Die snye aan die onderkant van die platneushaaie se lyf is almal eenders, byna asof dit deur ’n veearts gemaak is, maar dis die werk van twee moordwalvisse. Die walvisse gryp elk ’n vin en skeur die haai oop om by sy lewer te kom.

“Sondag het vyf wyfiehaaie in Bettiesbaai aan die Weskus uitgespoel. Al vyf die haaie is tussen hul twee vinne oopgeskeur en hulle lewer is uitgesuig,” vertel Meaghen McCord van die SA Shark Concervancy (SASC)

Foto: SA Shark Conservancy
Vyf haai-wyfies is oor die naweek gevind. Foto: SA Shark Conservancy
 Foto: SA Shark Conservancy
Vyf wyfie-haaie is oor die naweek gevind. Foto: SA Shark Conservancy

Dit is ook nie die eerste keer dat haaie se lewer op dié manier aan ons kus verwyder is nie.

In 2016 is sewe platneushaaie so gevind.

Alison Towner, ’n marinebioloog van die Dyer Island Conservation Trust in Gansbaai, sê vyf withaaie is in 2017 in die Gansbaaigebied gevind met dieselfde wonde.

Dit lyk asof die orkas spesifieke soort haailewer verkies. 

 Foto: SA Shark Conservancy
Die haaie is tussen hul twee vinne op hul pens oopgeskeur. Foto: SA Shark Conservancy
 Foto: SA Shark Conservancy
Die haaie is tussen hulle twee vinne op hul pens oopgeskeur. Foto: SA Shark Conservancy
Foto: SA Shark Conservancy
Die haaie is se onderkante is oopgeskeur. Foto: SA Shark Conservancy

“Dit is ’n baie spesifieke modus operandi. Ons weet dis twee orkas genaamd Port en Starboard wat haaie jag,” sê Meaghan.

Die twee walvisse se dorsale vin (die vin op hulle rug) hang en staan nie regop soos ander orkas s’n nie.

'n Plaaslike walviskenner, Dave Hurwitz van die Simonstown Boat Company, het meer as 10 jaar gelede dié twee walvisse hul name gegee omdat die een se vin na regs val en die ander se vin na links. 

Foto: Simon's Town Boat Company
Port swem hier rustig in Gansbaai se waters. Foto: Simon's Town Boat Company

Hy sê die twee bulle gryp elk ’n vin van die haai, draai hulle op hul rug en skeur hulle oop om by die lewer uit te kom. Hulle suig dan die lewer uit. “In die afgelope 10 jaar is Port en Starboard 43 keer tussen Valsbaai en Port Elizabeth gesien. 'n Mens sien hulle altyd in die areas waar veral die platneus-sewekiefhaaie voorkom,” vertel hy.

Volgens hom is die eerste geval van haaie wat se lewer vermis is in 2014 aan ons kus gevind.

“Dit was ook platneus-sewekiefhaaie; aanvanklik het die wetenskaplikes gedink dis vissermanne, maar toe sien hulle die bytmerke aan die vinne,” vertel hy.

Dave verduidelik dat orkas gespesialiseerde jagters is en aanpas by hul omgewing. “Ons sien byvoorbeeld ’n ander orka-familie aan ons kus jag dolfyne.

Foto: Simon's Town Boat Company
Starboard se vin val na die teenoorgestelde kant as Port s'n. Foto: Simon's Town Boat Company

Hulle verjaag ’n skool, sonder een dolfyn uit en "speel" met hom tot hy dood is en vreet hom dan. Baie van hul metodes word ingespan om die jonger walvisse te leer hoe om te jag – hulle is nie aspris wreed nie,” verduidelik hy. 

Lieze Swart, ’n marinetegnikus van die departement omgewingsake beaam dit. Dié gedrag van Port en Starboard is al in ander gedeeltes van die wêreld gesien, soos in Australië.

“Elke familie leer hulself jagmetodes en gebruik verskillendes. Dit hang af watter prooi in die omgewing is en ook watter prooi hulle verkies. Ons sien dat ander orkas dolfyne jag, of in ’n ander deel van die wêreld omsingel hulle sardyne en vreet hulle. In Suid-Amerika swem hulle tot op die strand om robbe te vang. Hulle is baie slim diere,” sê sy. 

Sy sê dit lyk asof Port en Starboard kieskeurig is oor watter soort haailewer hulle eet.

Alison se dit is onduidelik of hulle net haaie vreet en of ander kos ook.

“Dis net spesifieke haaie (withaaie en platneus-sewekiefhaaie) wat hulle teiken en van hou,” sê Lieze. Dit lyk ook asof dié twee spesifiek wyfie-platneus-sewekiefhaaie verkies. 

Alison sê hulle het al waargeneem dat haaie uit ’n area uit vlug wanneer orkas in die omtrek is. “Die withaaie word in die Wes-Kaap deur baie dinge bedreig – die orkas is net nog ’n kommer,” sê sy. 

Port en Starboard is laas in Stilbaai gesien. 

Het jy hulle gesien? Laat ons weet.