Nico Rossouw (48) en sy twee seuns Jannie (13) en JP (10) van Steelpoort in Limpopo is in ’n gru-ongeluk Sondagaand oorlede.

Daar sal ’n roudiens op Steelpoort, waar die seuns op skool was, en op Thabazimbi, waar Nico (ook bekend as Pieter) groot geword het, gehou word.  

Jannie en JP was in Laerskool Steelpoort op skool. Nico en sy twee seuns was op pad terug van ’n kuier by familie in Modimolle toe hulle in ’n botsing betrokke was. 

Nico se suster, Anneli Connear (47), sê ’n bakkie het na bewering nie by ’n slagboom t-aansluiting gestop nie en haar broer se Datsun-kar getref. Die kar het gerol en in vlamme uitgebars. 

“Ons was gister (Woensdag) om DNS-toetse te doen, want ons kan nie die lyke uitken nie. Hulle kan dan eers ’n doodsertifikaat uitreik,” sê sy. 

Foto: Verskaf
Die foto is oor die naweek geneem, kort voor die ongeluk. Nico (agter) saam met sy oom Connie Rossouw en neef Nellis Rossouw.

Annali sê die familie se hart is gebreek. 

“JP was so ’n goeie sportman en het uitgeblink in krieket en rugby. Hy wou ’n Springbok-rugbyspeler word. Jannie was akademies en ’n leier op skool. Hy was lief vir rekenaars,” sê sy. 

Nico sou aan die einde van die maand ’n nuwe werk in Middelburg begin en het onlangs verloof geraak, vertel Annali. 

“Daar was soveel om na uit te sien. Soveel dinge om nog voor te leef. Hy was lief vir visvang en sy familie . . . Ek gaan hom mis. Daar is nou net ek oor. My ma en pa is ook oorlede. Ek wens ons het nog tyd gehad,” sê sy. 

Die roudiens in Steelpoort sal op Vrydag 23 Augustus om 11:30 by die AGS-kerk gehou word en die roudiens op Thabazimbi word volgende Vrydag 30 Augustus om 11:30 by die New Way Christian Church gehou.