Unicode Consortium, die Amerikaanse maatskappy wat emoji’s reguleer, het onlangs ’n lys van meer as 200 nuwe emoji’s bekendgemaak wat later vanjaar tot sosialemedia-gebruikers se beskikking sal wees.

Die nuwe emoji's plaas spesifiek klem op verteenwoordiging en inklusiwiteit.

Vir gestremdes is daar nou onder meer ’n emoji van iemand in ’n rolstoel, ’n dowe mens en 'n gidshond.

Vanjaar sal gebruikers ook vir die eerste keer die vryheid hê om die ras en geslag te kies wanneer hulle ’n veelrassige paartjie wil uitbeeld.

En dan is daar die “stouter” emoji’s.

knypende hand
Knypende hand-emoji. Foto: Instagram/ hand.rokketbln

Die tonge klap omtrent oor die wysende hand-emoji wat Twittergebruikers meen ’n stouter betekenis sal kry. 

“Wel, nou is daar ook 'n emoji waarmee 'n mens vir iemand kan sê hulle het ’n klein penis,” skryf @AlexQueue op Twitter.

Die emoji wat ’n druppel bloed uitbeeld het ook aandag geniet. Dit volg nadat Plan International UK ’n veldtog begin het vir ’n menstruasie-emoji. 

Plan International is ’n humanitêre organisasie wat vir geslagsgelykheid streef. Hul studie van meer as 2 000 jong vroue in Brittanje het bevind dat omtrent die helfte glo ’n menstruasie-emoji sal hulle help om oor hul menstruasie met vriende en familie te praat.

“Ek steun die nuwe ‘menstruasie-emoji’, maar ek dink dit kan ook geskik wees vir diabete,” het @t1ddiary op Twitter geskryf.

Unicode se emoji's het oor die jare op verskeie kwessies gefokus: groter vroueverteenwoordiging in 2016, geslagsinklusiwiteit in 2017 en bykomende haarkleure in 2018.

Bronne: USA Today, ABC, Business Insider SA