Nadat Jane Slater ’n Fitbit – ’n gewilde fiksheidstoestel wat jy soos ’n horlosie aan jou arm dra – by haar kêrel as Kersgeskenk gekry het, was die laaste ding wat sy verwag het om met dié apparaat van sy verneukery uit te vind.

Jane, ’n Amerikaanse voetbal-sportkorrespondent, het onlangs op haar Twitterblad vir aanhangers vertel hoe sy van haar ekskêrel – wat een oggend om 04:00 nêrens te vinde was nie – se ontrou uitgevind het. 

Hoe het dit gebeur?

Die paartjie het hul Fitbits met mekaar gesinchroniseer in ’n poging om mekaar gemotiveerd en gefokus te hou, maar haar kêrel het waarskynlik nie daaraan gedink dat sy meisie na sy Fitbit-inligting sou kyk toe sy hom nie in die vroeë oggendure kon opspoor nie.

“’n Ekskêrel het vir my ’n Fitbit vir Kersfees gegee,” het Jane geskryf.

“Ek was mal daaroor. Ons het dit gesinchoniseer, mekaar gemotiveer. Ek het dit nie gehaat tot ek hom 04:00 in die oggend nie in die hande kon kry nie en sy fisieke aktwiteit op die app toegeneem het.”

Sy het verduidelik dat hy nie ’n vroeë gimklas bygewoon het nie. 

“Bederfbrokkie: Hy was nie ingeskryf vir ’n Orange Theory klas om 04:00 nie.”

“Ek wens die storie was nie waar nie,” het sy bygevoeg.

Duisende mense het van haar twiet gehou en dit hertwiet.

Bronne: The Sun, Fox News, Twitter