoor in Johannesurg oorgeplaas aangesien dit glo op die Lanseria-lughawe gebeur het.

"Die saak sal sodra dit ondersoek is na die direkteur van openbare vervolging verwys word om die pad vorentoe te bepaal,” het sy gesê.

Sergio dos Santos, Mango-woordvoerder het aan Huisgenoot bevestig al is hulle spyt oor die voorval, hulle glo dat die Mango-span aan boord al die regte veiligheidsprosedures gevolg het.

Hy het bevestig die vliegtuig moes voordat hul kon vertrek, omdraai en dat die man en sy metgesel van die vliegtuig verwyder is. Hy is daarna aan die polisie oorhandig. “Ons gee al ons samewerking aan die polisie in die verband.”