Onder die 2 604 top­fikse deelnemers wat onlangs vir die half-Ironman-kompetisie in Durban aan­gemeld het, het een uitgestaan: Alwyn Uys was die enigste deelnemer in ’n rolstoel.

Tog het dit die 28-jarige parapleeg nie gekeer om dié uitmergelende driekamp aan te pak en te voltooi nie. 

“1,9 km swem, 90 km fietsry en 21 km ‘draf’. Totale tyd: 6 uur 59 minute,” lui die WhatsApp-boodskap wat sy pa, Gerhard, aan Huisgenoot gestuur het kort nadat sy seun die moordende driekamp met net die krag van sy bolyf en arms voltooi het.

parapleet
Hy het 21 km in sy renstoel afgelê. Foto: Youtube/ Alwyn Uys
swem,parapleet
Hy het 1,9 km (BO) ver geswem. Foto: Chris Hitchcock & Ironman South Africa

Daarmee saam het Gerhard ’n foto van sy stralende seun gestuur; hy was die eerste parapleeg wat die half-Ironman-­kompetisie in Suid-Afrika voltooi het. 

“Ek voel lekker seer, maar dis die moeite werd,” het Alwyn ’n paar uur later telefonies aan Huisgenoot vertel. “Dit voel ongelooflik. Ek het goed voorberei en geoefen. Ek het my doelwit en mylpaal gehaal en sal dit weer wil doen.”

parapleet,sukses
Met sy medalje by sy pa, Gerhard. Foto: Verskaf

Dié vasberadenheid en positiewe in­gesteldheid is opvallend toe Huisgenoot ’n paar dae later by die huis opdaag wat hy in Durbanville, Kaapstad, met sy twee huismaats deel.

Die ander huismaats, die spelerige labrador Noah en bejaarde skaaphond Dex, hol vooruit hekkie toe toe Alwyn in sy rolstoel kom groet. Niks in die huis is aangepas vir ’n rolstoelgebruiker nie. 

“Ek het agtergekom jy kan enigiets in ’n rolstoel doen,” verklaar Alwyn terwyl hy in die kombuis Ethiopiese koffiebone op ’n skinkbord op sy skoot maal. Teen die muur is silhoeëtplakkers van voëls in vlug opgeplak – dalk simbolies van die vryheid wat hy steeds ervaar ten spyte van al die uitdagings wat hy al in sy lewe moes trotseer.

Alwyn, ’n plaasseun van Patensie in die Oos-Kaap, was ’n B.Com.-student aan die Universiteit Stellenbosch en ’n belowende Matie-­rugbyspeler toe ’n ernstige kolonsiekte in 2011 by hom gediagnoseer is.

Dokters het gewaarsku die siekte kan kanker veroorsaak en dat hy dalk nooit weer sport sal kan beoefen as hy herstel nie.

parapleet
Alwyn is die eerste parapleet wat die half-marathon voltooi het. Foto: Verskaf

Maar twee jaar nadat hy vir die siekte behandel is, het hy vir Maties se eerste span begin rugby speel tot ’n besering in sy bolyf sy rugbydrome verpletter het. Dit was toe dat die sportliefhebber besluit het om hom tot driekamp te wend.

Hy het sy B.Com.-graad in logistiek en honneursgraad in finansiële bestuur ­agter die blad gehad toe hy in Desember 2014 saam met sy gesin op St. Francisbaai gaan vakansie hou het. 

Op pad na Port Elizabeth om sy meisie van destyds vir die vakansie te gaan oplaai, het hy sy oë kort ná skemer vir ’n paar sekondes van die pad afgehaal. Hy het nie sy veiligheidsgordel aangehad nie, en toe die motor die pad verlaat en rol, is hy uit die motor geslinger. Sy nek, ribbes en rug is met die slag gebreek.“Iemand het my van Kirkwood af gebel en laat weet: ‘Jy moet kom. Ongeluk. Alwyn het seergekry,’ ” onthou Gerhard. 

“Ek het dadelik gebid dat as daar beserings is dit tydelik moet wees. Dat hy sal kan loop.” 

parapleet,sport,hoop
By die huis in Durbanville hou hy daarvan om met sy honde, Noah (links) en Dex, te speel. Foto: Misha Jordaan

Maar toe Gerhard by die hospitaal op Uitenhage aankom waarheen die ambulans eers met Alwyn gejaag het, was sy seun se eerste woorde aan hom: “Pa, my bene is dood.”Dit sou blyk hy is van die onderlyf af verlam. Hy was toe 24 jaar oud.

Alwyn was vier maande in die St. George-hospitaal in Port Elizabeth; daar was baie donker oomblikke, erken hy.“Natuurlik het ek ook vrae gestel oor hoekom sulke dinge gebeur met ’n sportiewe ou soos ek wat van die buitelewe en jag hou,” erken hy.

“Maar ek moes op ’n punt kom waar ek wie ek was, moes laat gaan, anders sou ek nooit met my lewe kon aangaan nie. 

“Eers toe kon ek die nuwe lewe embrace en uitsien na die mooi dinge wat voorlê.” 

’n Lang pad van rehabilitasie het gevolg, maar hy het nooit toegelaat dat dit hom onderkry nie, vertel sy afrigter, die biokinetikus Robert Evans. “So vinnig soos ons die rehabilitasie afgehandel het, wou hy weer aan sport deelneem. Hy het eers begin roei; toe atletiek en toe handfietsry gedoen.” 

“Ek was nooit voorheen ’n swemmer nie, maar om sonder ’n rolstoel so vinnig deur die branders te breek laat my vryheid proe”

Alwyn, deesdae ’n finansiële bestuurder in die vrugtebedryf, het in 2017 die Suid-Afrikaanse kampioenskaps­byeenkoms met sy handfiets gewen. Hy het begin droom van sy eerste half-Ironman – dieselfde driekamp waaraan hy wou deelneem voor die ­ongeluk wat sy lewe soos handomkeer verander het. 

Om die half-Ironman as parapleeg aan te durf verg groot inspanning. In die afgelope driekamp het Alwyn eers nes die ander deelnemers die 1,9 km in die see geswem, maar sy onderlyf was dooie gewig – hy het sy bene vooraf aan mekaar vasgebind. “Ek was nooit voorheen ’n swemmer nie, maar om sonder ’n rolstoel so vinnig deur die branders te breek laat my vryheid proe.” 

Daarna het Alwyn die fietsrydeel van 90 km op sy spesiaal aangepaste fiets aangepak. Hy lê plat op sy rug op die fiets en “trap” die pedale met sy hande. 

Vir die halfmarathon van 21 km daarna het hy ’n renstoel met drie wiele gebruik en die wiele met sy hande bewerk.

Hy moes laaste van al die deelnemers wegspring omdat daar nie ’n kategorie vir parapleë was nie, en by die oorgangspunte na die verskillende items moes twee mense hom help om uit die water en sy swempak en tot op sy fiets te kom, en toe weer tot in sy renstoel.

Die fietsry was die moeilikste, erken hy.

“Dit was eensaam. ’n Mens ry ver uit die stad uit en daar is nie so baie toeskouers wat jou aanmoedig nie. Jy is alleen in jou eie kop; dis sielkundig uitdagend.” 

Hy vertel van sy mededeelnemers het hom geïnspireer: ’n vrou met onder­ontwikkelde arms; oorgewig atlete.

“Hulle lyk ongesond en dit moet baie inspanning verg, maar daar is hulle – in die water, op die fiets en aan die draf. Soos ek, word hulle onderskat.”

Eers teen die einde het hy begin swaarkry.

“Al was ek goed voorberei, het dit teen die einde ’n bietjie lank geraak. My hande het blase aan gehad omdat ek dit so baie moes gebruik.” 

Maar die vermoëns van die menslike liggaam laat hom verwonderd voel, sê Alwyn.

“Dit begin by wat in jou kop aangaan en hoeveel jy in jouself glo.”

Alwyn is dieselfde ou as voor die ongeluk, vertel sy skoolvriend Thys Grobler (29). 

“Hy het met sy liefde vir sport iets anders gesoek om te doen, en dit gevind. Hy kon nie stilsit nie.”

Oor sy vriend se deelname aan die half-Ironman sê hy: “Dit was nie vir hom ’n kwessie van of hy dit gaan doen nie, maar hoe hy dit gaan doen.”

Die atleet gaan die afgelope paar maande met ’n 22-jarige vrou uit wat hy in die Shofarkerk op Stellenbosch ontmoet het. Hy wil egter nie te veel uibrei nie omdat dit nog ’n “jong liefde” is.

Vir eers mik sy gedagtes nou na sy volgende groot uitdaging: die volle Ironman in Port Elizabeth volgende jaar – 3,8 km swem, 180 km fietsry en 42 km hardloop.

Met daardie aansteeklike moed en optimisme sê hy: “Hoe meer ’n mens besef jy kan dinge regkry, hoe meer dinge wil jy doen. Dit is soos ’n sneeubaleffek.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.