Die eienaar en bestuurder van twee bekende motorhandelaars in Pretoria is reeds twee weke in Hongkong vasgekeer nadat hul reis om die Blitsbokke in die Sewesreeks te aanskou, erg skeefgeloop het. 

Pieter Bouwer (36), van Gys Pitzer-motors in Lindo Park, Pretoria, en Pieter Potgieter (32), die eienaar van Sunward Motors, ook in Pretoria, het vier dae agter tralies in ’n Hongkongse tronksel deurgebring voordat hulle Maandag 8 April op borgtog van 2000 Hongkongse dollar elk vrygelaat is. 

Gys Pitzer, Pieter Bouwer se werkgewer, het bevestig hulle sou Donderdag 18 April weer in ’n hof in Hongkong op aanklag van poging tot diefstal verskyn nadat hulle Donderdag 4 April in hegtenis geneem is in ’n kroeg naby die hotel waar hulle gebly het. 

“Dis ’n horror,” was Gys se woorde aan Huisgenoot oor die situasie waarin die twee gesinsmanne hulle nou in bevind.

Hy en nog ’n vriend, wat saam gereis het, het hulle dae lank bygestaan voor hulle noodgedwonge na Suid-Afrika moes terugkeer.  

“Stel jou voor hoe jy sou voel vasgekeer in ’n vreemde land in ’n vreemde tronk? Hulle was vier dae in die selle voor hulle op borgtog uit is. Hulle het nie geëet nie – hulle kón nie die kos wat hulle voorgesit is, eet nie. Hulle het nie geslaap nie. Dit alles oor ’n misverstand. ’n M**rse misverstand.” 

“Dis ’n horror,” was Gys se woorde aan Huisgenoot oor die situasie waarin die twee gesinsmanne hulle nou in bevind.

Gys vertel hulle was vier wat die Donderdag saam in Hongkong aangekom het. Die twee Pieters het in ’n nabye “disco-kroeg” gaan kuier. Pieter Bouwer het die reis as prys deur die werk gewen. 

“Ek was nie saam uit die aand nie, so ek kan nie vir jou met presiese sekerheid sê wat het gebeur nie. Hoe ek verstaan het, het die bouncer by die deur ’n beursie opgetel en dit vir Pieter (Bouwer) gegee. Pieter het sy beursie aan hom gehad en het gedink dis Pieter Potgieter se beursie. Hy het dit by hom gehou.” 

Kort voor lank het ene mnr. Chan, die ware eienaar van die beursie, dit glo gesoek. Die deurman het gesê dit is in Pieter (Bouwer) se besit. Dit is toe dat Pieter daarvan beskuldig is dat hy dit wou steel. 

“Nou vra ek jou met trane in my oë, hoekom sal Pieter ’n beursie steel as hy sy eie beursie met duisende Hongkongse dollar aan hom het? Hulle het met hul aankoms hulself op die naam aan almal voorgestel en gesê waar hulle vandaan kom. Hulle het genoeg geld by hulle gehad om selfs hul eie borgtog te dek.” 

Gys se hulle het daardie Vrydag 5 April met die Blitsbokke se eerste wedstryd teen Japan oor en weer na die polisiekantoor teruggekeer waar hul reisgenote aangehou is om energiedrankies en kos te vat.

“Al wat ons nou kan hoop, is dat die reg so gou as moontlik sy gang kan gaan en hulle terug huis toe kan gaan. Hulle het albei gesinne, vroue wat erg bekommerd is en kinders. Ek weet die Suid-Afrikaanse konsulaat was by hulle, maar dis uit hulle hande.”

“Uiteraard kon ons dit nie eens vir hulle gee nie. Dit was nag.” 

“Al wat ons nou kan hoop, is dat die reg so gou as moontlik sy gang kan gaan en hulle terug huis toe kan gaan. Hulle het albei gesinne, vroue wat erg bekommerd is en kinders. Ek weet die Suid-Afrikaanse konsulaat was by hulle, maar dis uit hulle hande.” 

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkings, het op Huisgenoot se volledige navrae oor die aangeleentheid slegs die arrestasies van die twee Suid-Afrikaners bevestig.

Hy wou geen verdere inligting verskaf oor die departement se betrokkenheid of oor die omstandighede om die voorval nie. Hy het dit as “privaat” bestempel.

Op ’n vraag hoe dit ’n privaat aangeleentheid is as twee Suid-Afrikaners in die buiteland aangehou word en moontlik verhoor moet word, het hy gesê dit is nou in die hof se hande.