Die meeste ander lede van haar familie is trots daarop om te sê hulle is bloedverwant aan pres. Donald Trump en spog alte graag oor hoe hulle Kersfees saam vier en by die Withuis kuier.

Maar sy broerskind wil haar kop in skaamte laat sak en vir mense sê hoe jammer sy is . . .

Dis duidelik dat Mary Trump nie haar oom se grootste aanhanger is nie – en met die publikasie van haar boek, Too Much and Never Enough: How My Family Created the World’s Most Dangerous Man, vertel sy die wêreld nou presies wat sy van die Amerikaanse president dink.

Wat haar boek uniek maak tussen al die ander biografieë van Trump (74), is dat Mary haar nie net in die familie-­binnekring bevind nie; sy is ook ’n op­geleide sielkundige.

Sy gebruik hierdie sielkundige agtergrond vir haar ontledings van dit wat sy ervaar het.

Maar dit is ook duidelik in die boek dat Mary (55), dogter van die president se oudste broer, Fred, ’n paar persoonlike griewe teen die president koester.

Sy gee haar magtige oom die skuld daarvoor dat hy nie genoeg gedoen het om haar pa te help toe hy ’n dodelike harttoestand ontwikkel het wat tot sy voortydige dood in 1981 gelei het nie.

Hy het boonop volgens Mary probeer konkel sodat sy en haar broer, Fred, minder sou erf. Haar oom het dit glo gedoen deur met hul oupa, ook Fred, te praat en hom te oortuig om sy testament te her­skryf sodat hulle ’n aansienlik kleiner deel van sy multimiljoendollar­fortuin as die ander Trump-kleinkinders kry.

Maar haar oupa, sê Mary, het teen daardie tyd alzheimersiekte gehad.

Ná Fred sr. se dood in 1999 het hulle die testament betwis, maar dit het jare geneem voor hulle hul regmatige deel gekry het.

Mary Trump. Skermgreep; YouTube/ ABC News
Mary Trump. Skermgreep; YouTube/ ABC News

Mary is gay en het ’n kind saam met haar eksvrou: Sy onthul dat die Trump-­familie so homofobies was dat sy jare lank gevoel het sy moet haar seksualiteit vir hulle wegsteek.

Tog hou sy vol dit was haar patriotisme eerder as ’n begeerte om wraak te neem wat haar gemotiveer het om die boek te skryf.

Sy sê dis tyd dat Amerikaners hul oë oopmaak oor die man wat in November tydens die land se verkiesing sal probeer om vir ’n tweede termyn as president verkies te word.

“Anders as in enige ander tyd in sy lewe kan Donald se tekortkomings nie weg­gesteek of geïgnoreer word nie, want dit bedreig ons almal,” skryf sy.

Die Trumps het die uitreiking van die boek probeer keer, maar vergeefs.

Hier is van die onthullings oor haar oom wat Mary in die boek en in ’n reeks onderhoude maak.

ONGELUKKIGE KINDERJARE

Mary skets ’n prentjie van Trump as ’n “toksiese” boelie vir wie “kroek ’n lewenswyse is”. Maar hy kan homself net nie keer nie, sê sy.

Hy het in ’n “kwaadwillig wanfunksionele gesin” grootgeword en is die produk van ’n “epiese tragedie van ouerskapmislukking”, sê Mary. Sy beweer hy en sy sibbes, Maryanne (83), Fred jr. (oorlede op 42), Elizabeth (78) en Robert (72), is as kinders in Queens, New York, emosioneel mishandel en dit het lewenslange littekens gelaat.

Volgens Mary was die patriarg, Fred, ’n sosiopaat wat sy kinders geleer het sy liefde vir hulle is voorwaardelik.

Trump se ­ouers, Mary en Fred. Foto: Gallo Images/
Trump se ­ouers, Mary en Fred. Foto: Gallo Images/Getty Images


Een van sy uitgestippelde voorwaardes voor enige van die Trumpseuns sy goedkeuring kon kry, was dat hy ’n “killer” moes wees. Dus was Donald altyd besig om als in sy vermoë te doen om sy pa se guns te wen; so asof hy wou sê: “Kyk, Pa, ék is die taai een. Ek is die killer.”

Intussen was sy ma, Mary, emosioneel grootliks afwesig. Ná die geboorte van haar jongste, Robert, moes sy maande lank in die hospitaal bly weens nageboortekomplikasies, en sy het “nooit heeltemal herstel nie”.

Sy was “onstabiel en veeleisend” en het haar kinders gebruik “om haar te troos pleks van om hulle te troos”, skryf Mary.
Hierdie onvermoë van sy ouers om hom geliefd te laat voel is die oorsaak van baie van Trump se grootpratery en boeliegedrag, sê Mary.

SY PA SE KIND

Mary beskryf hoe lief die toekomstige president daarvoor was om sy sibbes af te knou. Daar is stories oor hoe lekker dit vir hom was om Robert se speelgoed weg te steek en dan te dreig hy gaan dit breek as sy broer nie ophou huil nie.

Dekades later het sy ma Mary vertel hy was “nog altyd” ’n snuiter wat homself bejammer het. Sy’t ook gesê sy was verlig toe haar man hom eindelik na ’n militêre akademie toe weggestuur het.

Een van die skokkendste onthullings in die boek is ’n vertelling van hoe Trump gekonkel het om plek by ’n universiteit te kry. Hy het geweet dat sy punte waarskynlik nie goed genoeg was om ’n plek te verseker nie; daarom het hy “’ n slim kind” gevra om namens hom die toelatingstoets te skryf, beweer Mary.

Trump is eindelik aanvaar by die Universiteit van Pennsilvanië, waar hy in ’n sakerigting studeer het met die doel om by sy pa se eiendomsmaatskappy betrokke te raak.

As die oudste seun moes Fred eintlik die onderneming oorgeneem het, maar hy was in sy pa se oë “te swak”; dit was dus Donald wat opgelei is om aan die hoof van sake te staan.

Volgens Mary het Trump sr. ’n “atmosfeer van verdeling” in die gesin gekweek en dit dan gebruik om mag te behou. Maar in Donald se oë was sy pa ’n held. Hy het hom probeer naboots, en sy maniere, grootpratery en selfs sy gewoonte om sy hare te kleur aangeneem.

En dit lyk asof hy ook sy pa se ouer­skapstyl geërf het.

Ivanka Trump in 1996 as ’n tiener op haar pa se sk
Ivanka Trump in 1996 as ’n tiener op haar pa se skoot by ’n konsert. Mary vertel in haar boek dat dit nog altyd duidelik was Ivanka is sy oogappel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mary onthou dit was duidelik Ivanka is haar pa se oogappel en dat sy as tiener nog op sy skoot gesit het. Sy sê ook Trump het sit en kyk hoe sy jong seuns Donald jr. en Eric stoei en wie ook al aan die verloorkant was, skop om hulle taaier te probeer maak.

SIELKUNDIG ONBEVOEG

Mary het nie haar menings oor die president se bekwaamheid in ’n onderhoud met ’n Amerikaanse televisiestasie probeer verbloem nie. “Emosioneel, siel­kundig, hy is totaal onbevoeg.

“Ek het geen probleem daarmee om Donald ’n narsis te noem nie – hy voldoen aan al nege die vereistes.”

Sy sê sy sal ook ’n antisosiale sowel as afhanklike persoonlikheidsteuring, en die een of ander “ongediagnoseerde leer­gebrek wat inmeng met sy vermoë om inligting te verwerk” by hom diagnoseer.

RASSIS

In ’n onderhoud met die nuuskanaal MSNBC het Mary vertel sy het al gehoor hoe Trump rassistiese en antisemitiese beledigings kwytraak.

GRILLERIG

Mary vertel van ’n keer toe haar oom na haar borste gekyk het toe sy in haar 20’s was. Sy het ’n swembroek en kortbroek gedra en saam met hom middagete geëet by Mar-a-Lago, sy oord in Florida. “Liewe hemel, Mary, maar jy is goed bedeeld,” het hy gesê.

TRUMP SE REAKSIE

Die president het die boek afgemaak as “simpel”, “wreed” en ’n “leuen”.

Hy het terug­gekap en gesê Mary is “geskend” en “ ’n gemors”, en voeg by dat sy “nie ’n familiegunsteling” of “iemand saam met wie ek baie tyd deurbring”, is nie.

WAAR IS DIE TRUMP-SIBBES NOU?

Maryanne Trump ­Barry

Maryanne Trump ­Barry (regs).
Maryanne Trump ­Barry (regs).

Sy het verlede jaar haar uittrede as staatsregter aangekondig nadat dit bekend geword het sy word ondersoek vir haar rol in haar familie se duistere belastingsake in die 1990’s.

Elizabeth Trump Grau

Donald Trump en sy suster Elizabeth Trump Grau by
Donald Trump en sy suster Elizabeth Trump Grau by Mar-a-Lago in 2005. Foto: Davidoff Studios/Getty Images

Sy het in die bankwese gewerk voor sy ’n paar jaar gelede saam met haar man, die fliek­vervaardiger James Grau, afgetree het. Hulle woon in Florida.

Robert Trump

Matt Rubel en Robert Trump (regs) in 2005. Foto: G
Matt Rubel en Robert Trump (regs) in 2005. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is ’n eiendoms­ontwikkelaar wat van The Trump Organisationse belange bestuur.

BRONNE: NPR.COM, POLITICO.COM, GUARDIAN.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe