Tadej wys sy blydskap toe hy op 14 Julie 2021 die
Tadej wys sy blydskap toe hy op 14 Julie 2021 die 17de skof van die Tour de France voltooi het. Foto: Getty Images/Gallo Images

Op die oog af is hy ’n valerige kêrel wat mens op straat maklik sou miskyk, maar op sy fiets is hy ’n superster. Die skraal Tadej Pogacar het vanjaar wéér die rekords by die befaamde Tour de France-fietswedren laat spat en die geel trui as algehele wenner van dié uitmergelende kompetisie oor sy kop getrek.

Toe die Sloweniër die strate van Parys – waar die laaste skof tradisioneel eindig – binnetrap, was dit reeds ’n uitgemaakte saak dat hy glorie op die pylvak wat in die ikoniese Champs-Élyseés eindig, sal smaak.

Die 22-jarige se kragtoer het hom sy tweede agtereenvolgende Tour de France-titel besorg, en hy het ook weer die byna onmoontlike reggekry en vir die tweede keer die enigste fietsryer geword wat drie uit die kompetisie se vier gesogte kategorieë kon wen: Die geel trui as algehele wenner, die polka-kol trui vir die beste klimmer in die bergskofte asook die wit trui vir die beste jong ryer – onder 25 jaar oud – in die wedren.

Die naelryspesialis, Mark Cavendish, is met die groen trui as die beste naelryer beloon.

Tadej het sy naaste teenstander – Jonas Vingegaard – met 5 minute en 20 sekondes geklop en sy span, die UAE Emirates, het ook koning gekraai in die groepafdeling van dié wedren.

Met die Arc de Triomphe in die agtergrond het Tadej op die podium gestaan met Jonas en Richard Carapaz, die ryer wat derde geëindig het, weerskante van hom en verduidelik dat hy nie ’n toespraak voorberei het of gaan huil nie.

“Ek is supergelukkig,” het die fietsryer as deel van sy kort en kragtige toespraak gesê.

Tadej vier sy oorwinning in vanjaar se Tour de Fra
Tadej vier sy oorwinning in vanjaar se Tour de France. Foto: Getty Images/Gallo Images

Selfs mense wat nie fietsry volg nie, weet die Tour de France is die beroemdste wedren ter wêreld. Daar het ryers soos Lance Armstrong – wat sewe titels gewen het voor dit teruggetrek is omdat hy opkikkers gebruik het – internasionaal bekend geraak.

Maar ’n nuwe, “skoon” era is vir fietsry ingelui ná die skokonthullings van die Armstrong-era, en kenners meen Tadej kan nog ’n rits Tour de France-titels wen.

G’n wonder kommentators het byna deur die bank voorspel hy gaan vanjaar weer wen nadat hy verlede jaar op 21 die naasjongste wenner ooit van die moordende wedren was nie.

Die webwerf Eurosport het al op 12 Julie al berig daar is nie veel debat oor wie vanjaar eerste gaan eindig nie: “Tadej Pogacar gaan wen, maar wat anders gaan in die finale week van die Tour de France besluit word,” was hul opskrif.

En onder die opskrif “Kan Tadej steeds verloor?” skryf hulle: “Natuurlik kan hy, maar hy gaan nie.”

Tadej vertel sy heel eerste fietsryherinnering is toe hy nog ’n pikkie was en saam met sy broer, Tilen, skool toe fietsgery het.

“En om ná skool met my fiets na sokkerwedstryde te ry,” sê Tadej, wie se eerste liefde eintlik sokker was.

Tadej Pogacar (geel), Jonas Vingegaard (wit) en Ri
Tadej Pogacar (geel), Jonas Vingegaard (wit) en Richard Carapaz. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Slowenieniërs is gek oor buitemuurse sport.

“Ons word geïnspireer deur ons wonderlike groen omgewing, so dis geen verrassing dat die meerderheid van Slowene lief is vir buitemuurse sportaktiwiteite nie. Dit is hoe Tadej sy sportloopbaan begin het,” lees mens op Slowenië se toerismewebwerf, Feel Slovenia.

In 2007 het Tadej se ouer broer by die die plaaslike Rog Ljubljana-fietsryklub aangesluit.

“Ek het my ouer broer nageboots totdat ek ’n jaar en ’n half later genoeg gegroei het om ook by die klub aan te sluit,” vertel Tadej, wat toe by die klublede die bynaam “Klein Pogi” gekry het. Dit was vir hom eers net lekker om “nuwe vriende te maak” en vir vars lug in die natuur te ry.

“Dit was iets anders en spesiaal, ’n gevoel van vryheid,” onthou hy.  Later het hy die sportsoort al hoe meer ernstig opgeneem.

“Ek was geïnspireer om myself te verbeter en elke keer vinniger te gaan.” Dit was nie lank nie voordat hy oral in Slowenië – en tot so ver as die Verenigde Arabiese Emirate – aandag getrek het nie.

Voor die aanvang van die 18de skof van vanjaar se
Voor die aanvang van die 18de skof van vanjaar se Tour de France. Foto: Getty Images/Gallo Images

In 2018 het dié Midde-Oosterse land Klein Pogi ’n kontrak aangebied om namens hulle te ry. Toe hy verlede jaar die Tour de France gewen het, was hy net so verbaas as die res van die wêreld.

“Ek het nie eens gedink aan wen nie, want dit het onmoontlik gevoel,” sê Tadej. “Dit was net ’n fantastiese gevoel om deel te neem aan dié wêreldtoernooi en toe gebeur dit net.”

Die jong fietsryer het verlede jaar en vanjaar altesame R17 miljoen met die geel trui gewen.

Hy maak ook elders opslae. In 2019 was hy die jongste wenner van die Amgen Tour of California in Amerika, en daarna het hy derde gekom in die Portugese Volta ao Algarve, een van die drie grootste fietsrytoernooie in die wêreld.

Fietsry is dalk nou sy groot liefde, maar dit het hom ook ’n ander liefde help vind. Tadej se meisie, Urška Žigart (24), is ook ’n professionele fietsryer.

“Tadej is 22 jaar oud, ry sorgeloos en is lief vir die fiets,” sê sy fietsryspanmaat Davide Formolo. “Alles lyk maklik vir hom.”

Hoe werk die Tour de France?

Dié Tour de France is die wêreld se grootste fietswedren waar die beste ryers sowat 3,500 km in Frankryk aflê. Die resies word oor 21 skofte in 23 dae met twee rusdae tussenin beslis en het vanjaar vir die 108ste keer plaasgevind.

Die 21 skofte bestaan uit nege op gelyke paaie, sewe bergskofte, drie heuwelskofte en twee individuele tydrenne.

Ná die eerste skof word die truie vir die algehele voorloper (geel), beste klimmer (polkakol), vinnigste naelryer (groen) en die beste ryer onder die ouderdom van 25 (wit) reeds uitgedeel en die mededingers dra dit tot ’n ander ryer hulle aan die einde ’n skof onttroon.

Die algehele wenner is bloot die ryer wat al die skofte saam in die kortste tyd afgelê het.

Wie was vanjaar die vinnigste naelryer?

Mark Cavendish met sy groen trui kort voor die 178
Mark Cavendish met sy groen trui kort voor die 178 km-lange skof tussen Muret en Saint-Lary-Soulan. Foto: Getty Images/Gallo Images/AFP

Die Britse fietsryer wat die groen trui oor sy kop kon trek as die vinnigste naelryer van vanjaar se wedren, het byna dié jaar nie aan die Tour de France deelgeneem nie. Dit het gelyk of Mark Cavendish (36) aan die einde van verlede jaar sou aftree, maar hy het ’n maand voor die begin van dié resies eindelik by die Deceuninck-QuickStep-span aangesluit.

“Ek is baie gelukkig. ’n Maand terug sou ek nie aan die Tour de France deelgeneem het nie en nou is ek hier op die podium ná drie weke wat ek vir baie lank sal onthou,” het die ryer, wat ook vier individuele skofte gewen het, ná afloop van sy skitterende vertoning gesê.

BRONNE: YOUTUBE/MET HELMETS, GLOBAL CYCLING NETWORK, SLOVENIA.INFO, TADEJPOGACAR.COM, CYCLINGNEWS.COM, MARCA.COM, EUROSPORT.CO.UK; independent.co.uk, theweek.co.uk, cyclingnews.com; mensjournal.com; deceuninckquickstep.com; cyclingnews.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe