Dit is die eerste Suid-Afrikaner binne die grense van die land by wie COVID-19 gediagnoseer is, nadat twee Suid-Afrikaners wat op 'n luukse plesierboot werk ook positief getoets het.

Mkhize spreek tans die parlement toe oor die department van gesondheid se beoogde voorsorgmaatreëls en planne om die virus in Suid-Afrika te bekamp en te bestry.

Die department is op 25 Februarie deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Tokio in kennis gestel dat die virus by twee van die 12 Suid-Afrikaners wat op die Diamond Princess-plesierboot werk gevind is, hoewel hulle nog nie enige simptome toon nie.

Hulle kry tans mediese behandeling in Japan.

Die Diamond Princess in Yokohama. Foto: Gallo Imag
Die Diamond Princess in Yokohama. Foto: Gallo Images/Getty Images

So het die virus ontvou

Hier is ’n tydlyn oor een van die wêreld se grootste onlangse gesondheidskrisisse

31 Desember 2019

China lig die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in oor talle longonstekinggevalle in die stad Wuhan in die Hubei-provinsie. Die oorsaak is nog onbekend, al is daar vermoedens oor ’n virus.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

1 Januarie 2020

Die Huanan-groothandelsmark vir hoofsaaklik seekos en ook eksotiese wildsvleis, waar baie van die siek mense gewerk het, word toegemaak. Die aantal infeksies trek gou by meer as 40 terwyl bekommerde gesondheidswetenskaplikes nog spook om die betrokke virus te identifiseer.

7 Januarie

Chinese gesondheidsowerhede sê hulle het ’n nuwe virus geïdentifiseer. Dié lid van die coronavirus-familie word die 2019-nCoV gedoop. Coronavirusse in die algemeen word oorgedra wanneer jy naby ’n besmette mens is en die fyn druppeltjies wanneer hulle hoes of nies inasem, of wanneer jy aan ’n oppervlak waar sulke druppeltjies geland het, vat en dan aan jou gesig. Koors, erge hoes, asemhalingsprobleme, longontsteking, aangetaste lewer- en nierfunksie en nierversaking word onder meer as 2019-nCoV-simptome uitgesonder.

11 Januarie

China maak die eerste sterfte weens die virus bekend – ’n 61-jarige man wat produkte by die Huanan-mark gekoop het, is ondanks behandeling vir sy simptome dood nadat sy hart eindelik ingegee het.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

13 Januarie

Die WGO bevestig die eerste 2019-nCoV-geval buite China; ’n vrou wat uit Wuhan in Thailand aangekom het.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

16 Januarie

Japannese owerhede sê ’n Japannese man wat na Wuhan gereis het, is met die virus besmet.

20 Januarie

China teken ’n derde sterfte en meer as 200 infeksiegevalle aan, ook buite die Hubei-provinsie in stede soos Beijing, Shanghai en Shenzhen. Oor die volgende paar dae bevestig owerhede in Amerika, Taiwan, Maleisië, Australië, Viëtnam, Singapoer, Suid-Korea, Nepal en Frankryk ook gevalle.

'n Chinese wetenskaplike bevestig op staatstelevisie dat die virus van mens tot mens oorgedra kan word . . . en kommer oor ’n grootskaalse uitbreking neem toe aangesien derduisende Chinese vir hul tradisionele lang Nuwejaarsvakansie na bestemmings buite Wuhan en in die buiteland gereis het.

Veral Oosterse lande stel baie strenger maatreëls in, soos die skandering van reisigers by lughawens (vir koors en ander simptome) om die verspreiding van die virus te bekamp.

22 Januarie

Die syfers in China skiet op na 17 sterftes en 550 infeksie-gevalle.

23 Januarie

Die hele Wuhan met sy 11 miljoen inwoners word in wese onder kwarantyn geplaas en onder meer alle lug- en treinreise daarvandaan opgeskort.

Dieselfde gebeur spoedig met Xiantao en Chibi, nog twee stede in die Hubei-provinsie. Die WGO sê egter dat die uitbreking nog nie ’n "openbare noodsituasie van internasionale belang" verteenwoordig nie.

24 Januarie

Met die sterftesyfer nou 26 en meer as 830 infeksie-gevalle, maak China se Disneyland in Shanghai voorlopig toe en kondig die Chinese owerhede ook die sluiting van ’n deel van die Groot Muur van China en ander bekende toeristetrekpleisters aan.

25 Januarie

Streng reisbeperkings geld teen dié tyd vir 17 Chinese stede, en sowat 56 miljoen mense word daardeur geraak. Hongkong verklaar ’n virusnoodtoestand en beperk beweging van en na die Chinese vasteland. 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

27 Januarie

Die dodetal in China steek 100 verby en die aantal infeksie-gevalle 4 500 mense.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

30 Januarie

Die WGO verklaar nou wel ’n wêreldwye noodsituasie, met die sterftesyfer in China op 170, meer as 7 700 aangetekende gevalle, en die verspreiding van die virus na elkeen van die land se provinsies.

Indië en die Filippyne meld hul eerste infeksie-gevalle aan, en ’n dag later ook Rusland, Spanje, Swede en Brittanje.

1 Februarie

Nuwe syfers van die Chinese owerhede toon ’n skerp styging in sterftes en infeksiegevalle – tot by onderskeidelik meer as 250 en meer as 11 790. Nuwe gevalle word ook deur Kanada, Duitsland en die VAE aangemeld.

2 Februarie

Die eerste sterfte buite China word in die Filippyne aangemeld.

3 Februarie

Die Huoshenshan-hospitaal wat binne ’n ongelooflike 10 dae gebou is, open in Wuhan spesifiek vir die behandeling van coronavirus-pasiënte.

4 Februarie

Hongkong bevestig ook ’n sterfte buite China, en die wêreldwye dodetal kom op 427 te staan. België kondig hul eerste infeksiegeval aan. Die wêreldwye aantal gevalle bereik 20 630, waarvan meer as 20 470 in China.

5 Februarie

"Ek is ernstig bekommerd dat die verspreiding van dié aansteeklike siekte koue water oor die momentum vir die Olimpiese Spele gaan gooi. Ek hoop dit word sou gou moontlik uitgeroei," verklaar Toshiro Muto, uitvoerende hoof van die Tokio Olimpiese organiseringskomitee 170 dae voor sport se grootste skouspel.

Japan is wel op daardie tydstip die land met die meeste 2019-nCoV gevalle (33) buite China, maar die organiseerders sê ook daar's nog geen planne om die Spele wat 24 Julie in die Japannese hoofstad moet begin, te kanselleer nie.

Die WGO benadruk dieselfde dag daar's "nog geen bekende doeltreffende behandeling" vir die virus nie.

'n Chinese virologie-instituut maak wel in daardie stadium bekend dat hulle ’n eksperimentele middel wil patenteer om die virus te beveg: Hulle het gevind Gilead Science Inc se Remdesivir en die 80 jaar oue malariamiddel chlorokien blyk in laboratoriumstudies "hoogs doeltreffend" teen 2019-nCoV te wees.

Verdere kliniese toetse is egter nodig om die doeltreffendheid en veiligheid daarvan vir mense te bepaal, het die instituut bygevoeg.

6 Februarie

Die wêreldwye tol van die coronavirus bereik 565 sterftes en 28 276 bevestigde gevalle. 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

7 Februarie

Li Wenliang, ’n fluitjieblaser-dokter wie se aanvanklike waarskuwings oor die coronavirus hom met Chinese owerhede laat bots het – hulle het hom as ’n "gerug-strooier" gebrandmerk en hom gedreig – sterf self aan die dodelike virus.

8 Februarie

Gerekende Amerikaanse wetenskaplikes sê dit sal minstens twee jaar, waarskynlik langer, duur en $1 miljard (R15 miljard) kos om ’n inenting teen die virus te ontwikkel en goedgekeur te kry.

Groot farmaseutiese en biotegnologie-maatskappye soos Johnson & Johnson, Moderna en Inovio Pharmaceuticals het wel die uitdaging aanvaar, en daar's byvoorbeeld planne om binne enkele maande al ’n Moderna-middel op mense te begin toets.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná alles lyk dit egter asof ’n inenting nie betyds beskikbaar gaan wees om dié uitbreking te help stuit nie, maar dalk wel ’n volgende golf van die virus.

Sommige farmaseutiese firmas bekyk dus intussen ook toetse van reeds goedgekeurde middels, byvoorbeeld vir MIV of hepatitis, vir die behandeling van die coronavirus.

9 Februarie

Met 813 sterftes oortref die syfers van 2019-nCoV reeds dié van die akute respiratoriese sindroom-epidemie (SARS), wat ook tot die corona-familie behoort, en 774 lewens wêreldwyd van November 2002-Julie 2003 geëis het.

Die aantal bevestigde gevalle steek 37 500 verby.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die nuwe hospitaal in Wuhan. Foto: Gallo Images/Getty Images

10 Februarie

Met 910 sterftes en 40 651 gevalle is die einde duidelik nog nie in sig nie. Die WGO het ’n internasionale vergadering van wetenskaplikes, gesondheidsagentskappe en -finansierders vir 11 en 12 Februarie gereël om die werk aan ’n vaksien en ander behandelings en diagnose-metodes te bespoedig.

11 Februarie

Die sterftesyfer bereik 1 018 (waarvan steeds twee buite die Chinese vasteland) en die aantal gevalle wêreldwyd 43 104  (466 buite die Chinese vasteland). Die WGO herdoop die virus na COVID-19.

13 Februarie

Daar is meer as 14 000 nuwe voorvalle in die Hubei-provinsie aangemeld. Dit is ’n rekordgetal wat binne 24 uur aangemeld is. 

14 Februarie

Frankryk kondig die eerste sterfte daar weens die virus aan. ’n 80-jarige Chinese toeris is dood in ’n hospitaal in Parys. Dit is ook die eerste sterfte buite Asië.

17 Februarie

China stel ’n wetsontwerp voor wat die handel en gebruik van wilde diere verban. Wetenskaplikes glo die virus word deur die eet van wilde diere versprei.

19 Februarie

Nadat die Diamond Princess-plesierboot vir twee weke in kwarantyn geplaas is, het 442 passasiers wat negatief vir die virus getoets is die boot verlaat.

21 Februarie

'n Kerk in Suid-Korea word met die verspreiding van die virus verbind. Die Shincheonji Church of Jesus het meer as 400 lede wat positief vir die virus getoets is. Die regering het duisende kleuterskole, nasorg- en gemeenskapsentrums gesluit.

21 Februarie

Iran rapporteer twee gevalle waar mense met die virus besmet is. Etlike ure later is beide pasiënte dood. Twee dae later kondig Iran nog twee sterftes aan.

Die wêreldwye bevestigde gevalle staan nou op bykans 76 000.

23 Februarie

Die grootste coronavirus-uitbreking word in Europa aangemeld. Die hoeveelheid mense in Italië het van vyf na 150 gegroei. Toegang word beperk tot meer as 150 dorpe en stede in Italië.

24 Februarie

Namate die aantal voorvalle van mense wat met die virus besmet is vermeerder, begin die Amerikaanse president, Donald Trump, voorsorg tref vir wanneer die virus ernstige afmetings in Amerika sou aanneem.

25 Februarie

Iran meld 61 gevalle aan van mense wat positief vir die virus getoets is en 12 sterftes. 

26 Februarie

Brasilië kondig sy eerste geval aan: ’n 61-jarige man wat onlangs vanaf Italië teruggekeer het.

28 Februarie

Nigerië bevestig die eerste coronavirus-geval in dié land: ’n Italiaanse burger wat in Nigerië werk en pas van Milaan in Italië na Lagos teruggekeer het.



3 Maart

Die Indiese eerste minister Narendra Modi vermaan mense op Twitter mense om nie paniekerig te raak nie.

Daar is in hierdie stadium ’n skerp toename van die virus in Indië en is daar reeds 29 gevalle aangemeld waar pasiënte die COVID-19-virus onder lede het.

Modi gaan ook nie volgende week se Holi-vieringe bywoon nie. Dié hoogtepunt op die Hindoe-feeskalender merk die begin van lente waar feesgangers mekaar met helderkleurige verf bestrooi. Holi-vieringe by die paleis is ook gekanselleer.

4 Maart

Italië sluit skole en universiteite met die dodetal wat nou 100 oorskry het. Dit is die radikaalste besluit van alle Europese lande waar skole, maar nie universiteite gesluit is nie.

Naas China is Italië met meer as 3 000 aangemelde gevalle van die coronavirus die land met die hoogste aantal infeksies in Europa.

Ten einde skarebeheer uit te brei, word mense sterk aangemoedig om nie nader as 1 meter van mekaar te wees nie en om sover as moontlik plekke te vermy waar daar ’n skare is. 

Sokkergeesdriftiges word ook verhoed om oefensessies van die top-spanne soos Juventus in Turyn, die span vir wie Christiano Ronaldo speel, by te woon.

5 Maart

Die eerste geval van die coronavirussiekte COVID-19 word in Suid-Afrika gediagnoseer. Die 38-jarige man het saam met sy vrou van Italië gereis en op 1 Maart na Suid-Afrika teruggekeer. 

Hy is van 3 Maart in selfisolasie. Die dokter wat die man behandel het, is ook in selfisolasie.

Egipte se eerste geval waar ’n Egiptiese burger die virus opgedoen het, is ’n 44-jarige man wat via Frankryk van Serbië teruggekeer het. Vroeër was twee buitelanders met COVID-19 gediagnoseer: ’n Chinese burger wat later herstel het en ’n 54-jarige Kanadees wat van verlede Maandag in kwarantyn is.

In Griekeland het die getal tot 31 gestyg nadat 21 mense in kontak gekom het met die negende persoon in dié land wat positief vir die virus getoets het. Drie van hulle toon ernstige simptome.

  • Tot dusver is daar 95 000 bevestigde gevalle wêreldwyd aangemeld en minstens 3 300 mense het weens die virus gesterf.

Bronne: ekathimerini.comcnn.com, washingtonpost.com, france24.com, who.int, worldometers.info, Reuters, dw.com, bloomberg.com, CNN, New York Times, news24

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.