Renier Fourie en sy broer, Reinhard, was besig om bamboes met petrol te verbrand, toe hy Maandag ernstige brandwonde aan sy lyf opgedoen het.

“Ons het baie groot geskrik. Dit was net ná donker toe hulle my bel en sê hulle jaag met Renier hospitaal toe,” het Kathleen Snyman, die seuns se tante, Woensdagoggend aan Huisgenoot oor die skokvoorval vertel.

Renier is sedert Maandag hier in die hoësorgeenheid behandel.

Kathleen vertel verlig dit gaan onder die omstandighede reeds beter met hom aangesien die dokters Woensdagoggend die groenlig gegee het om hom na ’n gewone saal te verskuif.

Volgens Kathleen het Renier en Reinhard op Maandag 13 April te midde van die nasionale inperking hul 20ste verjaardag gevier. Hulle was saam toe die fratsongeluk die aand by hul huis by Eskom se Arnot-kragstasie, sowat 50 km van Middelburg, gebeur.

Kathleen vertel die broers het beplan om nog die aand lekker te braai en saam te kuier. Maar eers is hulle na die oop stuk veld agter in hul erf.

“Hulle wou bamboes, wat agter hul huis gelê het, brand. Hulle het dit eers met olie aan die brand probeer steek, maar dit wou nie lekker werk nie. En toe Renier petrol opgooi, het die kan of bottel in sy hand die vlam gesluk en glo ontplof,” vertel sy.

Renier se familie het self met hom na die Life Midmed-hospitaal gejaag nadat mense met noodhulpkennis op die toneel gehelp het om hom te stabiliseer.

Henriette, Renier se ma en Kathleen se suster, het aan haar gesê dat Renier se bene, arms en nek gebrand het. Sy hare het ook tydens die voorval afgeskroei.

“My sussie het vanoggend laat weet die dokter was vanoggend vroeg by hom om vir die eerste keer weer sy wonde oop te maak. Hy het tweedegraadse brandwonde opgedoen. Daar is ’n kans dat hy al dié week sal kan huis toe gaan, maar eers gaan hulle die wonde moet skoonmaak en skraap. Van daar, wanneer hy ontslaan word, sal hy elke vyfde dag moet terugkom om die wonde te behandel.

Kathleen sê hulle is baie dankbaar dat Renier onder die omstandighede oukei is.

“Ons is baie verlig. Vir ’n kind van daardie ouderdom . . . Hy het nog sy hele lewe voor hom. Hy en sy broer is baie geheg aan mekaar. Hulle is beste vriende en doen alles saam.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.