Die boeties, Michael (2) en Joshua (16 maande), se ouers, Johan en Carmen, is oorspronklik van Pretoria, maar het na wat verneem word 12 jaar gelede na Australië verhuis.

Die dorp, Morayfield, waar Johan by ’n tegniese kollege en Carmen by ’n kleuterskool werk, is 44 km noord van die hoofstad, Brisbane, in die suid-ooste van Queensland geleë.

Arno Nel, ’n goeie vriend van die Porter-egpaar in Queensland, wou nie namens die egpaar praat nie, maar het vertel hulle was liefdevolle en goeie ouers. Hy het op ’n vraag oor hoe dit gaan geantwoord: “Dis maar bitter emosioneel en die gemoedere ry wipplank.”

’n Gesamentlike herinneringsdiens word Sondag 7 April vir Michael en Joshua in die nabye dorp Caboolture gehou. 

v

Die boeties was na bewering albei bewusteloos en in ’n kritieke toestand toe hulle Maandagmiddag 25 Maart uit die swembad in die gesin se agtererf gered is.

Die familie het net meer as ’n week later, op 3 April, amptelik aan die media aangekondig dat albei seuntjies in die hospitaal oorlede is.

Die plaaslike nuusdiens News.com.au berig die kinders se geskokte ouers het op hulle afgekom.

Daar word steeds deur plaaslike owerhede ondersoek hoe die boeties in die swembad, wat omhein is, beland het. Huisgenoot het by ’n familievriend verneem klein Joshua kon reeds loop. Die nooddienste is omstreeks 16:30 ontbied om die boeties, wat nog gelewe het, te red.

Een van die boeties is aanvanklik na die Caboolture-hospitaal gebring, maar albei is eindelik in die Queensland-kinderhospitaal behandel, berig News.com.au

’n Kennisgewing is op 28 Maart op die Facebook-blad Afrikaanse Klub Australië geplaas om te sê die ouers moes die moeilike besluit neem om Michael se masjiene om 11:00 op 29 Maart af te skakel.

Die kennisgewing het gelui: “Dis dan met groot hartseer dat daar bekendgemaak is dat daar geen breinaktiwiteit gevind kon word by klein Michael nie. Verder is dan ook ’n dapper, onbaatsugtige en moeilike besluit geneem om van Michaeltjie se organe te skenk om mense te help met ’n kans op die lewe vorentoe.”

In daardie stadium was Joshua steeds kritiek en is mense gevra om die seuntjie aan in hul gebede op te dra vir volkome herstel.

Saterdag 30 Maart is nog ’n hartseer kennisgewing geplaas wat aangedui het dit gaan nie goed met Joshua nie.

Die kennisgewing het gelui daar is die middag toetse op hom uitgevoer wat getoon het hy het nie meer enige “positiewe breinaktiwiteit” nie. Ook sy masjiene moes daarna afgeskakel word.

Bronne: The Epoch Times; News.com.au