Tomaz Maranhao en Gabriel Ferreira, wat op 25 Junie 1997 in Brasilië gebore is, was geskok om uit te vind hulle is albei fotograwe.

Die tweeling is van mekaar geskei nadat hul ma, Liduina, en haar lewensmaat besef het hulle is nie in staat om die seuns te versorg nie.

Hulle het toe die moeilike besluit geneem om die kleingoed te laat aanneem.

Tomaz is aangeneem deur ’n gesin van die stad Fortaleza en sy tweelingboetie is aangeneem deur ’n gesin van die stad Uberaba wat 2 000 km uitmekaar is.

Hul reünie het begin toe Tomaz op 16 aan Liduina voorgestel is en sy vir hom ’n foto van sy tweelingbroer se eerste verjaardagpartytjie gee, wat sy by sy aanneemgesin gekry het.

Tomaz het verskeie kere sy tweeling in die sosiale media probeer opspoor, maar sy pogings was onsuksesvol.

Maar op 1 Junie 2020 het hy gesien Gabriel se aanneemma, Vanda, se naam is agterop die foto van sy broer. Hy het haar binne 30 minute in die sosiale media opgespoor.

“My hart het uit my borskas gespring. Ek het gesweet en toe sien ek foto’s van die vrou. Ek het myself gevind, ek het myself gesien in ’n foto met ’n man langs ’n Volkswagen Beetle,” vertel Tomaz.

“Ek het paniekbevange begin raak, want ek kon nie glo wat gebeur nie, en ek het so baie soos hy gelyk.”

Hy het sy broer gekontak deur ’n polisiebeampte wat met Vanda gepraat het.

tweeling
Die tweeling het na 23 jaar aanlyn verenig. Foto: Asiawire/Magazinefeatures.co.za

Gabriel het daarna ’n oproep by die werk van Vanda ontvang om te sê sy broer wil hom kontak.

“Dit was ’n groot skok. Ek moes gaan sit en probeer sin maak van wat gebeur,” sê Gabriel. 

“My gedagtes het gemaal deur my kop en ek kon dit nie glo nie. Ek het hom op Facebook gekontak en ons het daarna op WhatsApp begin gesels.” Hulle het tot hul verbasing uitgevind hulle is albei fotograwe.

“Die skok was nog groter toe ek hom in ontspanne drag sien met ’n kamera wat om sy nek hang. Ek kon dit nie glo nie. Dit skok my tot vandag toe,” sê Tomaz.

“Ek het toe besef fotografie was nie net nog ’n ding in my lewe nie.”

Fotografie is ’n stokperdjie van Gabriel, wat in ’n apteek werk. Tomaz, wat werk as assessor by die Fortaleza fotografiemuseum, het dit sy beroep gemaak.

Die tweeling is via ’n video-oproep met Liduina herenig en Gabriel sê hy was gelukkig om te sien waar sy wortels lê.

“Ek het haar gevra om vrede in haar hart te kry.

"Dit was ’n heldedaad om ons te laat aanneem, en sy het gewys sy wou werklik hê ons moet gesond wees,” sê Gabriel.

Die broers wag nou vir die toestand met die covid-19-pandemie in Brasilië om te verbeter voor hulle mekaar in persoon kan ontmoet.