Tragedie ry Gauteng-man 17 j. ná meisie se eks 4 in huis moor – Jana van der Merwe, Huisgenoot 25 Junie 2020
17 jaar nadat vier na aan hom vermoor is, kry die moordenaar dalk parool – en nou wel ou emosies weer op.

Byna twee dekades al probeer hy om nie na die vervalle en verlate huis te kyk wanneer hy daar verby moet ry nie. Maar selfs wanneer hy stip voor hom kyk, met sy hande om die stuurwiel geklem, is dit daar in die hoek van sy oog. En dan wel die herinnerings en seer weer op.

Vir ander inwoners van die rustige Gautengse dorpie Heidelberg is Von Geusaurylaan 72 “die moordhuis”. Maar vir die 42-jarige Jaco Greyling is dit die plek waar hy en sy gesin gelukkig gewoon het – tot die wrede en sinnelose bloedbad wat alles verander het.

Dit is nou 17 jaar gelede dat vier mense in die huis vermoor is: Jaco se destydse meisie, Liz-Mari Minny (19); Jaco se broer, Abrie (21); hul familievriendin Heloise van der Westhuizen (23); en dié se seuntjie, Donovan (2).

Liz-Marie Minny (19). Foto verskaf
Liz-Marie Minny (19). Foto verskaf

Die moordenaar is Liz-Mari se eks­verloofde, Johan Rosslee (toe 24), wat deur jaloesie gedryf was. Hy is in 2006 ­lewenslange gevangenisstraf opgelê, maar die tronkdeure kan dalk binnekort vir hom oopswaai.

Abrie Greyling. Foto verskaf
Abrie Greyling. Foto verskaf


Die wete dat vryheid vir die man wink wat soveel lewens vernietig het, is vir Jaco ondraaglik. Op 42 het dié bedryfs­bestuurder by ’n vurkhyserverhuringsmaatskappy ’n eie gesin en huis elders op Heidelberg. Maar die gruwels van no. 72 is nie iets wat jy begrawe nie. Die familie sal parool vir Johan teenstaan.

Heloise van der Westhuizen en haar seuntjie, Donov
Heloise van der Westhuizen en haar seuntjie, Donovan.


Op die skerm teug Jaco eers met ’n strak gesig ’n oomblik aan ’n sigaret.

“Jy bêre dit en jy gaan aan,” vertel die forse donkerkopman met die grys teen sy slape. “Ek het oor die jare geleer om met die seer saam te leef. Tyd het dit makliker gemaak. Jy dink minder daaroor. Maar jy vergeet nooit daarvan nie.”

Toe, hier in die donker en onseker dae van die inperking weens COVID-19, kom die nuus van die departement van korrektiewe dienste (DKD): Die moordenaar het genoeg van sy vonnis uitgedien om vir parool oorweeg te word.

“Dis baie onverwags,” sê Jaco en skud sy kop. “Dit het net weer al die emosies wakker gemaak. Ons het gedink hy sal 50 jaar in die tronk wees.”

Wat dit erger maak, is die tragiese nasleep wat die moorde jare later gehad het. Jaco swyg ’n oomblik en vertel dan hoe sy pa, Neels, destyds eerste op die bebloede lyke afgekom het.

“Dit het al die jare aan my pa gekou. Daar was dae dat ek kon sien hy is af, dan vra ek hom: ‘Pa, wat is fout?’ En dan sê hy: ‘Jy weet mos.’ En dan het ek geweet.”  

Vyf jaar gelede het Neels (65) sy eie lewe geneem.

“My pa kon nie meer cope met dit wat gebeur het nie. Die res van ons leef steeds daarmee saam. Dalk was ons net sterker as hy.”

Maar drie jaar nadat sy pa homself om die lewe gebring het, het die lewe vir Jaco en sy familie nóg ’n wrede hou toegedien. Sy dogter, Abigail Meyer (20), is dood­geskiet in die oprit van haar ma, Elzona, se Heidelbergse huis.

Jaco Greyling by sy vrou, Janine (links), en sy ve
Jaco Greyling by sy vrou, Janine (links), en sy vermoorde dogter, Abigail Meyer. Sy is in 2018 in ’n kaping doodgeskiet.


Elzona, ’n paramedikus, was aan diens toe dit gebeur het. En in ’n stukkie wrede ironie is sý na die skiettoneel ontbied.

En vir ’n derde keer in sy lewe het Jaco – wie se paadjie van Elzona s’n geskei het toe Abigail nog klein was – daardie onheilspellende boodskap gekry: “Jy moet kom; daar is moeilikheid.”

In 2003 het Jaco, toe 25, enkellopend en ’n dieselwerktuigkundige, in no. 72 gewoon saam met sy ouers en jonger broer, Abrie. Klein Abigail het by haar ma gebly. Jaco en Liz-Mari Minny het mekaar by ’n braai ontmoet en hulle het dadelik gekliek.

Maar hy het nooit kon dink dat sy binnekort wreed sou sterf nie. “Ons het nog nie eens behoorlik ge-date nie,” vertel Jaco vandag. “Sy was ’n goeie vrou.”

Toe hul verhouding begin ontwikkel, het sy hom vertel sy het kort tevore, in Augustus 2003, haar verlowing met Johan verbreek. “Ek het Johan nooit ontmoet nie. Ek het hom die eerste keer in die hof in lewende lywe gesien,” sê Jaco.

Johan Rosslee het nou ná 17 jaar vir parool in aan
Johan Rosslee het nou ná 17 jaar vir parool in aanmerking gekom. Foto verskaf


“Liz-Mari het ’n paar keer gesê sy is bang vir hom, dat hy haar mishandel het. Ek het toe voorgestel dat sy eerder by ons kom bly.” Liz-Mari en Jaco is albei deur haar eks gedreig.

Die middag van 29 Oktober 2003 het Johan by no. 72 ingesluip om Liz-Mari in te wag.

“Hy het geweet sy werk net halfdag op ’n Woensdag by haar oom se tandarts­praktyk,” verduidelik Jaco.

Abrie het Johan betrap toe hy deur Liz-Mari se besittings krap. Hulle het begin stoei en in die kombuis het Johan ’n mes gegryp en Abrie doodgesteek.

Maar toe kom Heloise, die broers se skoolvriendin, en haar seuntjie, Donovan, ook by die huis aan om Abrie te sien – en toe vermoor Johan hulle albei.

Steeds het Johan nie padgegee nie. Hy het begin om die bloed met koerant­papier op te vee – en toe is Liz-Mari tuis.

Hy het haar naakte liggaam vol meswonde agtergelaat – met kabelbinders aan haar bed vasgemaak.
Jaco se ouers, Neels en Magda, het ná ’n doktersafspraak op die gruweltonele afgekom.

“Noem dit instink, maar ek het geweet dit was Johan,” vertel Jaco.

Die polisie het hom die volgende dag vasgetrek.

“Dit was ’n baie rowwe tyd in my lewe,” sê Jaco. “Hoe het ek ge-cope?” Hy lag bitter. “Baie moeilik . . . Baie brandewyn en baie sigarette.”

En hy sluk eers weer aan sy brandewyn-en-Coke.

Drie maande ná die moorde het hy ­Janine (35) ontmoet en hulle het later getrou. “Sy was altyd daar vir my.”

Johan het op 15 Oktober 2004 18 jaar tronkstraf gekry. Maar die staat het appèl aangeteken, en dit is toe in 2006 na lewenslank verander.

“Daar was nooit vergifnis vir my nie. Ek voel niks vir hom nie,” sê Jaco skor.

“Dinge was heeltemal anders ná my broer se dood. Sekere goed soos om te gaan visvang of wanneer ek met my pa sou sit en gesels het, dit was nie meer dieselfde nie. Daar was net ’n baie groot leemte.”

Hy en sy ouers het nog ’n jaar in no. 72 gewoon.

“Ons het gesukkel om dit te verkoop.”

Maar dis asof no. 72 vervloek is. Hulle is skaars daar uit toe die nuwe eienaar deur ’n kaper in die oprit doodgeskiet is.

Die moordhuis in Von Geusaurylaan, Heidelberg, waa
Die moordhuis in Von Geusaurylaan, Heidelberg, waar Johan Ross­lee in 2003 sy eksverloofde, Liz-­Mari Minny, Abrie Greyling en Heloise van der Westhuizen en haar seuntjie, Donovan, vermoor het. Foto: Melissa Ludick


Dit was ’n Sondagoggend, Mei 2015, toe Jaco se pa sy eie lewe geneem het.

“My ouers sou nog daardie middag by ons kom eet het. Hy het nooit ’n brief gelos nie. Die antwoorde op ons vrae het ons maar self probeer uitwerk.”

Sy ma (62) het intussen na Utrecht in KwaZulu-Natal verhuis.

“Sy het ook baie swaar getrek. Sy het plakboeke oor alles gemaak; dis dalk haar manier om dinge te verwerk. Sy is ’n baie sterk vrou.”

En toe, die aand van 9 Februarie 2018, sterf Abigail in haar ma se oprit – op dieselfde manier as die nuwe eienaar van no. 72 jare tevore.

“Jy verwag nie ’n oproep wat sê: ‘Hoor hier, jou kind is geskiet in ’n hijacking en sy het dit nie gemaak nie.’ ”

Jaco en sy dogter het eers later in haar lewe ’n hegter verhouding begin kweek.

“Abigail was altyd so happy-go-lucky,” vertel hy en maak sy glas weer vol. “Ek was nog nooit kwaad vir die Here nie, maar daar is vrae. Ek wil glo die Here sal nie dinge oor jou lewe bring as hy weet jy gaan nie daarmee cope nie.”

Hy ruk om toe hy skielik iets agter hom in die huis hoor, maar ontspan dan merkbaar. “Dit is my twee kindertjies. Hulle hou my staande. ’n Mens kan nie gaan plat lê en hulle sonder ’n pa laat grootword nie.”

  • Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, bevestig dat die paroolraad ná die inperking onderhoude met die oortreder en die slagoffers se families sal voer. Eers daarna sal die paroolraad ’n aanbeveling aan die minister doen.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe