“Tragies, tragies, tragies,” sê die Kaapse prokureur terwyl sy vinger oor sy selfoonskerm van die een foto na die ander vee. Op elke foto lyk sy vriend dolgelukkig langs sy beeld­skone vrou.

Op een foto staan adv. Pete Mihalik met sy arms styf om Karin op ’n strand. Op ’n ander kniel hy saam met haar by hul twee kinders met die wit huisies van Jacobs­baai aan die Weskus, waar hulle ’n vakansiehuis gehad het, op die agtergrond.

Adv. Pete Mihalik en sy vrou, Karin, wat drie jaar gelede haar eie lewe geneem het.

Kyk ’n mens saam met Leon*, Pete se vriend uit regskringe, na die foto’s, kan jy skaars glo dié eens gelukkige gesin is so wreed uitmekaargeskeur; eers deur selfdood en nou deur ’n sluipmoord wat skok­golwe deur die land gestuur het.

Op Dinsdag 30 Oktober net ná 07:35 is die Kaapstadse advokaat koelbloedig doodgeskiet toe hy sy twee kinders voor hul privaat skool, Reddam House Atlantic Seaboard, in Groenpunt aflaai.

Die moordenaar het tot by die venster van Pete se swart-grys Mercedes-Benz gestap en ’n vuurwapen daarteen gedruk, vertel ’n ooggetuie aan Huisgenoot.

Twee skote het geklap, glo van ’n 9 mm-pistool met hardepunt­ammunisie. Daarna het die man om­gedraai, doodluiters terug­gestap na die Volkswagen Polo wat agter Pete se motor geparkeer was, by die ­passasierskant ingeklim, en die voertuig het weggejaag.

Een van die twee koeëls het deur Pete se gesig getrek en sy agtjarige seun langs hom in die gesig getref. Dokters moes dit later uit sy kakebeen verwyder.

Pete se 17-jarige dogter, wat gesien het hoe hy doodgeskiet word, is nie beseer nie. Dit was sy wat uit die motor geklim en histeries geroep het: “Bel ’n ambulans!”

Twee mans wat vermoedelik by die sluipmoord betrokke was, is binne 48 uur aangekeer, maar teen druktyd was die baasbrein agter die huurmoord, wat na bewering R1 miljoen daarvoor op­gedok het, steeds soek.

Maar terwyl die hoofopskrifte daarna oorheers is deur Pete se bande met figure uit die bendewêreld, het sy binnekring gespartel om sin te maak van die tweede tragedie wat sy gesin getref het.

Selfdood eis drie vroue in sy lewe

Vir vriende soos Leon is sy dood ’n pynlike herinnering aan die sirkelgang van tragedie en hartseer wat die Mihalik-
familie al dekades lank teister. Want nie net het selfdood Pete se vrou, Karin, geëis nie; sy ma en suster is ook so dood.

Pete en Karin tydens 'n oorsese vakansie in 2013. Foto: Facebook
Pete en hul twee kinders tydens dieselfde vakansie. Die gesin was baie geheg aan mekaar. Foto: Facebook
Pete en sy gesin het gereeld die Kaapse seewaters te boot verken.

Toe Karin in 2015 haar eie lewe neem, was dit skokkend,” sê Leon terwyl hy na nog ’n foto van die eens gelukkige egpaar kyk.

“Pete was kwaad. Daarna het hy erg begin drink.”

Karin, ’n tuisblyma, het glo aan depressie gely en sielkundige hulp ontvang. Maar toe dinge vir haar te veel word, het sy haar in die ouderdom van 46 jaar naby die gesin se huis in ’n openbare tuin in die gegoede Kaapse woonbuurt Oranjezicht opgehang.

“Pete was gebroke. Man, hy was stukkend,” onthou Leon.

“Hy het dadelik hul vakansiehuis op Jacobsbaai verkoop. En later het hy eintlik kwaad geword vir Karin, want hy het gevoel sy het hul kinders gelos om sonder ’n ma groot te word.”

Die vakansiehuis op Jacobsbaai in 2011. Foto: Facebook

As kind het Pete dieselfde hartseer deurgemaak. Hy was 10 toe sy ma, Hantie, op 38 ’n einde aan haar lewe maak deur rotgif te drink. Klein Pete en sy ouer suster, Johanna Cornelia, of Wapsie soos sy genoem is, het by hul Hongaars gebore pa, Janos, agtergebly. Hy het ook as advokaat gepraktiseer.

Wapsie was 38 jaar oud toe sy haarself om die lewe bring deur van ’n gebou af te spring.

Pete het nooit veel oor die selfdood van sy ma, suster en vrou gepraat nie, sê Leon. 

'Ongelooflike pa'

Ná sy vrou se dood het hy ’n laer om sy twee kinders getrek, onthou hy.

“Hy was ’n ongelooflike pa. Pete sou sommer drie maande afneem en saam met sy dogter en seun oorsee gaan. Met die hulp van die kinders se peetpa en ’n au pair het hy hulle alleen grootgemaak.”

Al was Pete ’n modelpa, eggo Leon gerugte dat hy ’n drankprobleem gehad het.

“Ek dink Karin het hom altyd op die regte pad gehou,” voeg hy by.

“Ná haar dood het dit ’n bietjie handuit geruk, maar hy het altyd ’n goeie vriendekring gehad wat hom gesteun het.”

Die eerste ernstige verhouding wat Pete ná sy vrou se dood gehad het, was met Tasmin Montgomery, die eksvrou van die oud-Springbok Percy Mont­gomery, sê Leon.

“Ek dink Tasmin het ongelooflik baie vir Pete en die kinders beteken en sy het hom elke keer gehelp wanneer hy in sy drinkgewoontes teruggeval het.”

Toe Huisgenoot vir Tasmin nader, het sy in ’n e-pos laat weet: “Ek was nie die afgelope 18 maande in ’n verhouding met hom nie en het geen kontak met hom gehad nie.”

Bemiddelaar tussen bendes

Voor sy dood het Pete vir ’n geruime tyd ophou drink, vertel Leon. Hy was in ’n ander verhouding en het gelukkig gelyk. Hy was lief vir sy werk as regsverteenwoordiger vir van die gevaarlikste bendes in die land en vir lede van die onderwêreld. Tog reken Leon dit moes ’n uitwerking op hom gehad het.

Hy was een van die Kaap se beste strafregadvokate en het die land se berugste bendeleiers verteenwoordig.

“ ’n Mens sien gereeld dossiere van mense wie se koppe afgesny is, wat in die verbyry voor hul kinders doodgeskiet is of van hul kinders wat doodgeskiet is,” verduidelik Leon.

Pete het gereeld as bemiddelaar tussen bendes opgetree. Lede van bendes soos die 28’s, 27’s, Sexy Boys en Americans het trouens ná sy vrou se begrafnis by sy huis opgedaag om met Pete te simpatiseer.

“Baie van sy vriende het gedink dis onvanpas, maar hy was gemaklik daarmee. Hy het gesê hy kies nie kant nie,” sê Leon.

“Maar bendes sien dié dinge anders. Hulle sien jy skaar jou by ’n groep.”

'Ek is 'n skollie van Bloem'

Leon onthou nog sy oorlede vriend as ’n jong, ambisieuse advokaat wat een aand in die laat 1990’s verklaar het hy, Pete Mihalik, sal nog een van die beste strafregadvokate in die Kaap word.

“Ja, ek het hom gewaarsku. Nadat sy vennoot Noorudien Hassan twee jaar gelede ook deur bendelede vermoor is, het ek vir hom gesê: ‘Pete, jy moet die groepe op ’n afstand hou.’

“Maar Pete het amper kwaad geword en gesê: ‘Ek is ’n skollie van Bloem (waar hy op hoërskool en universiteit was). Ek is ’n street fighter,’ het hy gesê.

“Pete was dapper. As hy bang was, het hy nooit enigiemand daarvan gesê nie.”

Jason Rohde

Nadat Jason Rohde, destyds uitvoe­rende hoof van die eiendomsagentskap Sotheby’s International Realty, daarvan aangekla is dat hy sy vrou vermoor het, het Pete ingestem om in die hof as sy regsverteenwoordiger op te tree. Aan Rapport het hy toe gesê hy het die saak aanvaar, want hy verstaan die pyn van ’n gesin wat ’n ma verloor het.

Pete ingestem om in die hof as Jason Rohde se regsverteenwoordiger op te tree. Foto: Huisgenoot (Gys Visser)

'n Pa se smart

Klik-klik hoor ’n mens oor die foon iemand met ’n loopraam in ’n aftreeoord in Oranjezicht aangeskuifel kom. Dit is ’n dag ná adv. Janos Mihalik se 73ste verjaardag. Sy seun Pete is vier dae tevore vermoor.

Hy en Pete het ’n hegte verhouding gehad en sy dood was vir hom ’n groot skok, sê Janos, wat sy eksvrou, dogter en skoondogter aan die dood afgestaan het.

“Ek en Hanti (sy eksvrou) was geskei toe sy haar eie lewe neem. Daarna het ek en Pete Suid-Amerika toe gegaan, waar ek twee jaar lank geboer het.”

Met Janos se terugkeer na Suid-Afrika het hy sy tweede vrou ontmoet en hulle het ná hul troue twee dogters, Pete se halfsusters, gehad.

“Maar ons is ook intussen geskei,” sê Janos.

Stilswye en 'n dreigement

Toe Huisgenoot Pete se gewese stiefma bel, swyg sy. “Alles wat julle oor Pete skryf, is onnodig en julle moet dit los,” sê sy.

Vyf minute later lui die foon in Huis­genoot se kantoor. Dis ’n ander stem op die lyn, dié van ’n jong vrou.

“Soek julle inligting oor Pete Mihalik?” vra sy.

Dan kom die emosionele drei­gement: “Ek waarsku jou: As jy enigiets oor Pete skryf en wat met Karin gebeur het, sal jy in jou spoor moet trap. Jy gaan oor jou skouer moet begin loer.”

* Skuilnaam.  

Arrestsies


Sizwe Biyela (26) en Nkosinathi Khumalo (31), beide van KwaZulu-Natal het op 1 November in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord (op sy seun) en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle is nie gevra om te pleit nie.

Die bebloede rugsak van Pete se seun voor die skool in Groenpunt waar die aanval plaasgevind het.

Daar word beweer die R1 miljoen wat aangebied is vir die moord, sou as volg verdeel word: R500 000 vir die taxi-eienaar wat deur 'n eienaar van 'n taverne gewerf is, en die res van die geld moes eweredig tussen Biyela en Khumalo gedeel word.

Volgens die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, is een van die mans uit op borg in verband met 'n moord wat 'buite sy provinsie' plaasgevind het.

Bronne: timeslive.co.za, citizen.co.za

FOTO'S: FACEBOOK/KARIN VAN RENSBURG MIHALIK, GALLO IMAGES/NETWERK24/ADRIAN DE KOCK, FACEBOOK