Kunsmatige intelligensie, klimaatsverandering, tegnologiese ontwrigting en die 21 lesse wat ons almal moet leer . . . Sal die nuwe boek deur die wêreldbekende geskiedkundige Yuval Noah Harari ons met ander oë na die wêreld laat kyk?

Die uitdrukking op sy gesig is effens verbouereerd. Yuval Noah Harari is heel gaaf, maar terwyl hy agter sy bril uitloer, lyk dit of hy dink: “Ek is nie seker wat ek saam met jou hier maak nie.”

Dit wil voorkom asof die Israelse professor nog nie heeltemal aan sy roem gewoond is nie – al het sewe jaar verloop sedert sy eerste boek, Sapiens: A Brief History of Humankind, hom oornag bekendgemaak en ’n legio lojale aanhangers besorg het.

Onder andere mense soos oudpres. Barack Obama van Amerika en Facebook se Mark Zuckerberg.

Miljoene eksemplare is ook van sy tweede boek, Homo Deus: A Brief History of Tomorrow, verkoop. En nou trek ons by die derde boek, 21 Lessons for the 21st Century.

Dit word bemark as een van die belangrikste boeke wat vanjaar verskyn. Dit beteken die kollig sal oor die volgende paar maande fel op die bekendste geskiedkundige ter wêreld val – of hy nou daarvan hou of nie.

Ons ontmoet mekaar in die art deco- Cinema-hotel op Dizengoff-plein in die Bauhaus-distrik van die Israelse stad Tel Aviv.

Toe hy sy aanvanklike teruggetrokkenheid oorkom, is Yuval innemend.

Miljoene eksemplare is van Yuval se toeganklike boeke verkoop en hy het ’n groot getal lojale aanhangers. Foto: Magazine Features.

Sy Engels is byna volmaak en hy het ’n welluidende stem. En hy beantwoord al jou vrae asof dit werklik saak maak. Om die ys te breek, vra ek hom eers oor sy familiegeskiedenis.

Van waar kom die Harari’s? Amper alles wat hy van hul geskiedenis weet, het hy by sy 97-jarige ouma gehoor, vertel hy. Haar pa het Pole in 1919 verlaat om militêre diensplig te ontwyk.

Hy is toe na Duitsland, waar sy gebore is. In 1933 het haar ma haar onwillige pa oorreed dat Hitler nie ’n verbygaande fase is nie, en die gesin het na Palestina verhuis. Yuval lag. “Hulle het nooit Duitse burgerskap gehad nie,” vertel hy.

“Hulle was volkome Pools. Maar sy sê steeds: ‘Weet jy, ek is Duits.’ Sy woon in ’n aftreehuis vir “Yekkes” – die Hebreeuse woord vir Duitse Jode – en om Duits te wees is skynbaar steeds die belangrikste ding in die wêreld vir haar. Jare lank was ek oortuig sy is Duits.”

Albei sy ouers is gebore in wat toe nog Palestina onder Britse mandaat was. Sy pa, Shlomo, het op ’n kibboets in die Jordaanvallei grootgeword waar hy aanvanklik “die Israeliese mite ten volle uitgeleef het”.

Toe, in 1950, het Shlomo se pa ’n uitval met ’n ander lid van die kibboets. Waaroor? Yuval glimlag.

“Ek dink dit was oor die mikrobestuur van die plaas; oor of jy ’n keuse het of jy op die suiwelplaas wil werk of nie, en wie veronderstel is om die wasgoed te was – sulke dingetjies.

En aan die ander kant oor die wêreldpolitiek – Wat dink jy van Stalin en die Koreaanse Oorlog? – en dit is alles saamgegooi.” Die gevolg was dat Shlomo by die kibboets weg is en op die dorpie Kirjat Ata, naby Haifa, beland het.

Daar het hy Pnina, Yuval se ma, ontmoet en ’n ingenieur geword. “My pa was beslis die intellektuele krag in die huis,” vertel hy. “Hy was die onideologiesste mens.

Hy het glad nie in gesag van enige soort geglo nie. Maar hy het baie van geskiedenis gehou, en ons het baie besprekings daaroor en oor die wêreld gehad.

Dit was ons gunstelingtydverdryf met aandete, om oor al dié soort dinge te gesels.” Maar oor sy eie avonture het Shlomo nooit gepraat nie.

Yuval se drie boeke wat hom in ’n uitgewersensasie – en waarskynlik die bekendste geskiedkundige ter wêreld – omskep het.

Hy het in die Sesdaagse Oorlog van 1967 en ook in die Jom Kippoer-oorlog van 1973 geveg. “En hy het nooit ’n enkele woord gesê oor enigiets wat daar gebeur het nie.” Kirjat Ata, vertel Yuval, is naby ’n groot petrochemiese aanleg in Haifa-baai geleë en is bekend as die plek met die meeste besoedeling in Israel.

“Ek onthou as kinders het ons na my ouma se huis in Jerusalem gery om haar te besoek, en op pad terug kon ons van die reuk aflei ons kom ál nader aan die huis.”

Yuval was altyd ’n slimkop. Hy het op ses begin skoolgaan. Op sewe het hy ’n graad oorgeslaan. Op nege is hy van Kirjat Ata gestuur na ’n skool op die berg Karmel, wat ’n spesiale afdeling vir begaafde kinders gehad het.

Hy moes twee busse vat om daar uit te kom. Die simboliek is treffend. “Ek het aan die onderpunt van die onderpunt in die petrochemiese bedryf gewoon, en elke dag moes ek tot heel bo-op die kruin van die berg gaan.”

Dit was, sê hy, “een van die ergste, dalk die vormendste ervarings van my lewe. By daardie skool het dit oor die oorlewing van die slimstes gegaan.

Ons was onder druk om uit te blink. Die kinders was absoluut genadeloos teenoor mekaar. Daar was geen empatie nie. Selfs die meisies?

“Daar was net seuns. Elke jaar het hulle ’n paar meisies probeer inskryf, en elke jaar het die meisies baie vinnig gevlug. Want hulle het verstaan wat daar aangaan.”

Die begaafde afdeling was deel van ’n groter skool, maar hulle het nie met die ander leerders gemeng nie. “Ons het onsself oortuig die ander kinders is gevaarlik; dat hulle ons sou tart en sulke goed,” sê Yuval.

“Dat hulle dink ons is baie windmakerig, soos snobs.” Hy glimlag weer. “Hulle het ons . . . genoem.”

Hy gebruik ’n Hebreeuse woord wat klink soos iemand wat sy keel hard skoonmaak: “khnonim”, of so iets. “Dis letterlik die goed wat uit jou neus kom,” verduidelik hy.

Hy was ’n swaarmoedige kind, sê hy. En ’n swaarmoediger tiener. Van jongs af het hy gevoel die wêreld het nie sin nie.

“Ek het na my ouers en onderwysers gegaan en hulle op verskillende maniere gevra om aan my te verduidelik wat hier aangaan,” sê hy.

“Waaroor gaan die lewe? En hulle het geen benul gehad nie. Hulle het dinge gesê, maar ek het geweet dis onsin, en ek het geweet hulle weet nie. Maar die ergste was: Niemand het skynbaar omgegee nie.”

Terwyl hy praat, is hy terug by die volwassenes wat nie begryp het nie. Hy het selfs die skoolberader oor sy gevoelens gespreek.

“Ek onthou duidelik ek was daarvan oortuig dat as ek aan haar verduidelik wat ek pas gesnap het sy oorbluf sou wees en sê: ‘Ek sal uit my werk bedank en alles in my lewe verander.’ Maar nee. Sy het dit as niks afgemaak. Die feit dat ons nie verstaan wat aan die gebeur is nie, wat die betekenis van die lewe is nie – dis sommer niks.”

En daarom is dit aan hom, die seun op die bergtop, oorgelaat om die wêreld van die dreigende vloed te red. Hy het sy toevlug tot die verlede geneem.

Al het hulle in die skool op wiskunde en wetenskap gefokus, het Yuval in die geskiedenis belanggestel. Hy het dit toe aan die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem studeer.

Daarna is hy na Engeland, waar hy ’n doktorsgraad oor die militêre geskiedenis in die Middeleeue aan Oxford verwerf het. Hy het sy navorsing gepubliseer en ’n lektor geword.

Toe hy gevra word om ’n kursus oor die evolusie van die menslike geskiedenis aan te bied, waarvoor die res van die akademici hul neus opgetrek het (vermoedelik wou hulle eerder oor die Nazi’s of die Koue Oorlog klas gee), het die idees ontwikkel waaroor hy in Sapiens skryf.

Hy het op 21 uit die kas gekom, en terwyl hy steeds probeer sin maak het van die wêreld en sy plek daarin, het hy op 24 begin mediteer.

Hy mediteer blykbaar twee uur elke dag en gaan gereeld op lang wegbreke. Ongelukkig laat die woord “meditasie” my so volkome ontspan dat ek geneig is om aan die slaap te raak; daarom pols ek hom nie verder daaroor nie. Ons het belangriker sake om te bespreek – of soos hy graag sê: “Bigger fish to fry.”

Sy nuwe boek bestaan uit skryfwerk wat geredigeer is saam met verskeie lesings en artikels wat hy sedert Homo Deus gepubliseer het.

Hy sê dit spruit uit vrae wat mense aan hom gestel het oor hoe die huidige gebeure die prentjie beïnvloed wat hy van die toekoms geskets het. Of, anders gestel: Wat het pres. Donald Trump en Brexit daarmee te doen?

Sy antwoord in die boek is dat dit alles bloot die aandag aflei. Soms bied dit interessante afleidings, maar dis nogtans net afleidings.

“Binne ’n eeu of twee kan die kombinasie van biotegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) lei tot liggaamlike, fisieke en geestelike kenmerke wat heeltemal van die huidige menslike vorm afwyk,” skryf hy.

“Wat ek probeer doen, is om die gesprek te verander,” voeg hy nou by.

“Dit behoort nie oor nasionalisme, immigrasie, terrorisme en handelstariewe te gaan nie. Die gesprek behoort oor klimaatsverandering, tegnologiese ontwrigting, KI en bio-ingenieurswese te gaan. Dit is die groot kwessies.”

Nes met Homo Deus verken hy in die boek hoe KI en biotegnologie saam binne dekades nuwe vermoëns kan skep wat die grondliggende aard van die mens kan bedreig óf verbeter.

Kyk maar net hoe KI-algoritmes jou al beter ken as wat jy jouself ken, wat byvoorbeeld jou keuse van musiek betref.

“Binnekort kan ’n masjien wat algoritmes gebruik ’n biometriese datastroom van sensors aan en in jou lyf ontleed, jou persoonlikheidstipe en jou veranderende gemoedstemmings bepaal en bereken watter uitwerking ’n sekere liedjie op jou sal hê.”

Dan gee hy ’n voorbeeld van ’n speellys wat ’n algoritme dalk vir iemand sal saamstel wat oor ’n verlore liefde treur. Dit eindig met Gloria Gaynor se I Will Survive.

Yuval in 2017 saam met pres. Emmanuel Macron in Parys. Die Franse president is ’n groot aanhanger. Foto: Instagram.

Maar dinge raak veel ernstiger. Die moontlikheid bestaan dat ons in die praktyk deur algoritmes regeer kan word en die vermoë sal hê om ’n ras supermense te skep.

Dis nou te sê mits ons klimaatsverandering oorleef. En wat doen ons om op hierdie probleme voor te berei? Weinig in die Weste.

“Vyf jaar gelede het niemand regtig geweet waaroor KI alles gaan nie,” sê Yuval.

“Maar in 2018 is ons reeds in ’n baie ernstige wapenwedloop gewikkel. Die Chinese het dit drie of vier jaar gelede besef, dink ek; die Europeërs besef dit nou eers. Dit is verskriklike nuus, want jy kan nie hierdie plofbare tegnologie reguleer wanneer jy in ’n wapenwedloop betrokke is nie. Niemand kan enigiemand vertrou nie; niemand wil agterraak nie, en jy maak ál meer seker daarvan dat die ergste moontlikhede waar sal word.”

In die veld van biotegnologie kan ons byvoorbeeld nie aanvaar almal stem saam oor die etiek van ’n algemene en gemeenskaplike menslikheid nie.

“Vandag en beslis ook in die toekoms sal baie mense ten gunste daarvan wees om ’n nuwe ras supermense te skep en die gewone Homo sapiens agter te laat,” sê hy.

“In China is hulle eerlik daaroor. Mense praat van ‘hoë- en laegehaltemense’. En hulle sê een van die redes waarom hulle nie ’n demokrasie soos in Amerika wil hê nie, is dat jy dan ’n Trump kry, want al die laegehaltemense kan stem, en jy moenie vir hulle soveel mag gee nie. Een manier om daaroor te dink is dat ons laegehaltemense moet verbeter en hulle in hoëgehaltemense moet verander.”

Die enigste manier om dit te hanteer, sê hy, is op ’n internasionale vlak.

“Die eerste stap om KI te reguleer is om ’n sterk wêreldgemeenskap te hê. Ek sê nie ’n wêreldregering of -ryk nie. Jy hoef dit nie so ver te voer nie. Maar jy het baie samewerking wêreldwyd nodig.”

Die probleem van die afgelope paar jaar is, soos hy in die boek skryf, dat terwyl ons nou ’n wêreldekologie, -ekonomie en -wetenskap het ons met net nasionale politiek sit.

“Om doeltreffende politiek te hê, moet ons óf die ekologie, die ekonomie en die opmars van die wetenskap deglobaliseer óf ons politiek globaliseer.”

Hy is nie teen afsonderlike nasies gekant nie, beklemtoon hy. Hy skryf dit is ’n illusie om te dink ons sal almal in ’n liberale paradys leef sonder nasionalisme. “Ons sal waarskynlik stamme wees wat in ’n chaos leef.”

Maar op die oomblik hou nasionalisme ons terug – soos in die geval van Brexit, Brittanje se plan om aan die Europese Unie (EU) te onttrek. “Ek dink nie iets is inherent met nasionalisme verkeerd nie,” sê hy.

“En ek dink nie Brexit op sigself is ’n slegte idee nie. Ek bedoel, vir Brittanje om volkome onafhanklik van die EU te wees? Hoekom nie?

“Die ergste ding omtrent Brexit is dat nasionalisme op hierdie tydstip in die geskiedenis, terwyl ons groter probleme het, die aandag van dié uitdagings kan aflei.

“Elke minuut wat die Britse regering Brexit probeer bestuur, is ’n minuut minder wat hulle aan kwessies soos klimaatsverandering, KI en genetiese ingenieurswese bestee.

As hulle oor 10 jaar reeds die kans verbeur het om KI te reguleer, sal hulle terugkyk en sê: ‘O ja, want ons was mos met die Brexit-ding besig.’ ” Trouens, hy dink dis presies wat agter Brexit steek – dat dit afleiding bied.

“As jy voor ’n groot, skrikwekkende probleem te staan kom, wil jy hê iets bekends moet afleiding bied. Jy verstaan onafhanklikheid en nasionale soewereiniteit, en jy hou nie van immigrasie nie, maar dit is ou kwessies van die 20ste eeu. Van die 19de eeu.

“Dis soos wanneer jy by ’n groot vergadering in die een of ander maatskappy ’n multimiljoendollarbesluit oor iets baie ingewikkelds moet neem en ’n $5-besluit oor die koffiemasjien. Julle sal twee uur lank oor die koffiemasjien praat en twee minute vat om oor die multimiljoendollarhervorming te stem, wat niemand buiten die tesourier in elk geval verstaan nie.”

Hoe optimisties is hy oor ons hantering van die groter kwessies terwyl hy in ’n land woon wat sukkel om sy eie plaaslike probleme baas te raak?

Is om oor die groter prentjie te dink nie dalk sy eie manier om sy aandag van die ingewikkelde probleme hier en nou af te lei nie? Hy erken Israeli’s verstaan die kuns baie goed om dinge bloot mis te kyk.

“Die meeste mense is nie noodwendig boos of die Palestyne kwaadgesind nie,” sê hy. “Hulle gee net nie om nie. Hulle wil nie weet wat daar gebeur nie. Die geestelike afstand is reusagtig.”

Wat bedoel hy?

“My kampus is op die berg Skopus in Jerusalem. En net onder die berg is Isawija, ’n Palestynse buurt. Niks keer jou om na Isawija te gaan nie. Daar is geen kennisgewing of versperring en geen soldate wat jou bewaak nie, maar sedert 1993 kom ek by die kruising en draai ek regs na Skopus. En ek was nog nooit in Isawija nie. Ek kyk baiekeer van bo-op die berg daarna, maar jy laat nie jou gedagtes daarheen gaan nie. Soos jy nie dink oor wat dit werklik beteken om ’n kind in Gaza te wees nie.”

Nie gronde vir optimisme nie. As jy nie in jou gedagtes by Gaza kan uitkom nie, ’n paar kilometer hiervandaan, hoe kan jy so ver dink dat jy biotegnologie reguleer of klimaatsverandering stuit? “Ek sê nie ons sál dit te bowe kom nie,” antwoord Yuval.

“Ek sê ons kán.”

Toe hy 13 was, het die Berlynse Muur geval – dit was ’n wonderwerk, en daar was nie enige lewensverlies nie.

“Die apokaliptiese Koue Oorlog het op die ou end vreedsaam en stil geëindig, en al die doemvoorspellings van die 1950’s en 1960’s het nie waar geword nie. Ons kan dit regkry. Ek voel ook so oor KI en klimaatsverandering. Ons kan dit doen. Ons het wat dit verg.”

Maar nou, in die era van Trump en nasionalisme, beweeg ons in die verkeerde rigting; behep met die verkeerde twispunte.

Ná ons onderhoud stap ek ’n lang ent langs Tel Aviv se waterkant met sy mengelmoes rasse en gelowe op skaatsplanke, fietse en bromponies, in bikini’s en met kalotjies, aan die draf, swem . . . selfs aan die vry.

En ek dink na oor ons gesprek. Yuval is nou wel ’n multimiljoenêr en ’n uitgewersensasie, maar dis moeilik om hom nie steeds as ’n seun op ’n bergtop te sien wat probeer om ’n afgetrokke wêreld na die dinge te laat kyk wat regtig saak maak nie. 

© David Aaronovitch / Times Magazine / News Licensing