’n Werker het die lyke van Elijah en Elyssa Orejula, van Knoxville, Tennessee, op Vrydag 20 Julie in die diep kant van die swembad in die agterplaas van die Om Baby-dagsorgsentrum in Wes-Knoxville gekry, berig die tydskrif People.

Die boetie en sussie, wat nog nie twee jaar oud was nie, is na die East Tennessee-kinderhospitaal gehaas. 

Die hospitaalwoordvoerder Seth Linkous het aan Knox News gesê Elyssa is dieselfde dag dood en Elijah is die volgende Sondag dood verklaar nadat hy twee dae lank aan lewensondersteuning gekoppel was. 

Die tweeling sou in Augustus twee geword het. 

"Ná baie hartseer is Elijah weg om by sy suster, Elyssa, aan te sluit. Hulle is saam in my baarmoeder gevorm en het saam die wêreld ingekom," het die tweeling se ma, Amelia Wieand, gesê.

"Albei kinders was uiters sterk. Elyssa was Elijah se ander helfte. Hulle was geesgenote en nooit van mekaar af weg nie. Selfs in die dood was hulle saam."

Die gebroke ma het ook gesê hulle het klein Elijah se organe geskenk.

"Ek sal dit nooit verstaan nie en ek is nie seker hoe om met die pyn saam te leef nie.

"Maar om te voorkom dat ’n ander gesin dieselfde onmeetbare pyn verduur, het Elijah vandag ’n superheld geword."

Die verpletterde gesin het ’n GoFundMe-blad opgestel om vir die tweeling se mediese en begrafnisuitgawes te betaal. 

In Mei vanjaar het Tennessee se departement van menslike dienste ’n geregtlike bevel teen Om Baby se eienaar, Jennifer Salley, uitgereik nadat dit aan die lig gekom het sy beskik nie oor ’n lisensie om ’n dagsorgsentrum te bedryf nie, berig Roller Coaster

Die polisiekantoor van die distrik Knox en Tennessee se departement van kinderdienste ondersoek die voorval. 

Huisgenoot het die volgende waterveiligheidswenke ’n ruk gelede gepubliseer:

  • Moet nooit kinders sonder toesig naby water los nie, maan Johannesburg se noodbestuurdienste, hetsy dit die see, ’n swembad, dam, rivier, poel of bad is. ’n Volwassene of verantwoordelike mens moet altyd ’n oog oor kinders hou waar daar aktiwiteite in of naby water is.
  • Rig ’n veiligheidsheining met ’n selfsluithek om jou swembad op. Moet nooit ’n swembadhek oop los nie. As die swembad ’n swembadnet het, moet dit altyd in plek wees wanneer die swembad nie gebruik word nie.
  • Hou ’n lewensreddersdryftoestel naby die swembad ingeval ’n kind in die water val.
  • Maak seker daar is niks naby jou swembadheining – soos potplante of bome – wat ’n kind kan gebruik om oor die heining te klim nie.
  • Visdamme moet altyd met ’n net bedek wees. 

Bronne: people.com, knoxnews.com, rollercoaster.ie