Een ma kon vandeesweek haar seun by die huis verwelkom met die wete dat hy moontlik weer volkome sal herstel. Maar een gesin sal moet aanvaar dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie.

Morné van der Berg (15) is Maandag ná ’n ernstige motorongeluk in Julie uit die hospitaal ontslaan, terwyl Dano Swart (18) as kwadrupleeg steeds in die Aurora-rehabilitasiehospitaal aansterk. 

Dis in enige ouer se natuur om hul kroos te beskerm, maar toe die wit bakkie nie by die stopstraat by Prellerweg en Albertynrylaan op Uitenhage in die Oos-Kaap stop nie, is daar niks wat Sonica van der Berg, Morné se ma, kon doen nie.

Morné van der Berg
Morné toe hy vroeër die maand nog in traksie was. Foto: Verskaf.

“Jou gedagtes bly spring na wat jy anders kon gedoen het. As ek net vroeër daardie oggend gery het, kon ek uitgeswaai . . .” vertel Sonica van der Berg (35) oor die oomblik toe ’n bakkie op Vrydagoggend 26 Julie in hul Land Rover Freelander vasgery het. 

Die bakkie het met ’n spoed oor die stopstraat gery en die passasierskant van hul motor getref – ’n ongeluk wat haar seun Morné, ’n topatleet, met frakture aan twee nekwerwels en ’n gebreekte arm gelaat het.

Op 14 Augustus, ná twee weke in traksie het Morné ’n nekoperasie ontvang en hy is sowat ’n week later ontslaan.

Morné van der Berg
Morné is weer tuis. Foto: Karen Pienaar.

“Hy is Maandagoggend ontslaan. Vandat hy by die huis is, is dit die eerste nag wat ek werklik kon deurslaap. Jou liggaam bly moeg, maar ek is rustiger vandat hy weer in sy eie bed kan slaap,” vertel Sonica en slaak ’n sug van verligting.

“Morné kan rondstap, maar nie vir te lank nie, dan word hy duiselig en sy rug pyn nog met tye. Hy moet twee keer per week die fisioterapeut besoek en het ligte oefeninge wat hy by die huis moet doen om sy spiere weer sterker te maak,” vertel Sonica, ’n tuisteskepper.

Morné het al opgewonde Maandagoggend vir die dokter gewag om hom te ontslaan en wou self by die hospitaal se deure uitstap. “Die dokters wou nog vir hom ’n rolstoel reël tot by die kar, maar hy wou self daar uitloop.”

Morné van der Berg
Morné en sy broer, Henré. Foto: Verskaf.

Sonica was daardie Vrydagoggend op pad om vir haar ander seun Henré (11) by die Laerskool Handhaaf af te laai, waarna sy vir sy ouboet na Hoërskool Brandwag sou vat.

Henré is nie te ernstig in die ongeluk beseer nie en het net ’n paar skrapies op sy gesig gehad. “Vandat sy broer kan beweeg, kry hy nie meer nagmerries nie. Hy het ’n paar keer gedroom dat sy broer nie bene het nie,” vertel sy. Maar vandat ouboet weer by die huis is, helder sy gesig gereeld op.

Hoewel sy dankbaar is dat haar kind leef, was die ongeluk vir Morné ’n moeilike terugslag. Hy blink uit as atleet en droom daarvan om eendag as landloop-atleet naam te maak. Hy het in 2018 ’n merieteprys vir landloop by die skool ontvang. Hy is ’n lid van die Oos-Kaap se o. 14-span wat op 8 September in Pretoria aan die Suid-Afrikaanse landloop-kampioenskappe sou deelneem.

“Hy moet nou nog ses weke lank ’n nekstut dra, en sal moontlik eers oor 12 weke kan begin oefen,” sê Sonica. “Hy was baie emosioneel en het elke dag gehuil omdat hy nie aan die kampioenskappe kan deelneem nie, want hy het baie hard daarvoor geoefen.”

Hoewel hy nie kan deelneem nie,  wil hy steeds die reis Pretoria toe aanpak om sy spanmaats te ondersteun.

“Ek probeer vorentoe kyk, want dit kon soveel anders gewees het. Hy het dieselfde werwels as Dano Swart beskadig, en Dano is verlam,” sê Sonica.

Die onderkaptein van die eerste rugbyspan van die Hoërskool Brandwag het etlike maande vantevore ook sy nek in ’n ongeluk beseer.

Dano is op 7 Mei by provinsiale rugbyproewe by die Hoërskool Framesby op pad pale toe platgeduik en het nie weer opgestaan nie.

“Dit is ’n frustrasie, want hy sukkel steeds met sy longe. Hy het onlangs weer ’n infeksie opgedoen en moes antibiotikum kry,” vertel Karen Pienaar, ’n woordvoerder by die skool.

Dano het net beperkte beweging in sy arms en word tans by die Aurora-rehabilitasiehospitaal buite Port Elizabeth versorg en geleer hoe om net my sy arms oor die weg te kom, en selfs hiervoor gaan hy steeds duur toerusting benodig.

“Sy tragea is intussen met ’n ander klep vervang en hy is nie die hele tyd op suurstof nie,” vertel Karen. “Maar hulle moet heeltyd slym ook met die klep verwyder.”

Sonica is baie dankbaar oor die ondersteuning wat sy van die mense in die dorp ontvang het, maar dit is duidelik dat die inwoners van Uitenhage nog lank met Dano se besering gaan worstel.