In sy splinternuwe tekkies is hy skaars ’n meter lank; sy boetie is net ’n paar koppe langer as hy.

Maar in die skraal lyfies van dié twee seuns klop sulke groot harte dat hul liefdesdaad mense wêreldwyd ontroer het.

Toe hulle sien hul herdershond-kruis is dodelik siek, kon niks hulle keer om vir Meisie hulp te soek nie – nie die snerpende koue van ’n Kaapse winterdag, die staptog van byna 5 km na die naaste dierehospitaal of die feit dat klein Gerry Cedras (8) kaalvoet was en ouboet Peter (14) net R7 in sy sak gehad het nie.

Met die hond van meer as 20 kg in hul arms het hulle vier uur lank van hul ouers se huisie op ’n plaas in die omgewing van Philippi, suidoos van Kaapstad, na die naaste tak van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika gestap.

Die Cedras-broers saam met Jaque le Roux, die verpleër wat in die diere­hospitaal na Meisie omsien. Foto: Misha Jordaan

Daar is gou vasgestel sy het ’n soort bosluiskoors wat die witbloedselle aantas. As die twee broers haar nie hierheen gebring het nie, sou sy doodgegaan het. Sy is op ’n drup geplaas en het kort daarna ’n bloedoortapping gekry.

Meisie het oorleef danksy die boeties se liefde en toewyding.

“Natuurlik het ons nie oor die R7 omgegee nie,” sê Jaque le Roux, ’n verpleër by die dierehospitaal, oor die geld wat Peter vir Meisie se behandeling aangebied het.

“Ons wou hulle net help om haar te red.”

Daardie paar muntstukke in die seun se sak was geld wat hy met los werkies verdien en gespaar het om skoene vir sy kleinboet te koop.

Toe Jaque hul verhaal van ruimhartigheid en deursettingsvermoë op Facebook deel, het dit diereliefhebbers wyd en syd begeester.

Peter en Gerry het hul vereniging, een van die oudste dierewelsynorganisasies in die land, “op die map geplaas”, vertel Jaque.

Want van so ver as Nieu-Seeland, Engeland, Swede en Amerika wil mense nou iets skenk. Net vandag het hulle al 215 e-posse ontvang van mense wat wil weet hoe hulle kan help.

Danksy dié skenkings kan die twee broers nou vir die eerste keer splinternuwe klere en skoene dra en weet hulle hoe ’n hamburger en skyfies smaak.

“Ek is al gevra hoekom ons vir Peter en Gerry ’n uitsondering maak, en die antwoord is eenvoudig: Hulle is uitsonderlik. Punt,” sê Allan Perrins, uitvoerende hoof van die vereniging.

“Wat uitstaan, is dat die Cedras-gesin so geseën voel deur die welwillendheid van mense en al die skenkings dat hulle bereid is om dit met ander in die klein gemeenskap op die plaas te deel. Die seuns het wonderlike ouers wat die karakter van die twee jong mans gevorm het,” vertel hy in ’n kantoor bo die dierehospitaal waar Meisie aansterk.

Peter en Gerry saam met hul ma, Henna Cedras, voor hul huis wat gebrand het. Foto: Misha Jordaan

Terwyl ons gesels, kom die twee hondehelde ingestap. “Ons mis Meisie te veel,” kondig Peter aan. Gerry lyk bekommerd en sê nie veel nie. Hy fluister darem: “Ons is bly Meisie leef.”

Vandag is dit net so bytend koud buite soos toe hulle op Woensdag 15 Augustus die siek hond die hele pad tot hier gedra het.

Maar waar Gerry daardie dag kaalvoet was en Peter ou skoene aangehad het, dra albei nou nuwe tekkies en is hulle warm en netjies aangetrek. Hulle het weer die hele end van hul ouerhuis hierheen gestap, maar dié keer het vyf maats agternagetou.

Almal is gretig om vir Meisie te kom kuier by die hokke waar siek diere herstel.

“Sy is een jaar oud. Sy wou nie eet nie en het net bietjies-bietjies gedrink. Sy het swaar op die plaas rondgeloop. Dis hoe ons geweet het sy is siek,” vertel Peter van die dag toe hulle haar lewe gered het.

Ons sit geen diere uit wat ons kan red nie

“Ons moes haar help, want sy beskerm ons teen die skelms en speel altyd saam met ons,” verduidelik hy. Meisie én die twee het kort tevore ’n ander ramp oorleef.

Die vorige Vrydag het ’n brand in hul werkershuisie van betonstene uitgebreek. “ ’n Kers het ongelukkig omgeval terwyl ons geslaap het. Ek het my boetie wakker gemaak, en ons moes my ma help om die vlamme te blus,” onthou Peter.

Hulle het geen krag of water in die huis nie en moes saam met hul bure emmers water aandra van ’n dam ’n paar honderd meter daarvandaan. Hul pa, ’n munisipale werker in Kaapstad, het hom huis toe gehaas.

Sy sterk aan weens bosluiskoors in die hospitaal van die Dierewelsynsvereniging in Philippi. Foto: Misha Jordaan

“Hy het geskree: ‘My kinders, my kinders,’ ” vertel Gerry sag.

“Ons is nou besig om die huis reg te maak,” voeg Peter by. Hy en Gerry het blou pette aan met hul naam en die woorde “junior diereambassadeur” daarop gedruk.

As die vereniging se nuwe jong ambassadeurs is dit hul taak om by hul skool en in hul gemeenskap te verkondig hoe belangrik dit is dat mense hul honde met respek en liefde behandel.

“As jy hulle baie slaan, gaan hulle besluit dis nie meer nodig om jou te verdedig nie,” verduidelik Peter.

“Gee hulle eerder kos en water.”

Dié boodskap wil die Dierewelsynsvereniging oral in die Skiereiland versprei. Allan-hulle is ook met ’n veldtog in Elsiesrivier en Mitchells Plain besig om eienaars te oorreed om hul diere te laat steriliseer.

Ook in die plaasgemeenskap waar die Cedras-gesin woon, is die klompie honde, met name soos Witvoet en Huisbaas, ingeënt en reggemaak nadat Meisie hier in die hospitaal opgeneem is. Toe haar besoekers by haar hok aankom, spring sy opgewonde teen die hek op.

Die twee broers glimlag van oor tot oor terwyl sy hulle om die beurt in die gesig lek.

“Meisie, kom jy gou huis toe?” vra Gerry.

Sy sal ná twee weke in die dierehospitaal kan terugkeer na die plaas, waar nou sakke vol kos op haar en die ander honde wag. Haar behandeling van altesaam 21 dae sou ongeveer R25 000 gekos het, maar die vereniging het besluit om die koste te dek.

“Ons sit geen diere uit wat ons kan red nie, want ons glo elke dier verdien ’n tweede kans,” vertel Jaque oor hul werk.

By die aannemingshokke is die geblaf oorweldigend. Dit klink soos ’n smeekkreet: “Neem ons huis toe.” Tussen 50 en 60 honde wag gewoonlik hier op nuwe huise, en 10 tot 20 katte.

Perde, donkies en skape wat van mishandeling gered is, wei vredig in ’n troetelplasie op die terrein. Die vereniging lewer al 89 jaar lank ’n diens hier in Philippi. By die hek waar ons uitstap, is ’n bordjie opgeplak om besoekers aan te moedig om hul troeteldiere te kom haal.

Daarop staan: “Rescued: My favourite breed.”

Op die plaas in die Sandvlei-gebied van Philippi wag Peter en Gerry se ma, Henna, ons in toe ons met die vereniging se bakkie daar opdaag. Dié is swaar gelaai met kos, klere en beddegoed, alles skenkings van weldoeners.

Van die donasies wat ná die seuns se heldedaad vir die gesin ingestroom het. Foto: Misha Jordaan

“Ek wil net baie dankie sê aan die mense wat gee,” sê sy. Allan vertel hy bring ook vir hulle ’n bed en matras. In die tweevertrekhuis is nou net ’n enkelbed waarop al vier moet slaap wanneer hul pa, Jerome, ook by die huis is.

Peter en Gerry het ’n ouer broer, Trevor (20), maar dié werk en bly op ’n plaas hier naby. Die huis is ’n verbrande bouval. Binne hang die reuk van rook swaar in die lug, maar die gesin woon steeds daar.

Met ’n vorige besoek het Allan ’n muis gesien wat aan kos knabbel en Henna daarop gewys. “Los die muis dat hy hom knuppeldik eet,” het sy toe gesê.

“My ouers het my van kleins af geleer dat ’n mens mooi met diere moet werk,” vertel sy nou.

“Ek het die boodskap aan my kinders oorgedra.”

Buite is haar twee jongste seuns met die groot harte vir mens en dier besig om mieliemeel en brode uit ’n geskenksak aan die bure uit te deel . . .