Kellyanne Conway. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kellyanne Conway. Foto: Gallo Images/Getty Images

Stel jou gesinsetes in hul huishouding voor: Aan die een kant van die tafel sit Ma, ’n vurige ondersteuner van pres. Donald Trump, wat alles in haar vermoë doen om te sorg hy kry nog ’n ampstermyn. Aan die ander kant sit Pa, wat die Amerikaanse president nie kan verdra nie en ’n veldtog lei om te verhoed hy word in November herverkies. En in die middel sit hul tienerdogter, wat albei haar ouers as ’n voortdurende bron van verleentheid beskou.

Welkom by die Conways!

Voorheen was Ma, Kellyanne, die bekendste lid van die gesin in haar rol as een van Trump se senior raadgewers, maar nie meer nie – binne net ’n paar maande het haar 15-jarige dogter, Claudia, duisende volgelinge in die sosiale media gekry waar sy openlik met haar ouers ’n vete voer.

Onder die TikTok-naam @datjerseygirl het die tiener haar afkeer in Trump uitgedruk, haar ouers verkleineer en die Amerikaanse kongreslid Alexandria Ocasio-Cortez – een van die president se mees uitgesproke kritici – gesmeek om haar aan te neem.

In kommentaar wat sekerlik haar ma moes laat ineenkrimp het, het Claudia direk op van Trump se twiets gereageer deur hom ’n “gholfspelende idioot van ’n president” te noem en vir hom te sê hy is “rassisties, homofobies en ’n tiran”.

Kellyanne Conway het uit haar pos as raad­gewer vi
Kellyanne Conway het uit haar pos as raad­gewer vir president Donald Trump bedank nadat haar dogter, Claudia, haar in die sosiale media verneder het. Foto: Instagram/Claudiamconway

Maar dis haar ouers wat die spit van haar woede afbyt. In ’n onlangse twiet val sy haar ma aan en beweer dié se werk het haar lewe “verwoes”.

“Hartverskeurend dat sy voortgaan op dié pad nadat sy jare lank haar kinders sien ly het. Selfsugtig. Dit gaan alles oor geld en roem,” het sy getwiet.

Haar pa, George (57), ’n prokureur en die stigter van die anti-Trump-organisasie The Lincoln Project, word ook nie gespaar nie.

“Polities stem ek en my pa oor absoluut niks saam nie,” skryf Claudia. “Ons het net toevallig albei gesonde verstand wat ons huidige president betref.”

Sy het haar pa daarvan beskuldig dat hy nie vir haar omgee nie en haar ma dat sy haar mishandel. En dis om al dié redes, het sy bygevoeg, dat sy besluit het om stappe te doen om haarself op 15 al mondig te laat verklaar.

“Maak die sitplekgordels vas, want ongelukkig sal dit waarskynlik op die een of ander manier in die openbaar uitspeel. Welkom by my lewe,” skryf Claudia, wat ’n tweelingbroer, George, en twee jonger susters, Charlotte (11) en Vanessa (10), het.

Dit het vir haar beter uitgewerk as wat sy kon hoop. Binne dae het albei haar ouers uit hul poste bedank. Kellyanne (53) het verduidelik sy doen dit om haar gesin se onthalwe. Of soos sy dit gestel het: “Om minder drama en meer mamma te wees.”

Dis nie net haar dogter wat Kellyanne harde bene laat kou nie.

In die afgelope vyf jaar is sy gereeld oor haar onwrikbare steun vir die omstrede president gespot. Die blonde bom, wat die veldtogbestuurder agter Trump se suksesvolle presidentsveldtog van 2016 was, is dikwels aangevat oor die kreatiewe verskonings wat sy vir die administrasie se gebreke versin het.

Terwyl ander senior personeel in die Withuis gekom
Terwyl ander senior personeel in die Withuis gekom en gegaan het, het Trump lojaal gebly aan Kellyanne, wat hom gehelp wen het in die 2016-verkiesing. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2017 het sy die uitdrukking “alternatiewe feite” geskep nadat Trump se destydse mediasekretaris, Sean Spicer, valslik beweer het die president het rekordgehore na sy saamtrekke gelok. Maar sy kon toe al die kritiek hanteer, want sy het geweet sy het die steun van haar gesin.

Haar man was aanvanklik ’n ywerige ondersteuner van die president en is glo vir ’n Withuis-pos oorweeg. Maar verlede jaar het George anders begin dink.

“Donald Trump is soos ’n poets wat handuit geruk het,” sê hy in videomateriaal uit ’n dokumentêr, Unfit, wat vandeesmaand uitgereik sal word.

George verduidelik die keerpunt het vir hom gekom toe Trump verlede jaar teen die Demokratiese kongreslede Ocasio-Cortez, Ilhan Omar, Rashida Tlaib en Ayanna Pressley uitgevaar en vir hulle gesê het hulle moet na hul eie land terugkeer. Dít ten spyte daarvan dat van die vier net Omar, wat van Somalië kom, buite Amerika gebore is.

Vir George, wie se ma van die Filippyne na Amerika geëmigreer het, het dit helderheid gebring.

“Dit het tot my deurgedring: Die man is ’n rassis; hy is boos,” sê George. Dit het hom aangespoor om sy organisasie te stig, wat ten doel het om “Trump en Trumpisme by die stembus te oorwin”.

Terwyl Claudia haar pa se anti-Trump-sienings deel, stamp hulle steeds kop, want George bly toegewyd konserwatief en steun steeds die president se Republikeinse Party. Tog kon hulle steeds oor die weg kom. In ’n TikTok-video vroeër vanjaar het Claudia haar volgelinge gevra om toegeeflik teenoor haar ouers te wees.

Kellyanne en haar man, ­George, by ’n ­bofbalwedst
Kellyanne en haar man, ­George, by ’n ­bofbalwedstryd in 2016 saam met hul kinders (van links) Vanessa, ­George, Charlotte en Claudia. Foto: Twitter/Kellyannepolls

“Moet net asseblief nie my ma of pa haat nie. Hulle is albei wonderlike mense en ek het hulle baie lief,” het sy gesê. Maar in onlangse weke het sy van deuntjie verander. En in ’n rits tierende twiets het sy nie geskroom om haar gesin se vuil wasgoed in die openbaar te was nie. “Julle is net kwaad my stem word eindelik gehoor,” skryf sy in Junie in ’n twiet aan haar pa. “Jammer jul huwelik het misluk.”

Niemand was vreeslik verbaas toe Claudia ’n week later bekendmaak haar ouers vat haar foon af en dat sy haar Twitter-profiel moes uitwis nie. Maar twee weke later was sy terug – en sy het geen tyd verspil om haar ma se baas aan te val nie. “Skat, dalk moet jy ophou om covid-19 die ‘Chinavirus’ te noem en dit die ‘Amerikavirus’ begin noem, want dit floreer in ons land,” skryf sy in ’n twiet aan die president.

’n Rukkie later was haar volgelinge besorg nadat sy ’n TikTok-video geplaas het waarin sy beweer sy het ’n prokureur nodig, want haar ma het haar op “vals aanrandingsklagte” in hegtenis laat neem. Dit is steeds onduidelik presies wat in die Conways se huis in Washington, DC, gebeur het en die video is sedertdien afgehaal.

Maar kort daarna het haar ouers aangekondig hulle bedank uit hul politieke poste.

“Ek onttrek aan The Lincoln Project om meer tyd aan gesinsake te wy. En ek neem ’n Twitter-blaaskans,” skryf George. Intussen hou hy en sy vrou ’n front van eenheid voor. “Ons verskil oor baie dinge,” skryf Kellyanne oor haar en haar man, “maar ons is verenig oor wat die meeste saak maak: die kinders.”

Maar as hulle dankbaarheid van hul oudste dogter verwag het, het daar vir hulle ’n nare verrassing gewag. “Kyk wat het ek gedoen. Kyk wat het ek gedoen, dames en here,” spog Claudia in ’n TikTok-video. Sy deel ook dat haar ouers wou skei, maar dit laat vaar het om te probeer keer dat sy haarself mondig laat verklaar.

“Ek vat ’n breek van die sosiale media vir my geestesgesondheid. Dankie vir die liefde en steun. Geen haat teenoor my ouers nie, asseblief,” voeg sy by. Maar dit moes al haar wilskrag geverg het om van Twitter af te bly terwyl sy haar ma ’n paar dae later by die Republikeinse Party se nasionale beraad in aksie gesien het.

In een van haar Twitter-plasings het die 15-jarige
In een van haar Twitter-plasings het die 15-jarige Claudia die rede bekendgemaak waarom sy graag mondig verklaar wil word.

In haar laaste toespraak het Kellyanne Trump heelhartig geloof en hom ’n “kampioen vir vroue” genoem. “Hy neem ons in vertroue en raadpleeg ons, hy respekteer ons mening,” sê Kellyanne.

Maar dat haar dogter nie daardie siening deel nie, is duidelik.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, THE-SUN.COM; Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, TWITTER/KELLYANNEPOLLS, INSTAGRAM/CLAUDIAMCONWAY
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe