Die seun se ma, Julie*, het aan Huisgenoot vertel sy het die Uber vir haar seun, David*, bestel.

“Die rit van ons huis na sy vriend toe is net 10 minute lank,” sê sy.

“Die rit het heel normaal begin en David en die bestuurder het oor musiek gesels.

“Die bestuurder vra toe uit die bloute: ‘Wat sou jy doen as ek ’n vuurwapen op jou rig?’ David het dit afgelag, want hy dog die man maak ’n grap. Al wat David toe sê, is: ‘Ek sal jou klap.’”

Die bestuurder het toe glo ’n oproep ontvang en net voor hy David sou aflaai, ’n vuurwapen op hom gerig.

“Ons weet nie watter soort wapen dit was nie.

“Voor hy iets kon sê, het David uit die motor gespring. Die man het ook uitgeklim om hom te agtervolg, maar ’n voertuig van ’n veiligheidsmaatskappy het verbygery. Die Uberbestuurder het toe terug in sy motor geklim en weggery,” sê Julie.

David het tot by sy vriend se huis gehardloop. Hy en sy ma het later ’n saak by die Umbilo-polisiekantoor geopen.

’n Polisiebeampte by dié kantoor het bevestig ’n saak is geopen en dat dit deur die Berea-polisiekantoor ondersoek sal word.

Julie sê niks is gesteel nie.

“Uber en die polisie het vinnig gereageer. Ons het die Ubernoodnommer gebel en hulle was baie simpatiek en het beloof om dit op te volg.

Ek het ook ’n oproep uit Ierland ontvang van Uber waarin hulle beloof om hul eie ondersoek te gelas,” sê sy.

“Dit maak my briesend. Nou kan my kind nie meer iewers heen loop, fietsry of ’n Uber gebruik nie, want dis te onveilig. Sy vryheid word nou nog meer ingeperk, want ek moet hom orals heen ry.”

Uber Suid-Afrika sê in ’n verklaring dat so ’n voorval geen plek in Uber het nie.

“Wanneer só iets gebeur, verwyder ons ’n bestuurder se toegang tot die app en ons ondersoek die saak,” sê ’n woordvoerder.

Volgens die verklaring word Uberbestuurders verbied om ’n vuurwapen in die motor te hê terwyl hy die app gebruik.

“Die veiligheid van ons gebruikers en bestuurdervennote is ons grootste prioriteit.”

* Skuilname is gebruik