Bykans vier jaar het verloop sedert Olivia Jasriel (50) teen die man wat haar as 12-jarige verkrag het, in die hooggeregshof in Pretoria getuig het.

Dinsdag moes sy vir die eerste keer weer dié 80-jarige man in die oë kyk toe hy binne ’n kwessie van twee ure en 45 minute, tydens sy paroolverhoor by die St. Albans Korrektiewe Dienssentum, parool toegestaan is.

Die skok en verslaentheid is hoorbaar in haar stem. Sy kan skaars tussen die trane deur ’n woord uitkry.

“Ja, op 24 April is Bob Hewitt weer ’n vry man, maar hy bly ’n verkragter,” is Olivia se eerste woorde aan Huisgenoot, kort nadat sy Dinsdag uit die verhoor sou stap.

Olivia Jasriel (50). Foto: Argief
Olivia Jasriel (50). Foto: Argief

Olivia was voorheen as Suellen Sheehan bekend, maar sy het intussen haar naam verander.

“Dit was verskriklik om hom daar reg oorkant my weer te sien,” vertel Olivia. “Hy het bly staar. Hy is natuurlik steeds oortuig hy het niks verkeerd gedoen nie.”

Ons het Olivia oor die jare as ’n baie sterk vrou leer ken, maar vandag is sy baie emosioneel. Gebroke.

“Dit was ’n baie pynlike proses wat ek vandag moes deurmaak. Dit was baie traumaties,” het sy in trane gesê. “Nee, ek voel nie dapper nie.”

Die ergste vir haar was om te sien hoe opgewonde en gelukkig sy familie “op en af spring.” Dít terwyl sy ná al die jare steeds die stukke van haar lewe probeer optel.

Olivia vee haar trane af in die hof.
Olivia vee haar trane af in die hof.
Twiggy Tolken op die dag wat Bob Hewitt tot ses ja
Twiggy Tolken op die dag wat Bob Hewitt tot ses jaar tronkstraf gevonnis is. Foto: Facebook

Luke Lamprecht, van die drukgroep Woman and Men Against Child Abuse (WMACA), was self verslae toe ons met hom praat.

“Dit gaan my verstand te bowe. Ons weet nie eens wat die redes agter sy paroolgoedkeuring is nie. Ons weet nie hoekom dit saak gemaak het dat ons hier was nie. Ons weet ook nie wat die voorwaardes van sy huisarres voortaan sal wees nie,” het Luke, wat saam met Olivia vanaf Johannesburg vir die verrigtinge gereis het, gesê.

Hewitt, ’n voormalige wêreldtenniskampioen, was Olivia se afrigter in Johannesburg toe hy haar en nog twee ander destyds in die 1980’s seksueel mishandel het.

Hy is in Maart 2015 deur regter Bert Bam in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria, aan twee aanklagte van verkragting op haar en Twiggy Tolkien skuldig bevind. Twiggy woon vandag in Nieu-Seeland.

Hy is ook aan die onsedelike aanranding van ’n derde vrou skuldig bevind. Dié vrou het deur die proses verkies om as slagoffer van ’n seksuele misdryf nie haar naam bekend te maak nie.

Dié vroue baklei al jare dat Hewitt, wat nog skaars drie van sy ses jaar tronkstraf by die Noordeinde-gevangenis uitgedien het, agter tralies moet bly. Die besluit om hom reeds in September verlede jaar vry te laat, is dringend hersien nadat die vroue kapsie gemaak het.

Maar dié keer was dit vergeefs.

Luke sê hulle het nog baie vrae oor die paroolproses, wat grootliks vertroulik gehou word.

Van die redes wat Hewitt destyds vir sy vrylating voorgehou het, is sy gevorderde ouderdom. Hy het op 12 Januarie vanjaar 80 jaar oud geword.

Maar dit traak Olivia en Luke nie. Hulle voel hy moes minstens sy volledige vonnis agter tralies uitdien.

“Ons hoop die departement sal nog vir ons antwoorde kan verskaf, want vandag het dit gevoel asof die slagoffer geen stem gehad het nie.”

Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste (DKD), het aan Huisgenoot die vrylating op parool in ’n amptelike verklaring bevestig.