“Altesaam nege mense is Dinsdagaand kort ná twaalfuur in vloede in die Wes-Kaap dood,” sê Kenny Africa, die provinsie se verkeershoof.

Hy sê vier vroue en ’n man het verdrink toe hulle uit hul motor spring om weg te kom van ’n groot massa water op die High Noon-pas buite Villiersdorp in die Caledon-gebied.

“Die (vyf) insittendes het geskrik, uitgespring en die water het hulle meegesleur.”

In nog ’n voorval in die Montagu-gebied is vier mans, ’n motorbestuurder en drie passasiers, dood omdat hulle nie die vloedwaters kon ontduik nie.

Die voorval het ook rondom middernag gebeur.

Nog besonderhede was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Die Wes-Kaap gaan gebuk onder ’n verlammende droogte en Dinsdag se seldsame reënval is gevier voor die tragiese lewensverlies aan die lig gekom het.

Meer as 30 mm reën het ook tot vloede op Hermanus gelei.

Die wydverspreide reënbuie het broodnodige verligting gebring.

Bron: news24.com