At home visit with former Spring player and Cheeta
Naka Drotské is twee jaar gelede byna dood nadat hy in ’n rooftog geskiet is. Foto: Onkgopotse Koloti

Weg is die verbande wat so lank om sy regterarm gedraai was. Ook van die suisende wonddreineringsapparaat wat die skietwonde aan sy maag en bors moes skoonhou, is daar geen teken nie.

Byna twee jaar gelede het Naka Drotské ons nog half mank by sy rooibaksteenhuis in Bloemfontein ingewag, en moes hy met sy linkerhand – sy nie-dominante hand – groet. Dit was kort nadat die oud-Springbokhaker se regter-elmboog tydens ’n gewapende rooftog versplinter het en hy tydelik die gebruik van dié hand verloor het – en byna ook sy lewe. 

Vandag kan hy ons weer met ’n ferm druk van sy regterhand groet.

“Ek praat nie sommer ligtelik van ’n wonderwerk nie,” sê Naka (49), en maak hom gemaklik op ’n leerbank in die sitkamer. 

“Maar ek kan op geen ander manier vir jou verduidelik hoe dit gebeur het dat ek vandag in hierdie sitkamer – in die huis wat ek gedink het ek nooit weer sou sien nie – oorkant jou sit nie. Dit ís ’n wonderwerk.” 

Hy het immers twee keer ’n hartstilstand oorleef en was langer as ’n week aan ’n asemhalingsapparaat gekoppel. Dit was nadat hy op 29 November 2018 twee keer tydens ’n rooftog op ’n kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, geskiet is, waar sy broer Tinus (45) toe gewoon het.

Ek leef nader aan God en ek besef wat ’n groot geskenk dit is om soggens jou oë oop te maak. Ek gee meer van myself aan my geliefdes.

Naka se toestand was so kritiek dat dokters sy vrou, Marzanne (44), aangeraai het om sy gesin hospitaal toe te laat kom, net vir ingeval . . .

“Ek het teen alle verwagtinge oorleef,” sê Naka. “En nie net oorleef nie, ek lééf. Ek is springlewendig.” 

Maar hy is nie meer dieselfde mens as voorheen nie. Want dié noue ontkoming het sy lewensuitkyk verander.

“Ek het ’n tweede kans gekry,” verduidelik hy. “Ek leef nader aan God en ek besef wat ’n groot geskenk dit is om soggens jou oë oop te maak. Ek gee meer van myself aan my geliefdes.” 

Marzanne beaam speels: “En hy kyk so ’n bietjie langer na my as voorheen . . .”

Die lewe is kosbaar, het Naka opnuut besef.

“Ek het destyds stom daar in die hospitaalbed gelê en by die Here gesmeek: ‘Gee my nog net een kans, dan sal ek daarvan getuig.’ Ek is my kans gegun, en dié keer gryp ek dit elke dag aan.” 

At home visit with former Spring player and Cheeta
Sy vrou, Marzanne, by hom in die hospitaal. Foto: Verskaf

Om te vergewe en voluit te leef

Ook weg is die somber atmosfeer wat kort ná sy ontslag uit die hospitaal nog binne die mure van die drieverdiepinghuis geheers het. Ál teken van sy skermutseling met die dood is ’n roof kleiner as ’n 10c-muntstuk aan sy regterarm.

“Ek lyk weer nes voorheen, nè?” sê-vra hy vir Marzanne. Dan spot Naka self: “Behalwe dat ek nou veel dikker is as voorheen.”

Sy troos: “Man, ek hou van jou voller figuur.”

Hy het die vorige aand weer die ou koerantknipsels gelees wat sy vir hom gebêre het. Hy onthou die ontstellende opskrifte waarmee die nuus van nog ’n skokkende plaasaanval aangekondig is.

En dié keer was die slagoffer ’n alombekende en geliefde Springbokheld, ’n lid van die legendariese Wêreldbekerwenspan van 1995. 

“Naka veg om sy lewe,” sonder hy een uit. Nog een lui onheilspellend: “Naka se toestand kritiek.”

“Jy kan amper nie glo dis jy oor wie daar geskryf is nie,” sê hy half verwonderd. “Ek weet dit was ék wat daar in die hospitaalbed gelê het; ek weet my toestand wás kritiek en dat ek om my lewe baklei het, maar tog voel dit so onwerklik om te weet hoe naby ek aan die dood was.

“Dit kos jou om amper jou lewe te verloor om te besef hoe graag jy regtig nog wil leef, hoeveel dinge jy nog wil beleef en hoeveel jy nog het om te sê.” 

Soos?

“Soos om vir Marzanne te sê hoe lief ek haar het,” sê Naka byna hees. “Om vir my kinders te vertel hoe trots ek op hulle is.” 

Nou hoor sy seuns, Allen (17) en Tristan (13), en sy stiefdogters, Jezanne (21) en Anica (17), amper tot vervelens toe hoe lief hy vir hulle is, skerts hy.

Sy en Naka bly nie meer lank vir mekaar kwaad nie, vertel Marzanne.

Wie baat dit as ’n mens jou hele lewe lank met haat in jou hart rondwandel? Of om ’n wrok te koester?

“Ek wil amper sê ons dink nou twee keer as ons wil kwaad word, maar dis ook nie altyd waar nie,” voeg sy by. “ ’n Mens ervaar maar steeds dieselfde emosies, maar ons waardeer mekaar nou meer. Ons weet hoe maklik dit kan verander.”

Om te vergewe is nie maklik nie, erken Naka oor sy aanvallers. Tog het hy. 

“Wie baat dit as ’n mens jou hele lewe lank met haat in jou hart rondwandel? Of om ’n wrok te koester?” vra hy ernstig. 

Dan antwoord hy self: “Dit sou niks vir my of my geliefdes of my herstel beteken het nie. Ek kon nooit ’n gesig koppel aan wat met my gebeur het nie. Die polisie het nooit iemand vasgetrek nie. Vir my bly hulle ewig vier mans met balaklawas, en ek kan nie dat ’n gesiglose figuur my tweede kans op lewe versuur nie.” 

At home visit with former Spring player and Cheeta
Naka het opnuut besef hoe kosbaar die lewe is – en sy gesin is sy alles. Foto: Onkgopotse Koloti

Hy bring nou meer tyd as ooit tevore saam met sy gesin deur. Vandat Marzanne nie meer dansklasse aanbied nie, is dit ook makliker. Sy werk nou saam met hom in sy en die oudrugbyspeler Os du Randt se onderneming wat produkte soos niealkoholiese drankies aan kettingwinkels verskaf.

Naka is ook betrokke by ’n onderneming wat veiligheid wil bevorder.

“Marzanne bring nou elke oggend vir my koffie in die bed,” sê hy met ’n knipoog in haar rigting

Sy kap terug: “Man, ek het nog altyd vir jou koffie in die bed gebring!” 

Die erns is terug in sy stem toe hy sê hy weet nou hoe kort die lewe is.

“Ek doen moeite daarmee om te weet wat in my kinders se lewe aangaan of sommer net hoe dit met hulle gaan. Ons probeer om meer dinge saam te doen as ’n gesin.” 

Daagliks besef hy dit kon so maklik gebeur het dat hy nie meer hier by hulle sou wees nie.

“Veral omdat dit so ’n close call was. Jy weet jy moet voller leef en die klein dinge meer waardeer, want jy weet nie wanneer jy die dag jou kanse verspeel het nie. En dan is dit te laat.” 

At home visit with former Spring player and Cheeta
Hy moes ’n wonddreineringsapparaat gebruik om sy skietwonde skoon te hou. Foto: Papi Morake

Afsluiting  –  en ’n nuwe hoofstuk

Hy wil nog eendag teruggaan na die hoewe op Kameeldrift waar hy daardie Novemberaand byna noodlottig gewond is, sê Naka eerlik.

Dit laat Marzanne se oë rek. “Ek het nie geweet van hierdie plan nie,” sê sy. 

Daar is ’n hele gaping in my geheue, ’n deel van die legkaart van my lewe wat eenvoudig uitgevee is.

“Ek was anderdag weer daar in die omgewing saam met Os,” vertel Naka dan. “Ek het so ewe vir hom gesê ons moet ’n draai by die hoewe gaan maak, maar die moed het my begewe.”

Tinus en sy gesin het destyds die kleinhoewe gehuur, maar het nog dieselfde aand as die aanval daar weggetrek.

“Ek kan byna niks van daardie aand onthou nie,” sê Naka. “Daar is ’n hele gaping in my geheue, ’n deel van die legkaart van my lewe wat eenvoudig uitgevee is. Miskien is ek net nuuskierig, maar miskien vind ek tog iets daar.” 

Soos?

“Afsluiting,” antwoord Marzanne namens hom. Dan kyk sy na haar man en sê: “Ek ondersteun jou.” 

Ná sy nagmerrie-ervaring toe hy deel van die land se misdaadstatistiek geword het, is die Drotské’s nou meer veiligheidsbewus as tevore. Hul huis waar hulle die afgelope dekade gewoon het, is in die mark.

“My hart is seer oor my huis,” erken Marzanne. “Ek wil nie graag wegtrek nie.” 

’n Veiligheidslandgoed sal waarskynlik hul voorland wees, sê Naka. Want as sy noue ontkoming hom een ding geleer het, is dit dat jou geliefdes en hul veiligheid die heel swaarste by jou moet weeg.

“Ek wil nooit weer die hel beleef waardeur ons is nie,” sê hy. “Nie as ek dit kan keer nie. My gesin is kosbaar, hulle is my alles.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe