Maar dié moordenaars is nie soek nie. Hulle is twee moordwalvisse (orkas) genaamd Port en Starboard en hul slagoffers is nie mense nie, maar haaie.

Dié twee orkas is weer oor die naweek by Valsbaai gewaar nadat hulle verlede week aan sowat vyf wyfiehaaie se lewers weggelê het.

Dié karkasse het op Bettysbaai uitgespoel nadat die twee walvisse die haaie tussen hul twee vinne oopgeskeur en hul lewer uitgesuig het. 

walvis
Starboard se vin val na die teenoorgestelde kant as Port s'n. Foto: Simon's Town Boat Company

Die plaaslike walviskenner Dave Hurwitz van die Simon’s Town Boat Company het meer as 10 jaar gelede dié twee walvisse hul name gegee omdat die een se vin na regs val en die ander se vin na links, anders as ander orkas, waarvan die dorsale vin regop staan.

Dave sê hoewel hy nie self die karkasse van die haaie gesien het nie, is 10 haaie glo deur die twee walvisse verslind. 

Walvis
Port swem hier rustig in Gansbaai se waters. Foto: Simon's Town Boat Company

“Haaie word onder die water aangeval en verorber, waarna ’n olielaag na die wateroppervlak styg,” vertel Dave. Die feit dat die haaie se lewers verwyder word, maak dat die karkasse na die bodem van die see sak aangesien haaie hul lewers gebruik vir balans onder die water.

Hy het met talle ooggetuies en haaihokduikers in die gebied gesels en vasgestel Port en Starboard het binne 'n bestek van vyf uur by Robeiland sowat 10 koeihaaie gejag.

walvis
Die haaie se onderkante is oopgeskeur. Foto: SA Shark Conservancy

“Ek het al twee keer tevore die walvisse naby Robeiland gesien, maar hulle het voorheen dadelik weggeswem van die eiland af omdat daar nie soveel haaie in die gebied is nie,” vertel Dave.

Volgens Dave is die eerste geval van haaie waarvan die lewer vermis word, in 2014 aan die plaaslike kus gevind.

“Dit was ook platneus-sewekiewehaaie (koeihaaie). Aanvanklik het wetenskaplikes gedink dis vissermanne se werk, maar toe sien hulle die bytmerke aan die vinne,” vertel hy.

walvis
Die haaie is tussen hul twee vinne op hul pens oopgeskeur. Foto: SA Shark Conservancy

Volgens Meaghen McCord van die SA Shark Conservancy is daar nie veel wat enigiemand vir die haaie kan doen nie. “Ongelukkig het dié twee orkas werklik goed by ons haaie se ekostelsel ingeval en dit lyk of hulle ’n manier gevind het om veral wit- en koeihaaie suksesvol te jag,” sê Meaghen.

“Ons het ’n geselsgroep waarop ons alle nuwe getuienis van nog haaikarkasse bespreek en opweeg,” voeg sy by.

Navorsers sal dan na die karkasse gaan kyk om die oorsaak van hul dood te bevestig en biologiese monsters te vind vir verdere studie, vertel sy.