Dit was so amper of hy het met ’n toga om sy skouers iewers op ’n preekstoel gestaan. Maar nou dra die staatsadvokaat Louis van Niekerk sy pikswart toga met ’n kraakwit kantbeffie daarby, en dit is in die hof waar hy groot vraagstukke aanpak.

Onlangs het die diep gelowige regsman die staat se getuienis in die hooggeregshof in Kaapstad gelei in die opspraakwekkende saak van Jason Rohde (50), die voor­malige uitvoerende hoof van die eiendomsreus Lew Geffen Sotheby’s International Realty, wat skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan (47).

Die sakeman Jason Rohde. Foto: Gallo Images/Brento
Die sakeman Jason Rohde. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Tydens die saak het intieme besonderhede ontvou van die liefdesdriehoek tussen die Rohde-egpaar en Rohde se skelmpie, die eiendomsagent Jolene Alterskye (37).

Rohde is gevonnis tot 20 jaar tronkstraf nadat die hof bevind het hy het Susan in Julie 2016 in ’n hotelkamer op die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch verwurg en dit na selfdood laat lyk.

Die pad tot by die vonnisoplegging was allesbehalwe maklik, erken Louis.

“Jy wroeg. Jy wroeg . . .” sê hy en skud sy kop effens waar hy sit op die stoep van die huis waar hy en sy vrou, Elsjè (49), ’n grafiese ontwerper, aan die Eersterivier op Stellenbosch woon.

Sy stem is rustig en hy is vriendelik en toeganklik – allermins ’n veglustige vuurvreter wat gereed staan om sy teenstander aan die strot te gryp.

Die staatsadvokaat Louis van Niekerk tuis saam met
Die staatsadvokaat Louis van Niekerk tuis saam met sy hond Putto. Foto: Misha Jordaan

Was hy nie tydens die uitmergelende Rohde-hofsaak wat eindelik oor 22 maande gestrek het soms spyt hy het destyds sy plan laat vaar om teologie te studeer nie?

Louis sê die lang ure wat hy werk, gaan vir hom oor geregtigheid en die waarheid.

Sy oë helder op toe hy sê hy beskou homself eerder as ’n geneser “deur geregtigheid en die uitgangspunt dat die waarheid jou vry maak”.

Ja, selfs as die waarheid die verdediging se saak versterk, sal hy dit nie verswyg nie. Soos toe die patoloog dr. Akmal Coetzee-Khan oor ’n groot bloukol aan Susan se bobeen getuig het.

Dit het die patoloog aan mishandeldevrou-sindroom laat dink.

“Toe het ek besef, wag so ’n bietjie,” vertel Louis.

Hy het onthou Susan se familie het al iets oor die kneusplek genoem, maar besef dit is nêrens in ’n verklaring nie. Hy het dadelik ondersoek ingestel.

Susan se suster, Angela Norton, het Louis vertel Susan het haar die bloukol gewys die Donderdagaand voor sy saam met Rohde Spier toe is vir die eiendomsagentskap se jaarlikse konferensie daardie naweek.

Susan het gesê sy het die besering opgedoen toe sy tydens ’n oefensessie op haar hande probeer staan, maar op ’n gewig geval het.

“Jy moet dit openbaar maak,” sê Louis.

“Dit is in die verdediging se guns; maar dit is ook in die guns van die waarheid.”

Louis se loopbaan

Al praat hy met aansteek­like geesdrif oor sy werk, was hy nie altyd so passievol oor ’n loopbaan in die regswese nie, vertel die advokaat wat in Kanada gebore is. Sy ­ouers het destyds die tabakmaatskappy Rothmans daar help vestig.

Hy was vier toe die gesin terugkeer en eindelik in 1965 op Stellenbosch nesskop.

Hier het hy saam met twee broers en ’n suster grootgeword, aan die Paul Roos-gimnasium gematrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch sy regsgrade behaal. Daarna het hy ’n prokureursklerkskap by ’n Kaapse regsfirma voltooi.

“Maar die reg het my toe nog nie aangegryp nie,” vertel hy.

“Privaat geskille tussen mense, nee, gits! Ek het net gevoel: Kan julle dit nie self oplos nie?” sê hy en lag hartlik.

Dit is toe dat hy by Unisa inskryf om deeltyds teologie te studeer. Maar die regswese het gewen toe Louis die geleent­heid kry om as aanklaer in die Oos-Kaap – eers op Maclear en toe Uitenhage – te gaan werk.

Hy het daarna in die mediese reg gespesialiseer terwyl hy twee jaar lank by ’n Pretoriase regs­firma prokureur was. In 1993 is hy Kanada toe, waar hy twee jaar lank as regsadviseur gewerk het.

Terug in Suid-Afrika het hy weer as staatsaanklaer begin werk, dié keer by die landdroshof in Wynberg, Kaapstad. Drie jaar later, in 1998, het hy ’n staats­advokaat geword.

Hy werk meestal met bedrog- en korrupsiesake.

“Dit is soos om ’n regisseur te wees, maar jy speel ook elke dag ’n aktiewe rol,” vertel hy van sy werk in die hof.

“Dit is soos om ’n huis te bou. Jy het jou argitek met ’n plan – dit is in wese die klagstaat. En jy het die elemente wat jy moet bewys. Jy moet visualiseer en daar is ’n element van kreatiwiteit daaraan. In watter volgorde gaan jy die getuienis aanbied, en het die onder­soekbeamptes al aan alles gedink?

“Veral as ’n naaste familielid gaan getuig, leef jy jou in. Dit is soos ’n medikus wat ’n kankerpasiënt begelei, ’n polisieman wat aan ’n deur moet gaan klop.”

Emosies in die hof

Tog sê hy hy probeer om nie te emosioneel betrokke te raak nie.

Nietemin was dit vir hom “baie emo­sioneel” toe Rohde op 8 November ver­lede jaar skuldig bevind is.

Met sy slotbetoog twee dae tevore was Louis oortuig hy sou die saak wen. Maar toe Rohde se regsverteenwoordiger, die medieseregspesialis adv. Graham van der Spuy, die volgende dag sy slotbetoog lewer, het Louis begin twyfel oor wat die uitspraak sou wees.

“Graham is baie bekwaam en baie oortuigend,” sê hy.

“Ek het huis toe gery en gedink ongeag hoe oortuig ek is, ongeag van alles wat ek weet, moet ’n mens hul argumente trompop aandurf.

“Ek moes myself vra: Wat sou dit beteken as hy onskuldig bevind word? Dit maak nie van my ’n slegte aanklaer nie, daardie soort ding . . . Al hierdie vrae gaan deur jou kop. Het jy genoeg gedoen? Wat kon jy anders gedoen het?”

Toe Rohde die volgende oggend wel skuldig bevind word, was dit asof ’n berg van Louis se skouers afrol.

“My vrou was ook daar; sy het my geweldig ondersteun. Maar dit was, jô . . . Ek was eintlik in trane. Kyk, ek is baie gereserveer en ek fokus op die regsaspekte en die interessantheid daarvan, maar dit is natuurlik ook ’n sielkundige stryd. Altyd.

“Hulle met hul vier advokate en twee prokureurs wat daardie kant sit, en jy sit alleen aan hierdie kant. So jy staal jouself. Dit was vir my ’n katarsisoomblik.”

Maar Rohde se vonnisoplegging op die 62ste dag van die verhoor was “ ’n neutrale oomblik” vir Louis.

“Ek het gedink 18 tot 20 jaar, en dit is wat hy gekry het.”  

Hy en Elsjè het daarna ’n Japannese middagete gaan geniet.

“Ek het wel die aand ’n whisky gedrink. Dit was lekker om net te ontspan.”

Maar nie almal was ewe tevrede met die uitkoms van die saak nie. Kort ná die vonnisoplegging het Jolene die twee ondersoekbeamptes, serss. Marlon ­Appollis en Stephen Adams, op die polisie se Facebookblad gekritiseer.

Sy het ook in ’n boodskap aan die Cape ­Argus uitgevaar teen die nasionale vervolgingsgesag en regter Gayaat ­Salie-Hlophe.

Jolene het die inskrywing uitgevee kort nadat dit geplaas is en haar Facebookprofiel verwyder. Haar regsverteenwoordiger, William Booth, het ná die voorval gesê sy het “onomwonde verskoning ­gevra vir haar uitlatings in die sosiale media”. Oor Jolene se bewerings wil Louis hom nie uitlaat nie.

Tydens die uitgerekte Rohde-­verhoor was Louis al soggens kwart voor ses op kantoor in die Kaapse middestad. Soms moes hy tot eenuur die oggend getuies vir die volgende dag se hofverrigtings help voorberei.

Elsjè moes hom partykeer herinner om ’n blaaskans te neem.

Louis en sy vrou, Elsjè, woon op Stellenbosch saam
Louis en sy vrou, Elsjè, woon op Stellenbosch saam met hul twee honde en twee katte. Foto: Misha Jordaan

Die twee het mekaar by die NG kerk in Durbanville ontmoet en is nou sewe jaar getroud. Vir ontspanning gaan stap hulle graag in die Stellenbosse berge saam met hul twee honde of breek weg na hul familie se ­vakansiehuis op Hermanus.

Ondanks die lang ure en stresvolle oomblikke bly hy mal oor sy werk en wil hy aanhou veg vir geregtigheid.

“Dit ís waar wat in die Bybel staan: Die waarheid sal jou vry maak,” sê Louis.

“Dit gee jou ’n ligtheid.”

Die nasionale vervolgingsgesag se woordvoerder, Eric Ntabazalila, het bevestig hulle het Jolene Alterskye se verskoning vir haar uitlatings ontvang.

Op 12 Maart is bekendgemaak dat Jason Rohde appèl teen sy skuldigbevinding en opgelegde straf gaan aanteken.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe