Die tornado wat Mthatha Dinsdagoggend vroeg getref het, word as die ergste in die geskiedenis in hierdie gebied bestempel, sê dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers in ’n verklaring.
Duisende is dakloos gelaat in 20 nedersettings in die landelike gebiede van die Oos-Kaap, en huise, klinieke, skole, plekke van aanbidding, sale en voertuie is beskadig. Die presiese omvang van die skade is nog nie bekend nie.
“Minstens vier mense is dood weens die tornado,” sê Ali Sablay, die Givers se projekbestuurder.
Hy is saam met Corene Conradie, hul Oos-Kaap-koördineerder, op die toneel besig om kos uit te deel en met opruimingswerk te help.
Gift of the Givers het Donderdag spanne uit Adelaide en Graaff-Reinet, asook uit die Vrystaat en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal met voorraad en hulpmiddels na die gebied gestuur.
“Die mense lyk verlore, die kinders is bang, die ou mense getraumatiseer, en hulle weet nie waar om te begin om weer met hul lewens aan te gaan nie,” sê Ali.
“Binne ’n paar sekondes het ’n huis net ’n leë dop vol rommel geword. Mense se klere, beddens en herinneringe is saam met die storm weg.”
MURE WAAI OM, BOME ONTWORTEL
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens kan die tornado geklassifiseer word as ’n EF3-tornado op die Fujita-skaal wat tot by EF5 gaan. Dit beteken die wind het teen ’n spoed van tussen 129 km/h en 265 km/h gewaai – sterk genoeg om mure te vernietig en groot bome te ontwortel.
Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse premier, het Donderdag in ’n verklaring sy meegevoel betuig met die families van mense wat weens die storm dood is, asook dié wat dakloos gelaat is. Hy moedig die burgemeesters van die plaaslike munisipaliteite aan om ’n ramptoestand af te kondig. Dit sal hul toegang tot geld vir die herstel van die infrastruktuur bied.
“Staatsentiteite werk aan die herstel van dienste soos die kragtoevoer wat deur die storm onderbreek is. Hulle sal ook voortgaan om paaie skoon te maak en by huise help waar bome omgeval het,” sê Mabuyane.
RAMP OP RAMP
Dit is die jongste ramp wat die armste provinsie in die land tref, ná 'n knellende droogte en die covid-19-pandemie met sy vernietigende gevolge.
"In my 28 jaar by die organisasie het ek nog nooit sulke honger gesien nie,” het Imtiaz ’n paar weke gelede vertel oor die droogte wat die provinsie op sy knieë gedwing het.
Uit radeloosheid eet mense enigiets van gras en plante tot skilpaaie, honde en katte.
Voor covid-19 was reeds sowat 29,2% van die Oos-Kaapse bevolking van oor die 7 miljoen mense werkloos, maar sedert die begin van die inperking het talle sakeondernemings en groot nywerhede, asook klein ondernemings hul deure gesluit en werknemers afgedank. Dit het derduisende mense in die Oos-Kaap in ellende gedompel.
NOUE ONTKOMING
'n Tornado is geen ongekende verskynsel in die Oos-Kaap nie. In Desember 1998 het oudpres. Nelson Mandela 'n noue ontkoming gehad toe ’n tornado Mthatha getref het terwyl hy daar in ’n apteek was.
Die apteekgebou is beskadig en 11 mense is in die storm dood, berig Netwerk24.com.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET