So met die instapslag sal jy dink dis net nog ’n gewone, gelukkige gesinswoning.

’n Opgeskote seuntjie hol die gang af, met sy tweelingsussie agterna. Hulle verdwyn êrens in ’n kamer in, maar hul uitbundige gelag vul elke hoekie van die huis.

Ja, dié twee (5) hou hulle omtrent besig, sê hul ma, Rika (36), en pa, Wiets Botes (39).

Die sitkamer van hul siersteenhuis op Delmas, Mpumalanga, lyk stylvol, maar effe kaal. Hulle moes die tafeltjies en ornamente wegbêre, vertel Rita, “want wanneer die tweeling speel, trek hulle soos ’n orkaan deur die huis”.

Maar in die kombuis verklap die yskasdeur die skaduwee van ’n tragedie hang steeds oor dié huis. Daar is ’n magdom kleurfoto’s van die tweeling Waldu en Anuska. En in die middel, asof die tweeling hom wil beskerm, is een groot, swart-wit foto van nog ’n babaseuntjie.

Dis Wiehan, die vermoorde ouboetie wat hulle nooit geken het nie. Dis nou al ses jaar vandat klein Wiehan – toe nog ’n baba van net vyf maande – wreed saam met sy dagmoeder, Magrieta de Goede (66), vermoor is.

Wiehan se lewe is op vyf maande kortgeknip. Foto: Verskaf.

Op die ouderdom van vyf maande kan die meeste babas net-net hul nekkie styf hou wanneer hulle vasgehou word terwyl hulle leer sit.

Tog het die moordenaar sy hande om daardie weerlose nekkie geklem en hom verwurg, nes hy die bejaarde Magrieta in haar huis op Delmas om die lewe gebring het.

Vandag is die polisie se enigste verdagte, destyds die Botes-gesin se tuinier, op vrye voet en het die Botes-egpaar steeds geen antwoorde nie.

“Hoe kan enigiemand ’n weerlose baba so gevoelloos doodmaak? Hoekom het hy dit gedoen?” sê-vra Rika, want ná al die jare spook dié verskriklike vraag en die groot seer steeds by haar.

Rika het destyds vyf jaar lank gesukkel om swanger te raak voor die koms van hul eersteling, Wiehan. Net vyf maande lank het hy hierdie huis waarin hulle steeds woon met geluk gevul. Toe word die hart uit hul lewe geruk.

Ses jaar later ry die egpaar nog gereeld verby die moordhuis waar Magrieta destyds gewoon en sy saam met hul kind vermoor is. Dis ’n voortdurende herinnering aan hul lieflike eersteling en sy traumatiese dood.

Hulle vertel die moord op Wiehan spook nou nog by hulle. Foto: Papi Morake.

Magrieta se selfoon en juwele is destyds gesteel, maar dis gou teruggevind. Vir die ouerpaar is die wreedste ironie dat die voortvlugtende verdagte op die dag van hul kind en Magrieta se dood in die hof moes verskyn het in ’n ander saak.

Die klag? Strafbare manslag.

“As hy die moordenaar was en hy in die tronk was (weens die ander klag), sou die moorde nie gebeur het nie,” sug Wiets.

Hulle het al selfs die Pretoriase privaat speurder Mike Bolhuis genader om die saak te ondersoek, maar geregtigheid ontwyk die ouerpaar steeds.

En toe kom die wonderwerk; die enigste stukkie troos. Die tweeling is gebore op 1 Mei 2013, amper ’n jaar ná Wiehan se moord.

Hoewel die twee nie die seer herinnering aan hul ouboet kon versag nie, het hulle opnuut liefde, vreugde en hoop vir hul ouers gebring en hul eie klein skoentjies kom vol staan.

“Dit gaan goed; ons is regtig geseënd met die tweeling. Hulle hou ons aan die gang,” sê Rika met ’n liefdevolle glimlag.

“Ja, hulle gee ons nie tyd om stil te sit nie,” beaam Wiets met ’n laggie.

Elders in die huis klink die tweetjies se stemme steeds op in ’n gegiggel en gesels. Maar hulle het vandag nog hul “af dae” wanneer hulle swaar trek, erken die ouerpaar.

Soos op 23 Mei, die dag van Wiehan se moord. En sy verjaardag, 22 Desember.

“Hy sou vanjaar gr. 1 toe gegaan het . . .” sê Rika. Dan voeg sy saggies by: “Ek dink elke dag aan hom.”

Aan die eetkamertafel van waar ’n mens die voortuin deur die venster kan sien, lag die ouerpaar gereeld terwyl hulle oor die tweeling se manewales gesels.

Soos toe Anuska verlede maand daarop aandring om saam met Waldu minirugby te speel. Daar was te min seuns en toe word sy in die span toegelaat. Eers wou sy by Wiets weet hoe ’n mens ’n drie druk, vertel hy.

“Ons het gesê sy hoef nie daaroor bekommerd te wees nie. Sy hoef net die seuntjies in die rooi hempies te duik,” skerts Wiets. Maar toe duik sy sommer eers haar eie spanmaatjies.

Later, vertel haar ouers trots, het sy tog ’n drie gedruk.

“Waldu maak Anuska rof,” sê Wiets gemaak kwaai. En tog, wanneer Wiets die dag met Anuska raas, sê klein Waldu vir hom: “Jy mag nie my sussie slaan nie.”

Wiets met Anuska en Rika met Waldu enkele jare gelede. Foto: Facebook.

Die ouers vertel dis “net die Here se genade” wat hulle deur die donker tye dra. Wiehan se dood was boonop nie die enigste terugslag nie.

Wiets, wat in die ingenieursbedryf werk, is die afgelope vier jaar drie keer ontslaan. En Rika, ’n kantoorbestuurder by ’n boekhousaak, het albei haar ouers binne ses maande verloor: haar ma, Joey Maritz, in Julie 2017 weens ’n bloedklont op die brein en haar pa, Faan, in Januarie vanjaar weens ’n hartaanval.

“My ma het altyd gesê die pyn raak beter,” sê Rika, “maar dit werk nie so nie; ’n mens leer net met krag van Bo hoe om daarmee saam te leef.”

Ná Wiehan se dood het Wiets lank medikasie vir depressie gebruik. En lank kon hy en sy vrou nie met mekaar praat oor die omvang van hul pyn en verlies nie, erken hulle.

Maar toe kom die tweeling en gee hulle ’n nuwe rede om deur elke dag te kom.

“Daai tweetjies maak dit die moeite werd. Hulle is nou ons rede om te leef,” sê Rika.

Die tweeling kom weer die woonvertrek binne, glimlag skaam en begin na ’n kinderprogram op TV kyk. Tjoepstil. Maar kort voor lank stry hulle uitbundig en luidrugtig oor als op die skerm.

’n Swart-wit foto teen hul yskas herinner die ouerpaar gedurig aan hul verlies. Foto: Papi Morake.

Anuska het as baba nes haar vermoorde ouboet gelyk, vertel Rika. En net soos haar oorlede boetie toon sy tekens van haar pa se sterk persoonlikheid.

“Anuska is Wiets se print, sy perfekte match. Sy slaap selfs by hom.” Maar Waldu is die sosiale een, nes ma.

Ons word onderbreek deur Anuska wat haar ma ietsie te ete kom vra. Die tweeling eet gesond; enigiets van jogurt tot nartjies, vertel Rika.

Toe Anuska terug TV toe huppel, sê Rika: “Sy’t baie van Wiehan, ook sy bou.”

Die tweeling was vier jaar oud toe hulle die eerste keer gevra het wie die ander baba op die foto op die yskasdeur is.

Hulle het die tweetjies toe vertel van hul ouboet wat “in die hemel is”. Sedertdien kyk die tweeling gereeld na die honderde foto’s van Wiehan wat op ’n skootrekenaar geberg word.

Hulle het die tweeling nog nie vertel presies hoe Wiehan dood is nie. “Hy’s by Jesus; ’n stout oom het hom seergemaak,” is al wat Waldu en Anuska weet.

Waldu het al vir sy ouers vertel sy ouboet is sy denkbeeldige maatjie.

Die tweeling, hier nog babas, hou ma en pa op hul tone. Foto: Facebook.

Wiets vertel aangrypend: “Waldu het ook gedroom hy en Wiehan skop ’n rugbybal vir mekaar. Waldu het Wiehan toe gevra wanneer hy terugkom . . . Wiehan het vir Waldu gesê die tweeling se mamma en pappa het hulle nog nodig.”

Rika vertel die moord op Wiehan word ’n cold case genoem: onopgelos met geen nuwe leidrade nie.

“Wat my pla,” sê Wiets, “is dat hy (die moordenaar) nog nie gevang is nie. Ek gaan aan met my lewe, al was dit nie maklik nie. Ek moet aangaan.”

Dan skuif ’n skaduwee oor sy gesig toe hy byvoeg: “Maar ek is bang die tweeling vra eendag wat ek gedoen het om hul ouboet se moordenaar op te spoor.

“Ek wil die moordenaar net in die oë kyk. Ek soek die ou. Dit spook by my.

“Ek het hom vergewe . . . maar ek sóék hom.”