Sy verkiesingslagspreuk was “Make America Great Again”, en as jy so na Donald Trump se lofgesange aan homself luister, lyk Amerika se ekonomie onder sy presidentskap sommer blink. Dit gaan beter as ooit, sê hy – maar is dit waar, en sal dit hou?

The Don hou vol die dollar bult sy spiere te danke aan sý presidentskap. Hy spog gereeld op Twitter die Amerikaanse ekonomie is op koers sedert hy in die Withuis ingetrek het: “Ons ekonomie stel op feitlik elke front rekords op – dis waarskynlik die beste wat ons land ooit gevaar het.’’

En: “In baie opsigte is dit die puikste ekonomie in die geskiedenis van Amerika.”

Hy het die stand van die ekonomie ook al gebruik as verweer teen sy ander politieke probleme: “Stel jy iemand in ’n staat van beskuldiging omdat hy die grootste ekonomiese sukses in die geskiedenis van ons land geskep het?”

Maar gaan dit werklik beter met die Amerikaanse ekonomie as voorheen – en is dit regtig danksy Trump? Of leef hy in ’n lugborrel wat dalk vorentoe sal bars?

Die dinge waaroor Trump spog

Die eerste helfte van sy vierjaartermyn is gekenmerk deur beleggingsvriendelike stappe. Trump se aanhangers het hom geloof omdat hy belasting gesny, werkgeleenthede geskep en Amerikaanse ondernemingsgees aangevuur het.

En op die oog af lyk die syfers inderdaad goed. Op 3,7% is Amerika se werkloosheid die laagste in byna 50 jaar. Vanjaar se ekonomiese groeikoers was 4,2% in die tweede en 3,5% in die derde kwartaal.

Trump hou ook geruime tyd al vol hy verdien die erkenning vir ’n stygende aandelemark. Hy het wel stappe gedoen wat die Amerikaanse ekonomie beïnvloed het.

“Sy stimuluspakket – drastiese belastingverligting vir veral maatskappye – was ongetwyfeld ’n geweldige ekonomiese inspuiting,” meen Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Trump het ook die vuis gebal vir China met sy sogenaamde handelsoorlog. Volgens hom beskerm hy Amerikaanse produkte en bevorder hy werkskepping in die Amerikaanse vervaardigingsbedryf deur goedkoop produkte uit China met swaar invoertariewe te belas. Volgens Dawie het dit effens gehelp, maar nie noodwendig vir lank nie . . .

Hy ploeg met sy voorgangers se osse

Die verbetering van die ekonomie het egter reeds onder oudpres. Barack Obama begin en dit duur maar net voort onder Trump, sê Carl Riccadonna, ekonoom van Bloomberg Economics.

Suid-Afrikaanse ekonome stem in ’n mate saam. “Die Amerikaanse ekonomie het al sterker begin word voor Trump president geword het,” sê Dawie. “Hy het bygedra tot ekonomiese groei, maar verdien beslis nie al die krediet nie.”

Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom en verskeie kere Sake24 se ekonoom van die jaar, beaam: “Een mens kan nie daarop roem dat hy alleen die Amerikaanse ekonomie aan die gang gekry het of hou nie.”

‘Trump se spoggery oor die sterk ekonomie is misleidend’

Dawie meen ’n sleutelfaktor in Amerikaanse ekonomiese groei “tot baie groot voordeel van Trump” was dat hul sentrale bank 10 jaar gelede al met die finansiële krisis uitleenkoerse drasties verlaag het. “Deur sogenaamde quantitative easing – hoeveelheidsverruiming – het hulle massiewe kontantvloei geskep en krediet baie goedkoop gemaak.”

Finansiële wêreldmarkte het eers stadig op dié ingrypende stimulusprogram gereageer, maar “dinge het geleidelik verbeter en Trump kry nou die stertkant van dié losse monetêre beleid se positiewe impak”, sê Dawie.

Ulrich stem grootliks saam: “Sedert 2010, ná die groot resessie, het daar geleidelik momentum in die Amerikaanse ekonomie opgebou. Rentekoerse is nog tot einde 2015 baie laag gehou. Toe is dit ook eers net met ’n kwartpersentasiepunt verhoog. Die momentum het dus gespruit uit beleid waarmee die Fed (Federale Reserwebank) sedert 2010 volgehou het.”

Dik Trump die waarheid aan?

Prof. Yuwa Hedrick-Wong, ekonoom en voorsitter van Mastercard se akademiese adviesraad, skryf in die saketydskrif Forbes Trump se spoggery oor die sterk ekonomie is “misleidend”.

Volgens Yuwa is die Amerikaanse ekonomie beduidend swakker as wat dit lyk. Die hoofrede daarvoor, volgens Yuwa, is dat die styging in die aandelemark waarvoor Trump die krediet opeis nie werklike investering in die ekonomie weerspieël nie.

Yuwa verduidelik Amerikaanse maatskappye het hul groter kontantreserwes (danksy Trump se korporatiewe belastingverligting) gebruik om hul eie aandele terug te koop eerder as vir nuwe beleggings in die ekonomie.

ekonomie

Voorverlede maand het die Dow Jones- en S&P 500-indeks dan ook weer skerp geval. Ander syfers bevestig die Amerikaanse ekonomie is nie die “beste ooit” soos Trump graag spog nie.

In 2014 was die groeikoers in die tweede en derde kwartaal onderskeidelik 5,1% en 4,9% – beter as in dieselfde tydperke onder Trump.

In die laat 90’s het die koers vier jaar ná mekaar 4% verbygesteek. En in 1984 was dit 7,2%. Kortom, daar was al voorheen beduidend groter ekonomiese opbloei in Amerika as onder Trump.

Die huidige werkloosheidskoers van 3,7% is indrukwekkend – maar tog was dit in die laat 60’s amper vier jaar lank net onder 4%.

Steven Davis, ekonoom van die Hooverstigting, meen boonop Trump se handelsbeleid kan vorentoe “ ’n groot klomp ekonomiese pyn veroorsaak”.

Die onmiddellike voordele van sy belastingverminderings moet teen beduidende langtermynnadele opgeweeg word. Amerika se begrotingstekort het met 17% tot R10 biljoen aangegroei in die jaar tot September, en dit sal na verwagting binne twee jaar R13 biljoen oorskry.

Die “handelsoorlog” teen China was wel in sommige opsigte tot voordeel van die Amerikaanse ekonomie, maar nie vir lank nie, sê Dawie. China het teruggeveg deur produkte uit Amerika ook met hoër invoertariewe te belas. En omdat Amerika so baie produkte uit China invoer, het pryse vir die Amerikaanse verbruikers gestyg.

En hoe lyk die toekoms?

In sy veldtog om Republikeinse kandidate in die onlangse verkiesings vir die Amerikaanse huis van verteenwoordigers en die senaat te steun het Trump graag oor die ekonomie gespog. Maar dit het nie veel vrugte afgewerp nie.

Volgens ’n peiling deur die navorsingsgroep Gallup in Oktober beskou 55% van Amerikaners die huidige ekonomiese toestande as uitstekend of goed en net 12% as swak.

Nogtans het die Demokrate in die onlangse verkiesings die eerste keer sedert 2010 ’n meerderheid in die huis van verteenwoordigers behaal. En in die senaat het die Republikeinse meerderheid gekrimp. Die rede? Die omstrede Trump het almal buiten sy mees geharde ondersteuners vervreem.

Die soort ekonomiese groei onder Trump is waarskynlik nie volhoubaar nie, sê Dawie. Buiten dat sy maatreëls Amerika se aansienlike skuldlas vergroot, plaas die “besonder lae werkloosheidsyfer opwaartse druk op lone en salarisse.

Daar is ook ander inflasiedruk. Toenemende inflasiedruk gaan beteken hul Fed sal rentekoerse moet verhoog.” Trump het gekla die Fed is “waansinnig” nadat hulle die prima-uitleenkoers in September effens verhoog het en oor verwagtings van nog ’n verhoging vandeesmaand.

“Maar as hulle dit nie vroegtydig doen nie, kan inflasie handuit ruk en sal hulle dan beleid moet volg wat die land weer in ’n resessie kan laat beland,” sê Ulrich.

“’n Mens verwag teen die tweede helfte van aanstaande jaar weer ’n verlangsaming in die Amerikaanse groeikoers.”

Yuwa skryf Trump se besteding kan Amerika se begrotingstekort teen 2020 van 4,5% tot 6% van die bruto binnelandse produk verhoog.

Dis ’n skokkend vinnige toename en beteken die regering sal geen fiskale vermoë oorhê om die ekonomie weer aan die gang te skop wanneer die volgende resessie tref nie. 

Is ’n ‘Trump-ekonomie’ goed of sleg vir SA?

Trump se handelsoorlog met China het ’n uitwerking op laasgenoemde se ekonomiese groeikoers en dit is sleg vir grondstofproduserende lande soos Suid-Afrika, sê Ulrich.

“China is die groot koper van grondstowwe.”

Moet Suid-Afrika hoop die Amerikaanse ekonomie bly sterk onder Trump?

“Omdat die Amerikaanse ekonomie so groot is, het groei daar altyd ’n positiewe invloed op die res van die wêreld,” sê Ulrich.

Sterker groei in die Amerikaanse en wêreldekonomie “is altyd goed vir almal, ook vir Suid-Afrika”, beaam Dawie.

“Ons kan hier en daar aan die kortste end trek, byvoorbeeld as ’n sterker dollar die rand laat verswak. En ons staalprodusente is bekommerd oor tariefheffings wanneer hulle na Amerika uitvoer.”

Maar in die groter prentjie “is sterk groei in die Amerikaanse ekonomie meer goed as sleg vir Suid-Afrika”.

Nou moet ons net hoop dit hou . . .

EKSTRA BRONNE: FORBES.COM, CNN, BLOOMBERG.COM, AP, FINANCIAL TIMES, CHICAGO TRIBUNE; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/REUTERS, AAI/FOTOSTOCK SA