Dis laataand op Jansenville in die Oos-Kaap waar die jong Ton Vosloo pas ’n politieke saamtrek vir die koerant Die Oosterlig gedek het.

Nou moet die joernalis sorg dat sy storie betyds by die redaksiekantoor in Port Elizabeth kom om in die volgende dag se koerant te verskyn.

Van skootrekenaars, slimfone en berigte blitsig aanlyn stuur is nog geen sprake nie, want dit is laat in die 1950’s. Ton skryf sy storie op ’n draagbare meganiese tikmasjien op ’n perstelegramvorm en skuins voor 10 die aand neem hy dit na die plaaslike poskantoor.

Hy het gereël dat die posmeester vir hom sal wag om die berig letter vir letter op ’n Morsekode-masjien na die hoofposkantoor in Port Elizabeth deur te sein.

Van daar sal dit Die Oosterlig per teledrukker bereik. “Met my eerste berigte in Oos-Kaapland het ek bygestaan terwyl die posmeester dit met Morsekode tik . . . dot-dot-dash,” vertel die afgetrede mediabaas.

Omstreeks 1960 as jong joernalis in die Kaapse middestad. Foto: City-press.News24.com

Ton, wat sowat 60 jaar gelede by die Oosterlig ingeval en eindelik as voorsitter van die mediamaatskappy Naspers* afgetree het, het nou sy herinnerings en insigte in die boek Oor Grense – ’n Lewe in die Media in ’n Tyd van Verandering saamgevat.

Dit is geen geskiedkundige, feitelike relaas nie, maar eerder “die mymerings van ’n ou man”, grinnik die gryskop-medialegende in sy en sy vrou, Anet, se pragtige huis uit 1906 wat oor die Kaapse stadskom uitkyk.

Op 81 lyk Ton steeds fors waar hy netjies in ’n ligte langmou-kraaghemp, donker snyersbroek en leerskoene op die rusbank sit.

Anet, bekend vir haar werk met kunstefeeste en as aanbieder van die VIA-program Mooi, is vandag elders besig, maar sy het gesorg vir ’n stapel koeksisters by die drinkgoed op die koffietafel.

Hier in sy ruim studeerkamer vertel Ton van “die ontsaglike ontwikkelings in die publikasiewese” wat hy kon meemaak; van die vooruitgang in kommunikasietegnologie tot omwentelings waarvan hy aan die spits was.

Ton maak ’n bietjie wyn, maar lees bly sy gunstelingtydverdryf. Foto: Jacques Stander

Hy was Naspers se besturende direkteur toe Suid-Afrika se eerste betaaltelevisiekanaal, M-Net, in 1986 gestig is.

“Dit was destyds ’n radikale sprong na die elektroniese media. Dit het Naspers se wese help verander,” gesels Ton.

MultiChoice, waaronder M-Net en DStv sorteer, is onlangs afsonderlik van Naspers en met ’n waarde van sowat R100 miljard op die aandelebeurs genoteer.

Terwyl Ton voorsitter van Naspers was, het die maatskappy tot die internasionale wêreld toegetree. “Ons bestuurspan het onder die leierskap van Koos Bekker (wat as uitvoerende hoof by hom oorgeneem het) aan die direksie voorgestel dat ons in China belê.

So het ons band ontstaan met vandag se Tencent.” Dit was grootliks danksy dié Chinese internetreus se sukses dat Naspers verreweg die grootste maatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs geword het.

“Dan het ons ook in Rusland belê,” voeg Ton by. “Ek spot altyd dat my voorgangers as voorsitter in hul graf sou omdraai, want ons is nou in die bed met die twee groot Rooi Gevare van destyds.”

In ons digitale era van nuuswebtuistes mis hy die “gekletter” van ’n tikmasjien.

Sy doopnaam is Theunissen, maar as jong joernalis is dit tot Ton, ’n ou bynaam uit sy skooldae, afgekort sodat dit in ’n enkelkolom by sy berigte in Die Oosterlig kon pas.

Deur sy roemryke loopbaan het hy Ton Vosloo gebly. ’n “Yslike” hoogtepunt was vir hom die sege wat hy as redakteur van Beeld in die destydse persstryd in die noorde gesmaak het.

“Vandag se jong mense weet dalk nie hoe die Afrikaners destyds onder mekaar baklei het nie; die noorde en suide. Naspers (toe hoofsaaklik in die Kaap gesetel) was die indringer in die noorde.”

Hy onthou nog die hoofberig wat sy koerant een oggend in 1983 kon plaas: “Beeld nou alleen in die noorde.” “Ons het toe vier ander (Perskor-) teenstanders ondergesit.”

Die destydse Perskor-mediamaatskappy het alles probeer om die aanslag af te weer. “Hulle het verneuk ook, sirkulasiebedrog gepleeg met die sogenaamde Syferfontein.”

Duisende koerante is selfs in mynskagte afgegooi om hul sirkulasiesyfers te bekook. Ton meen sy kant het “hulle bloot met gehalte ondergeploeg”.

Toe Piet Cillié, destyds Naspers-voorsitter, Ton se kantoor vroeg in die 1980’s binnestap en sê hy word as besturende direkteur oorweeg, was Ton se aanvanklike reaksie: “Hoekom pik jy op my?”

“Ek was verras, want ek het myself as redakteur van Beeld beskou en was gek oor die joernalistiek,” verduidelik hy. Nadat hy ’n dag lank daaroor nagedink het, het hy die pos aanvaar.

“Ek het geredeneer as jy redakteur is van ’n dagblad met ’n personeel van 200, somme kan doen en die koerant suksesvol bedryf, kan jy na media op dié ander vlak oorgaan.”

Hoe kry ’n mens dit reg om gereeld die regte besluite in die sakewêreld te neem? “Baie geluk is betrokke, maar die belangrikste is jy moet gedurig wakker loop, wyd lees en aan die voorpunt van ontwikkelings op jou gebied bly.”

Lees is steeds sy “groot stokperdjie”. Toe ons afstap vir ’n foto in sy wynkamer – hy maak op mikro-skaal sy eie wyn – wys Ton na ’n skets van die digter NP van Wyk Louw teen sy studeerkamermuur. “My groot hero,” sê hy.

Hy en Anet reis graag. “Ons het ’n plekkie in Parys; Anet is al half Frans,” skerts Ton. “Ek’s self mal oor Parys, die kunslokale en die museums, en die Franse geskiedenis.”

Saam met sy vrou, Anet. Hulle reis graag, deesdae veral na Parys, waar hulle ‘n woonstel het. Foto: Jacques Stander

Hulle het ook ’n groot voorliefde vir die Moselvallei in Duitsland. “Ons was op ’n bootreis toe ons dit ontdek. Dis ongelooflik. Jy sit daar op die oewer en sien hoe die bote op en af vaar en duisende mense op die fietspaadjies verbykom.

Dan drink jy heerlike rieslingwyn en voel hoe die spanning van jou afrol.” Tuis bou hy graag legkaarte. “Ek koop elke seisoen so ’n duisendstuklegkaart.”

Die oudkoerantman het steeds ’n passie vir die joernalistiek. Die uitstuur van ongetoetste nuus in die sosiale media is vir hom ’n euwel.

“Dit gaan die wêreld in en veroorsaak onrus of beïnvloed verkiesings; daarom is dit vir my nog verskriklik belangrik dat daar opgeleide, onafhanklike joernaliste moet wees.

“In Amerika is juis ’n skielike toename in aansoeke by universiteite se joernalistiekskole ná (pres. Donald) Trump se tirades teen die pers. Die jong mense wil gaan wal gooi teen die bedreiging van persvryheid.

“Suid-Afrika het vandag die grootste mate van vryheid van mening wat ons al ooit gehad het,” benadruk Ton.

“Ons vrye pers het ’n ontsaglike rol daarin gespeel om die Zuma-regime se beweerde korrupsie aan die kaak te stel. Waar sou ons nou gewees het as ons nie daardie rigtinggewende nuusmedia gehad het nie?”

  • Huisgenoot behoort aan Media24, wat deel is van Naspers.
TON OOR:

’n Merkwaardige leier:

In sy boek vertel Ton hoe hy in 1999 op ’n toer saam met Nelson Mandela deur die Noord-Kaap self die Madiba-magic ervaar en gesien het hoe die oudpresident sakelui “se arms uit potjie kon draai” om ’n skool of kliniek aan gemeen- skappe te skenk.

’n Man “met ’n hart van goud en ’n wil van staal”, som hy hom op.

Die toekoms van Afrikaans:

“Ons moenie net vir Afrikaans kolf nie, maar ook vir ander minderheidstale teen Engelse oorheersing intree.

Dié wat passievol is oor Afrikaans, moet dit aan die gang help hou. Jy kan by jou naaste Afrikaanstalige laerskool begin.

Moenie jou kinders in Engels grootmaak omdat jy dink jy berei hulle so vir die wêreld voor nie.

Daar’s soveel geslagte wat as Afrikaanssprekendes grootgeword het, maar hul plek in die hele Engelssprekende wêreld kan vol staan.”

Suid-Afrika:

“’n Baie sterk ligpunt is pres. Cyril Ramaphosa se aanvaarding van die leierskap.

Hy doen op sy tyd die regte ding wat broodnodig is ná die Zuma-jare wat ons in die grond in geboor het.

Ons moet sover moontlik goeie waardes in landsbestuur en sake bevorder en positief bly. Ons moenie hande gevou sit nie.”