Toe hy deur die swaar houtdeure van sy Bloemfonteinse spoghuis stap, is die sterk geboude man se gemoed diep geroer. Want toe hy drie weke gelede inderhaas hier weg is hospitaal toe, het sy lewe aan ’n draadjie gehang – en dit die tweede keer binne net twee weke.

Net ’n verband en ’n masjien wat sy wonde reinig, verklap dat Naka Drotské nog weke gelede om sy lewe geveg het. Foto: Papi Morake.

Daardie dag was niemand seker of hy weer sou huis toe kom nie . . .

Dis enkele ure na dié emosionele tuiskoms dat ons met die Springbokheld Naka Drotské (48) en sy vrou, Marzanne (42), in hul drieverdieping-baksteenhuis gesels.

Die haker van die triomfantelike Springbokspan van 1995 raak aangedaan toe hy praat oor sy oorlewingstryd nadat hy op 29 November in ’n rooftog op sy broer, Tinus, se kleinhoewe in Kameeldrift, Pretoria, geskiet is.

“Dis asof ek perspektief gekry het oor als wat op die spel was die oomblik toe ek in die huis instap,” vertel hy.

Marzanne het oor Kersfees in die hospitaal as ’n engel aangetrek om Naka en ander pasiënte se gemoed op te kikker. Foto:Verskaf.

Nie net oor die gewelddadige rooftog nie, maar ook die weke in die hospitaalbed en die latere terugslae wat hy moes oorkom.

“Ek huil nie sommer nie,” sê die 48-jarige rugbybreker en voormalige Cheetahs-afrigter. “Maar hoe kan jy nie huil nie as jy weet hoe naby jy aan die dood gekom het – dit sonder ’n koebaai,” sêvra hy en kyk ’n oomblik lank na die plafon.

Dan is hy opnuut bewoë toe hy ons vertel oor die aand toe hy ’n tweede keer hospitaal toe moes gaan. Dit was net ’n week nadat dokters besluit het hy het genoegsaam van die skietwonde aan sy arm, bors en maag herstel en kan ontslaan word.

“Joeg . . . Die een oomblik gesels ons nog met aandete; die volgende oomblik skrik ek in die waakeenheid wakker en hoor ek ek is al drie dae lank op ’n respirator. Ek kan nie ’n woord sê nie, maar ek hoor ek het twee keer ’n hartstilstand beleef.”

Daarna was sy toestand so swak dat die dokters selfs die nag sy gesin ontbied het om hom te kom groet. Net ingeval.

Opnuut aan ’n hospitaalbed gekluister terwyl die minute, ure en dae verbysleep, het die moedeloosheid hom aanvanklik beetgepak.

“Binne enkele dae het my veggees gekwyn. En sonder dat ek besef het wat ek vra, vra ek God om my te kom haal,” bieg hy. Dan glimlag hy skeef. “Maar hier sit ek vandag met Marzanne langs my op die bank en Rocky (die gesin se hond) aan my voete.”

Lewend en deur sy geliefdes omring.

“Dis nie moeilik om te verstaan nie,” sê hy amper hees. “Ek het nog ’n kans op lewe gekry.”

En hy lyk en klink inderdaad sterker – al is hy gekoppel aan ’n apparaat wat hoorbaar suis terwyl dit die wonde onder sy verbande skoonhou. Hy kan selfs in die huis rondbeweeg in sy netjiese kortmouhemp en kortbroek.

“Jy kan skaars glo die hele land het ’n week gelede nog gebid dat hy moet lewe,” laat Marzanne hoor.

Maar hy kan dit glo, sê Naka.

Naka se vrou, Marzanne, is sy steunpilaar, sê hy. Sy het dag en nag by hom gewaak en hom aangemoedig om nooit op te hou om vir sy lewe en dié van sy familie te baklei nie. Foto:Verskaf

Hy verstaan nou die krag van gebed. Want in daardie hospitaalbed, toe sy moed op ’n absolute laagtepunt was, het hy God beter leer ken. In daardie bed moes hy vrede maak met wat gebeur het; hy moes aanvaar dat hy dalk nie sou leef nie.

“Toe aanvaarding eers kom, het my veggees ook teruggekeer. Dis toe dat ek besef ek het wonderwerk op wonderwerk beleef. Nou sit ek vandag hier in my sitkamer langs my vrou en ek weet: Ek sal niks ooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Met sy tuiskoms ure gelede het dit teen die 40 trappies by die voordeur uit maar sukkel-sukkel gegaan. Maar ’n gevoel van dankbaarheid het oor hom gespoel, want Marzanne was daar om hom te help.

Mense van oral het die afgelope weke na hom as ’n fighter en yster verwys, sê Naka. Maar hy verdien nie die lof nie.

“Ek wou tou opgooi; ek wou liewer sterf. Dis God wat namens my ge-fight het. Dis Marzanne wat soggens en saans langs my bed was met my kinders se boodskappe. Dis die verpleegsters wat my elke dag moed ingepraat het. Dis die duisende boodskappe van gebed en bemoediging. “Maar ék? Ek was nie ’n fighter nie.”

Naka moes die feestyd in die hospitaal deurbring. Foto: Verskaf

En ja, hy was aanvanklik verbitterd en kwaad oor daardie aanval op 29 November wat so amper sy lewe gesteel het.

Hy het daardie aand sy seuns, Allen (15) en Tristan (11), geneem na die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg, waar hulle om negeuur die aand ’n vlug na Amerika gehaal het om by hul ma, Liske, te kuier.

Naka was veronderstel om op die lughawe te bly tot nadat hul vliegtuig opgestyg het om seker te maak die vlug word nie dalk gekanselleer nie.

“Maar iets het my gedruk om vroeër na Tinus se hoewe terug te keer.”

Hy het die seuns weggesien en gery. Kort ná sewe was hy terug by die hoewe. Daar het hy om die braaivleisvuur gekuier saam met Tinus en dié se seuns, Wessel (13) en Eksteen (10), en meisie, Nadia, en haar dogter, Kara (7), asook Os du Randt, langs wie Naka in soveel Boktoetse in die skrum gesak het.

Maar Naka was net “vyf of 10 minute” terug toe die vier rowers toeslaan. Naka het hulle bestorm, en toe klap die skote.

Die eerste koeël is deur sy regterarm en borskas. Toe word hy weer geskiet, dié keer in die maag. In die warboel het Wessel die alarmknoppie gedruk en die skurke het op die vlug geslaan.

“Honderde mense sê dit was absoluut onnosel van my om die aanvallers te bestorm,” sê Naka emosioneel. “Maar wat maak jy as vier aanvallers ’n wapen op jou rig en skree: ‘Get in the house!’ Hulle was nie daar vir ons selfone en beursies nie. Dit het op die tafel gelê en hulle kon dit vat, maar hulle wou ons eerder in die huis indwing.

“Ek onthou ek het gedink ons sal waarskynlik in elk geval nie lewend daaruit kom nie. Dit het my kwaad gemaak en toe storm ek.”

Dit was Os wat met Naka hospitaal toe gejaag het. Maar hulle het nie ver gevorder nie toe hulle die betonsperstrook in die middel van die pad tref en twee motorbande sny.

Naka saam met Yolandi Bekker en Tshebo Masitsa, verpleërs van die Mediclinic Bloemfontein. Foto: Verskaf.

Twee weldoeners, Mtatheni Mudau en Pretty Nedoboni, het toe stilgehou en Naka verder na die hospitaal in Pretoria geneem. Dit was ook Os wat vir Marzanne in Bloemfontein met die skoknuus gebel het.

“Hy het ’n dringendheid in sy stem gehad,” onthou Marzanne. “Hy het gesê klim in jou kar en kom. Ek het nog gesê dis nie vreeslik snaaks nie, maar Os het volgehou dis g’n grap nie – Naka is geskiet.”

Dit was al tienuur toe sy uit Bloemfontein wegtrek om die sowat 500 km na die Montanahospitaal in Pretoria af te lê.

“Ek onthou ek het gebid en die Here gevra laat my man asseblief leef en ek net veilig in Pretoria aankom,” vertel sy en hou Naka se hand styf vas.

“Ek het ’n klein houtkruis uit my handsak gehaal en heelpad gebid. Ek was stom; stukkend. Ek kon nie eens huil nie. Ek het vir die Here gesê as Naka moet sterf, wil ek hom tog net groet voor hy gaan.”

Ook Naka het nie geweet of hy veel langer sou leef nie.

“Ek het reeds met Os oor my testament en finansies begin praat. Ek het geweet ek sou teater toe moes gaan nog voor Marzanne by die hospitaal aankom.”

“Jy weet jy is geskiet, maar jy weet nie hoe ernstig dit is nie. Al wat jy weet, is dat jy dalk nooit die kans gaan kry om ’n laaste keer vir jou vrou en kinders te sê hoe lief jy hulle het nie.”

Toe sy by die hospitaal stilhou, het haar natgeswete hande aan die motor se stuurwiel vasgekleef, vertel Marzanne. Sy was net binne die hospitaal toe Naka uit die teater kom – lewend.

“Ons kon niks vir mekaar sê nie; Naka kon in elk geval nie praat nie. Hy was in verskriklike pyn, maar ’n groot dankbaarheid dat hy leef, het ons albei omvou,” sê Marzanne.

Foto: Papi Morake.

Toe Marzanne hom die eerste keer ná die skietery sien, het Naka pas chirurgie ondergaan aan die wonde in sy regterarm en dunderm. Daarna was hy nog drie dae lank in ’n algemene saal voor hy op 7 Desember ontslaan is.

Toe kon hy saam met Marzanne na Bloemfontein terugry – huis toe. Min het hulle geweet hul ontberings is nog nie verby nie.

Naka was maar vyf dae tuis toe hy wasbleek en koorsig lyk, vertel Marzanne.

En toe, op die vooraand van hul vertrek na Jeffreysbaai vir ’n welverdiende seevakansie, beleef hy ’n erge terugslag.

Marzanne sluk swaar aan ’n koue drankie voor sy vertel: “Ek het Naka na ongevalle geneem en die volgende oomblik moes ek ’n klomp vorms teken sodat hy opgeneem kan word.

“Dokters het net gesê sy koors was hoog en hy het dubbele longontsteking. Toe stoot hulle hom sonder enige verdere verduideliking weg.

“Daar staan ek toe in die gang en wonder of my man dié keer lewend uit die teater sal kom.”

Later het die dokters gesê hy het hipovolemiese skok ervaar –die liggaam se reaksie op bloedverlies en aangetaste organe – weens dermkanaalbloeding en longinfeksie.

Later daardie nag op 11 Desember het Naka se hart twee keer gaan staan weens die hipovolemiese skok.

Op 12 Desember het dokters vir Marzanne gesê om die familie te bel om maar liefs vir Naka te groet. Maar hy het aan die lewe bly vasklou.

Naka vertel verder: “Toe ek ná drie dae my bewussyn herwin, is ek aan ’n respirator gekoppel. Ek kon nie praat nie; ek kon nie beweeg nie. Die hospitaalbed was ’n tronk. “Ek was op moedverloor se vlakte. Ek onthou hoe ek die blokke van die plafon bo my getel het, oor en oor. Ek het my dae deurgebring deur na die plafon te staar."

Niks troef dit om ná twee terugslae weer by die huis en in die arms van sy vrou te wees nie, vertel Naka. Foto: Papi Morake.

“Marzanne het vir my ge-fight, maar ek wou toe niks weet nie. Sy het gesê dat ek vir my seuns moet baklei; ek moet ophou na die plafon kyk en fight."

“Ek was op die laagste punt waar ek nóg was. Kwaad. Gefrustreerd. Hier lê ek ’n tweede keer en ek weet nie of ek dit gaan maak nie. Ek het die Here gevra om my maar te kom haal. Ek wou die stryd gewonne gee.”

Sy kon sien sy veggees het so amper verdwyn, sê Marzanne en druk haar man se hand. Maar sy was vasbeslote om hom nie te laat gaan nie.

Marzanne loof ook die verpleegpersoneel wat Naka daagliks moed ingepraat het en hom ook nie wou toelaat om hoop te laat vaar nie.

“Dalk was ek met tye ’n bietjie hard,” sê Marzanne. “Maar hoe laat jy die persoon vir wie jy die liefste is toe om bloot moed te verloor? Jy doen dit nie. Jy baklei met alles in jou dat hy teen die ding moet terugveg. Vir my, vir sy seuns . . . vir soveel ander.”

Eindelik het Naka ’n belofte aan God gemaak daar in die hospitaal: Hy sal fight, en daarna sal hy die wêreld vertel dat sy herstel ’n wonderwerk van Hom is. En toe kom die keerpunt, glo hy.

Op 27 Desember, ná 16 dae in die waakeenheid in die Mediclinic Bloemfontein, is Naka na ’n gewone saal geskuif. En vandag, net meer as ’n week later, is hy ontslaan.

Saam met sy mede-Springbokhelde soos Os, Francois Pienaar en Joost van der Westhuizen het Naka daardie dag in 1995 die Wêreldbekertrofee op Ellispark omhoog gehou. Langs hulle, met ’n Springboktrui aan en ’n Springbokpet op sy kop, het pres. Nelson Mandela van oor tot oor geglimlag.

Dit was een van die ikoniesste oomblikke in die wording van die jong reënboognasie, toe sport ’n land met ’n verdeelde geskiedenis verenig en met hoop vir die toekoms vervul het. En sy onlangse ontberings ten spyt glo Naka, nes daardie dag, dat ongeag enige probleme in ons land daar steeds rede tot optimisme is.

Naka as Springbokhaker wat in 1995 deel van die Wêreldbekerwenspan was. Foto: Getty Images.

Hy is nie meer kwaad oor die aanval waarin hy amper sy lewe kwyt was nie.

“Hoe kan ek wees? Ek het immers ’n tweede kans gekry. Nee, ek verwyt dus niemand.”

Hy gee weer daardie bekende halwe glimlag.

“Ek kan mos nie in daardie hospitaalbed lê en God vra om my gesond te maak sodat ek by my vrou en kinders kan wees en terselfdertyd met haat in my hart sit nie. Ek het vrede; selfs in my drome jaag dit my nie.”

Naka sal binnekort met rehabilitasie aan sy regterarm begin, en dokters meen hy sal volkome herstel.

Hy en Marzanne het vandag die huis vir hulself, maar môre is sy seuns terug van Amerika, vertel Naka. Ook Marzanne se dogters, Jeazanne (19) en Annica (15), kom kuier.

Vir die eerste keer sedert die skietery sal almal saam wees. Naka vat sy vrou se hande en skielik is albei weer bewoë.

“Dié vrou is my steunpilaar,” sê hy en kyk haar in die oë. “Dag en nag het sy by my gewaak, vir my geveg toe ek wou tou opgooi, my weer laat glo toe ek nie meer hoop gehad het nie."

“Ek het voor die aanval nie maklik gepraat nie; ek was nie die een om die gesprek te dra nie. Nou kan ek nie ophou praat nie, want ek wil hê mense moet weet hoe almagtig God is. Ek wil nooit weer vergeet dat ek so amper nie hier was nie; nooit vergeet dat elke dag vorentoe nou moet geld nie.”