Dr. Christiaan Neethling Barnard het op 3 Desember 1967 wêreldbekend geword toe hy die eerste hartoorplantingsoperasie gedoen het.

Die boorling van Beaufort-Wes het as jong dokter op honde eksperimenteer om die vernouing of afwesigheid van 'n gedeelte van die ingewande te bestudeer. Vanweë sy navorsing op die gebied het hy die lewens van talle pasgebore babas gered en sy tegniek is boonop deur dokters in Brittanje en Amerika ingespan.

Dit het ook daartoe gelei dat hy in 1956 'n beurs toegeken is om hartchirurgie aan die universiteit van Minnesota in Minneapolis te studeer.

In 2001 het hy vanweë 'n asma-aanval op Cyprus gesterf. Hy was 78 jaar oud.

Januarie 1968
In Januarie 1968 het dr. Barnard in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot vertel hoe dit gebeur het dat hy en sy span die eerste hart oorgeplant het.

Die oorplanting van een mens se hart op ’n ander op 3 Desember 1967 in Kaapstad het die kroon gespan op wêreldwye navorsing oor baie jare.

So het dit ook 18 dae lank die wêreld se verbeelding aangegryp en elke slag van Denise Darvall se hart in die liggaam van mnr. Louis Washkansky het vir ons span en hul land roem verwerf.

Vir die eerste keer word die hele verhaal van hartchirurgie nou vertel, vir Die Huisgenoot opgeteken deur Louis Wessels. 

“Tevrede…? ’n Mens kan seker tevrede wees: hierdie hart was vir my ’n groot ding …”    

Christiaan Neethling Barnard het sy vingers voor hom op die lessenaar inmekaargestrengel. Die wonder van die eerste hartoorplanting op die mens was agter die rug. In die liggaam van Louis Washkansky was Denise Darvall se hart op ’n tweede lewenskof.

Hoe lank dit sou duur, kon in dié stadium nie voorsien word nie. Dr. Chris Barnard het die toekoms ook nie vooruitgeloop nie.

Agtien dae lank het die skok wat die jong meisie se hart op Sondag 3 Desember 1967 in die borskas van ’n bejaarde man tot klop gebring het, trilling tot in die uithoeke van die wêreld gestuur – hartslae van roem.

Toe het Louis Washkansky gesterf. Die deurbraak is egter – in Suid Afrika – gemaak en meer hartoorplantings kan nou verwag word, ná die triomf van Chris Barnard en sy span.

Oorkant die lessenaar voor my het prof. Chris Barnard vorentoe geleun en die palms van sy hande, wat by die vingers vervleg was, na my kant toe omgedop – lang skraal hande, regte doktersvingers . . .

“Ek het geleer om nie te gou tevrede te wees nie. Jy weet ek het musiek geneem. My onderwyser was ’n blinde man, mnr. Nel van Beaufort-Wes – ek het juis vandag ’n telegram van gelukwensing van hom gekry. Ek was nie ’n wonderlike klavierspeler nie, maar het my bes probeer waar ek kon.

“Eendag het ek vir hom ‘n stukkie gespeel en hy het gesê ek het dit mooi gespeel. Toe sê ek vir hom: “Mnr. Nel, ek oefen die ding, maar ek is nooit tevrede met my spel nie.” Daarop het hy geantwoord: Chris net ’n gek is tevrede met homself.

“Ek dink dit is iets wat ’n mens onthou: net ’n gek is tevrede met wat hy gedoen het. Dis moeilik om bo te kom, maar dit is moeiliker om daar te bly. Jy kan dit alleenlik doen deur altyd verder en verder te gaan en meer en meer te doen,” het hy gesels.

Meer en meer doen …? Ek het die man voor my, wat letterlik oornag die verbeelding van die wêreld aangegryp en onsterflike roem verwerf het, gevra wat hy nog wil doen: of daar nog ideale is.

Dr. Chris Barnard ontspan tuis.

“Ek dink ons groep se groot doel is om meer harte oor te plant, suksesvol oor te plant, die probleme van hartoorplanting te bestudeer en kennis wat ons daarmee kry, vir ander mense te gee. En as ons dit gedoen het, sal ons seker oorgaan na die oorplanting van ander organe.”

Hy het sy lang reguit hare met sy vingers teruggekam en sy stoel agteroor gekantel toe hy vervat: “Een van my idees is nog om te probeer om die pankreas oor te plant, om suikersiekte te keer.

“Daar is ’n vriend van my, ’n baie goeie vriend. Sy dogtertjie het suikersiekte gekry en ek vir haar gesê sy moet net aanhou en dan na my toe kom, dan sal oom Chris vir haar ’n nuwe pankreas gee …”

Sal sy hande hou? – wou ek weet. Hy het ’n slag self na hulle gekyk.

“Ek dink so … Ek het al gewonder of hulle dalk eendag my chirurgiese loopbaan gaan beëindig. Ek wonder nog al die tyd: ’n mens weet nie. Ek hét my bekommer en ek is in ’n sekere mate nog bekommerd daaroor.

“Party dae is my hande styf en seer en so aan, maar ek dink dat dit beter word. Dit word nie slegter nie. Ek dink definitief dat my hande erger is ná ’n operasie. Jy weet, dit is die trauma van die werk met die vingers en die hande by ’n operasie.

“Ek ly aan gewrigsonsteking en in my geval maak die werk met die hande dit ’n bietjie erger.”

Die eerste oorplanting van ’n mens se hart op ’n ander is ’n triomf in die geskiedenis van die mediese wetenskap, een van die grootste deurbrake van alle tye. Die uitwerking wat dit kan hê op orgaanoorplanting in die breë kan nog nie volkome bepaal word nie.

Vir Suid-Afrika was dit ’n oomblik van trots en glorie. Die golwe van internasionale roem en belangrikheid het selde nog so sterk teen ons aangespoel.

Dis moeilik om bo te kom, maar dit is moeiliker om daar te bly. Jy kan dit alleenlik doen deur altyd verder en verder te gaan en meer en meer te doen.
Chris Barnard

Louis Washkansky

Baie min mense het voor die oprasie van die kruideniersware-groothandelaar Louis Washkansky geweet waar hy meer as 2½ maande in die Groote Schuur-hospitaal gelê het.

Net sy vriende het geweet dat hy sewe jaar gelede ’n hartaanval gehad het, waarna dit vier jaar lank weer beter gegaan het en hy sy werk as sakeman kon behartig.

Hulle was ook die enigste mense wat geweet het dat hy 2½ jaar gelede weer ’n hartaanval gehad het, wat so ernstig was dat die hartweefsel beskadig is en die ander liggamsdele aangetas is. Al sy ledemate het begin opswel. Op 14 September verlede jaar is hy in die hospital opgeneem.

Drie weke voor die operasie het die dokters aan sy vrou gesê dat daar net een manier was om haar man te red – ’n nuwe hart moes in hom oorgeplant word. Sy is ook gewaarsku om die ergste te verwag, want Louis Washkansky se kans om veel langer te leef, was skraal.

Die besluit om ’n hartoorplanting te doen is geneem. Dr. Chris Barnard, adjunkprofessor in die chirurgie en direkteur van chirurgiese navorsing van die Universiteit van Kaapstad, en sy span was gereed – gereed soos die spanne dokters in die Nasionale Harthospitaal in Londen en dié van Stanford Medical Centre in Kalifornië.

Al wat nog ontbreek het, was ’n geskikte hart om die afgetakelde orgaan van ’n pasiënt mee te vervang. Onwillekeurig het die vraag ontstaan: wie sou eerste wees?

Denise Darvall

Op 22 November was daar ’n roering in die Groote Schuur-Hospitaal in Kaapstad. ’n Sewentienjarige van Caledon het van ’n vragmotor afgeval en is in ’n bedenklike toestand na die hospitaal gebring. Ná toetse is besluit om die operasie te doen. Verpleegsters wat met hul dagtaak klaar was, het in die gange vertoef en gewag vir die operasie. Maar op die laaste oomblik is dit afgestel omdat die hart reeds erg verswak was.

Op Saterdagmiddag, 2 Desember, was die 25-jarige Denise Darvall saam met haar ouers en broers per motor op pad na vriende in Milnerton. In Observatory het hulle stilgehou. Moeder en dogter het oor die straat gestap om ’n koek te koop. Oomblikke later het ’n ongeluk gebeur. Dit was skuins voor vieruur.

Mev. Myrtle Darvall is op slag dood. Denise Darvall is met ernstige kop- en breinbeserings na die Groote Schuur-hospitaal gebring.

Daar is weldra vasgestel dat Denise en Louis tot dieselfde bloedgroep behoort. Ook die toetse vir weefselversoening was gunstig. Die voorspel tot die drama was verby.

Om 2.15vm, Sondag 3 Desember, het die jong vrou beswyk. Kort daarna is haar hart uitgehaal en is begin met een van die roemrykste operasies in die geskiedenis van mediese wetenskap.

Denise Darvall, die jong vrou wie se hart tot roem van Suid-Afrika geklop het nadat sy in ’n motorongeluk noodlottig beseer is.

Om tien voor ses in die stilte van ’n Sondagoggend was die oorplanting gedaan. ’n Nuwe lewe het met ’n elektriese skok begin. Daar was Denise Darvall se hart op sy tweede lewegewende skof. Voor die oë van die narkotiseur het die bloeddruk geklim, hoër en hoër – 70/80 … 100/80: van krag tot krag.

Oomblikke later het ’n moeë prof. Barnard en sy mediese span die teater verlaat met die wete dat hulle geslaag het. Die hart het sy werk volmaak verrig en elke hartslag wat gevolg het, het ’n historiese prestasie onderstreep.

Later daardie Sondagoggend het ’n trotse vader sy enigste seun in Pretoria opgebel.

Toe die 16-jarige André Barnard die telefoon aan die ander kant antwoord (die skrander knaap, wat reeds sy vader se belangstelling deel en waaarskynlik ook ’n mediese dokter gaan word) kon hy nie sy ore glo nie en al wat hy kon uitstamel, was: “Ag nee, Pa .. nee, Pa … wat sê Pa … ? Nee, Pa … !”

Nader tuis het sy enigste dogter, die Springbok-waterskiër Deidre, net gesê: “Geluk ook!” en hom ’n soen op die wang gegee.

“Sy voel dit seker binne-in haar,” vertel dr. Barnard, “maar sy raak nooit in ekstase nie. Daar is net twee dinge wat haar opgewonde maak, eintlik ontstel, en “dit is die donkie wat ’n swaar wa moet trek en dan nog boonop geslaan word en ’n klonkie wat armoedig en verwaarloos lyk.”

Christiaan Barnard (agter die stuur ) en sy dogter. in 1968. Foto: Ted West/Central Press/Getty Images

Vir die wêreld was die nuus ’n mediese bom. Lof en gelukwensinge het uit alle oorde ingestroom, behalwe vir ’n versuurde opmerking hier en daar.

Op die kruin van hierdie mediese Everest is dit goed dat ’n mens terugkyk oor die pad waarlangs gekom is, instrumente te verskaf wat dit alles moontlik gemaak het.

Die bakens lê wyd versprei tot in die verste verskiet, maar van die kruin af kry ’n mens kans om ver terug te kyk en na te dink.

Die tog was eers langsaam en die vordering stadig. Teen die laaste steiltes was die spanning groot, maar die uitdaging opwindend. En danksy ’n spanpoging en die hulp van mense in verafgeleë lande is die oorwinning behaal.

'n Mens kyk terug en jy sien die bakens

Bloedgroepe

Die indeling van bloed in groepe deur dr. Karl Landsteiner in 1901, wat later aangevul is deur Decastello en Stürli en Jansky en Moss. Dr. Landsteiner se jong assistent, dr. Alexander Wiener, het ook ’n bydrae gelewer deur die Rhesus-groepe te onderskei.

Dit is van onskatbare belang vir hartchirurgie, omdat geen hartoperasie sonder reserwe bloed gedoen kan word nie.

Bloedoortappings

Die uitvinding van ’n eenvoudige stelsel waarvolgens bloedoortappings gedoen kan word deur dr. Alexia Carrel. Carrel se beroemdste eksperiment was dié waarin hy daarin geslaag het om ’n deel van ’n kuiken se hart aan die lewe en die groei gehou het.

Vorige probeerslae

Die toehartopreasies wat dr. H. Souttar in 1925 in Engeland gedoen het. Die doel daarvan was om vernouing van die mitraalklep – tussen die linkeratrium en die linkerventrikel – te korrigeer.

Operasies buite die hart

Die werk van dr. R. E. Gross van Boston, wat in 1939 daarin geslaag het om ’n verbinding tussen die aorta en die pulmonêre of longarterie effektief af te bind en in 1945 om ’n vernouing in die aorta met ’n verbinding te herstel. Dit was alles operasies buite die hart, maar tog van die grootste belang en inderdaad baanbrekerswerk.

'Bloubabas'

Die werk van dr. Alfred Blalock en dr. Helen Taussig van Baltimore wat in 1945 vir die eerste keer ’n operasie vir bloubabas beskryf het, waarin hulle die bloedvloei deur die longe verbeter het sodat meer suurstofbelaaide bloed verkry kon word.

Bloedtoevoer

Dr. Claude Beck van Cleveland, Ohio, se werk in 1932 om die bloedtoevoer na die hart te verbeter deur die sistemiese slagare regstreeks in die hart te plant. Dr. Arthur Vineberg van Kanada het in 1946 nog ’n belangrike bydrae in dié verband gelewer met werk op die koronêre slagare.

'Blinde operasies'

Die sogenaamde blinde operasies waarin chirurge binne in die hart net op gevoel af met hul vingers en instrumente gewerk het. Dit is gedoen om vernouings te herstel. Die groot baanbreker was weer eens dr. R.E. Gross van Boston.

Diepvriesbehandeling

Die navorsing wat gedoen is op die gebied van diepvriesbehandeling (hipotermie) – gegrond op die oorwinteringsteorie by diere – het ver gevorder, danksy die werk van mense soos L.W. Smith, T. Fay, W.G. Bigelow, A.A. Juvenelle, F. Boerema, E.J. Delorme, F. Gollan, J. Lewis, M. Taufic en H. Swan.

Die eerste operasie in die hart met behulp van hipotermie en waar die chirurge kon sien wat hulle doen, is in September 1952 gedoen. Die tydsbeperking was egter te groot en die mense het opnuut besef dat iets gevind moes word om die hart en die longe se funksies te vervang. Diepvriesbehandeling was egter ’n groot deurbraak vir die bewaring van organe.

Die hartlongmasjien

Die werk van dr. J.H. Gibbon van Philadelphia in Pennsilvanië om ’n hartlongmasjien te ontwikkel. Hy het reeds in 1937 vir die eerste keer so ’n masjien ontwerp.

In 1953 is sy masjien vir die eerste keer klinies gebruik in ’n operasie om ’n opening tussen die twee voorkamers van ’n pasiënt se hart suksesvol te sluit. Ander mense wat navorsing gedoen het met hartlongmasjiene, is De Wall en Lillehei, Björk en Craffoord en Clowes.

Die hartlongmasjien was teen 1960 gevestig as essensiëel vir opehartoperasies – meestal saam met hipotermie, veral nadat Bigelow die hele gedagte van hipotermie hersien en voorgestel het dat dit saam met die hartlongmasjien gebruik word.

Kruissirkulasie

Nog ’n baanbreker in hierdie verband is dr. C.W. Lillehei. Hy en sy span het in 1956 gebruik gemaak van kruissirkulasie om bloubabas te red. Daar is o.a. die moeder van die kind as “hartlongmasjien” gebruik, maar omdat dit gevare vir die moeder ingehou het, is die tegniek laat vaar.

Kunskleppe

Die ontwikkeling van kunskleppe om vernouings te herstel. Die mense wat hierdie baanbrekerswerk gedoen het, was dr. C.A. Hufnagel en dr. Alfred Star, albei van Amerika.

Dr Hufnagel was die eerste man wat ’n kunsklep in ’n mens gebruik het. Hy het nie sy klep in die hart gesit nie, maar in die neerdalende boog van die aorta ter korreksie van ’n lekkasie by die aortaklep in die hart.

Dit was doeltreffend, maar die ideaal was nog steeds om ’n klep in die hart te vervang. Daar is drie stele kleppe wat vervang kan word.

Die soektog na die ideale klep

Die bikuspidaal – of mitraalklep tussen die linkeratrium en die linkerventrikel, die halfmaanvormige kleppe tussen die linkerventrikel en die aorta en soms ook die trikuspidaalklep tussen die regteratrium en die regter ventrikel.

Dr Starr van Oregon het sy kunsmatige klep in 1960 ontwerp. Dit word vandag nog op groot skaal gebruik en hoewel daar talle ander kleppe vervaardig is, ook in Suid-Afrika, berus almal feiltlik nog op die beginsels van Starr en sy tegnikus, Edwards.

Daar was egter nog probleem, hoofsaaklik omdat die regte materiaal nog nie gevind is nie, en ook omdat komplikasies kan intree. Daar word dus nog steeds na die ideale klep gesoek.

Diere en mense

Die baanbrekerswerk van dr. Barratt Boyes van Nieu-Seeland en dr. Alfred Gunning, ’n Suid-Afrikaner in Engeland, op die gebied van die vervanging van hartkleppe met die kleppe van diere en mense.

Die vervanging van die mitraalklep lewer nog probleem op. Hierdie werk wat gedoen is ten opsigte van die vervanging van kleppe, het hartchirurge heelwat geleer omtrent die naoperatiewe behandeling van die hartspier.

Kunsmatige harte

Die werk van mense soos dr. W.J. Kolff, dr. Mihael Debakey en dr. Adrian Kantrowitz van Amerika op die vervaardiging van kunsmatige harte. Dit is gedoen omdat daar besef is dat daar afwykings is wat nie net met die vervanging van ’n klep of die sluiting van ’n lekasie herstel kan word nie.

Die kunsmatige hart is in April 1966 vir die eerste keer gebruik toe Debakey die linkerventrikel van die 65-jarige Mercel de Rudder vervang het. Hy het ses dae met die “kunshart” geleef.

Die opsienbarendste proef met volledige kunsharte is in Illinois gedoen. Daar het ’n span chirurge ’n hond se hart verwyder en vervang met ’n plastiekhart wat met elektrisiteit aangedryf is. Die hond het 14 uur geleef, water gesuip, geblaf, haar ore gespits en haar oë in skerp lig geknip.

Die eerste poging om 'n hart oor te plant

Die oorplanting van honde se harte op ander honde, wat in labaratoriums in verskillende lande gedoen is, het die moontlikheid van hartoorplantings by die mens voorafgegaan.

Daardeur is chirurge in staat gestel om die tegniek van hartoorplanting baas te raak. Die eerste poging om ’n mens se hart te vervang, is op 23 Januarie 1964 in Jackson, Mississipi, deur ’n span chirurge onder leiding van dr. James D. Hardy aangewend.

Die plan was om die hart van ’n pasiënt met breinbeskadiging in ’n sterwende hartlyer oor te plant. Die kliniese bane van die twee het nie ooreengestem nie. Toe is ’n sjampansee se hart uitgehaal, met verkoelde bloed deurspoel en oorgeplant. Daarna is die hart met ’n enkel elektriese skok tot klop gebring en het dit 90 minute lank in die borskas van die ontvanger geklop.

Met hierdie oorplanting is weer eens bewys dat ’n hart wat vir oorplanting bedoel is, doelmatig bewaar kan word. Daarmee was een van die groot vrae in verband met hartoorplantings beantwoord en was dit net ’n kwessie van tyd voordat die kruin van hartchirurgie bereik sou word.

Geskikte skenkers

Planne vir die eerste oorplanting is beraam. Oral was die probleem dieselfde – om ’n geskikte skenker en ’n pasiënt bymekaar te kry. Die res is bekend.

Die vraag duik op waarom die tot dusver suksesvolste hartoorplanting in Suid-Afrika gedoen is. Daar is drie belangrike redes: dat Suid-Afrika oor ’n chirurg van die gehalte van dr. Chris Barnard beskik; dat Suid-Afrika op hoogte is met weefselgroepering en die toetse vir weefselversoening; en dat Suid-Afrika mense het wat bereid is om hul bloed te skenk.

Dr. Chris Barnard verdien al die lof wat hy gekry het. Hy is lank reeds een van die wêreld se voorste hartchirurge: ’n plek wat hy met harde werk en intensiewe navorsing verwerf het.

Daar is ander baie bekwame manne in sy span – en elders in die land – maar sy uiterste bedrewenheid en die vertroue wat sy spanlede in hom as chirurg en spanleier gehad het, was van die grootste belang. Die rol van dr. M.C. Botha, met sy kennis van weefselgroepering en immunologie, kan nouliks te hoog geskat word.

Die probleem met verwerping en die onversoenbaarheid van weefsel is een van die grootste probleem waarmee oorplantingchirurgie te doen het, waarskynlik die grootste in die praktyk.

Chris Barnard verskyn vir die eerste keer op Huisgenoot se voorblad (19 Januarie 1968)

Vrae oor lewensvatbaarheid van 'n nuwe hart

’n Mens dink dadelik aan die woorde van dr. Michael Debakey, een van Amerika se voorste hartchirurge. Hy het onmiddellik ná die oprerasie gesê: Die enigste vraag wat nou bestaan, is in hoeverre dit moontlik is om die immuunreaksie, die grootste faktor wat operasies soos hierdie verhinder het, teen te werk.

Hierdie probleem spruit uit die beskermingsmeganisme in die menslike liggaam wat alle vreemde proteïnemateriaal aanval wat die liggaam binnedring. Dit doen die liggaam deur teenliggaampies te produseer wat die vreemde proteïne – en weefsel bestaan uit proteïne – vernietig en neutraliseer.

Dit is dus die lot wat ’n oorgeplante orgaan en sy nuwe “omgewing” in die gesig staar.

In ’n poging om hierdie teenliggame se uitwerpingsfunksie teen te gaan, is middels soos kortisoon en steroïde asook kobaltbestraling ingespan. Welslae is behaal, hoewel meestal net van tydelike aard.

In talle oorplantingsoperasies was hierdie faktor die grootste enkele rede waarom hulle níe geslaag het nie.

Daar is egter ook probleme wanneer die immuunreaksie onderdruk word, want middels wat die teenliggaampies neutraliseer, maak ook die liggaam weerloos teen bakterieë wat hom aanval. Dit beteken dat die pasiënt in heeltemal steriele omstandighede gehou moet word.

Navorsing wat gedoen is, het aan die lig gebring dat weefsel, net soos bloed, in groepe opgedeel kan word. Sover die kennis nou strek, is daar 12 weefselgroepe of -faktore. Waar weefsel van een liggaam in ’n ander oorgeplant word, is versoening net moontlik waar daar ’n bepaalde verhouding tussen die faktore van die eie weefsel en die vreemde weefsel is.

Kennis van die weefselgroepe – faktore van die pasiënt sowel as dié van die potensiële skenker is dus noodsaaklik.

Volgens dr. M.C. Botha, hoof van die Kaapse Provinsiale Bloedgroeperingslabaratorium, is baie nieroorplantings al gedoen sonder enige poging om die weefselfaktore van die skenker en die pasiënt te bepaal. Daar is dan staatgemaak op die middels wat die immuunreaksie teenwerk.

Suksesse en verliese

Baie van die operasies is suksesvol. Later is vasgestel dat die grootste welslae behaal is waar toevallig die grootste ooreenkoms tussen die skenker en die pasiënt gekies is. Operasies wat ná sulke toetse gedoen is, was meer suksesvol as die waar die toetse nie gedoen is nie.

Prof. Barnard het gemeen dat die kies en keur van ’n skenker van ’n orgaan vir ’n oorplanting ’n belangrike faktor is.

Planne vir orgaanoorplantingsoperasies in Kaapstad is meer as ’n jaar gelede vir die eerste keer gemaak. Volgens dr. Botha het prof. Chris Barnard toe vir hom gesê dat hulle daaraan moet begin dink, maar daarop aangedring dat hy hom eers moet vergewis van die beskikbare kennis omtrent weefselgroepering.

“Prof. Barnard het gemeen dat die kies en keur van ’n skenker van ’n orgaan vir ’n oorplanting ’n belangrike faktor is”, vertel dr. Botha.

“Hy wou geen program vir orgaanoorplanting uitwerk voordat ek nie oorsee was en goed op hoogte gekom het oor die saak nie.”

Volgens dr. Botha het prof. Barnard gesê dat hy nie oorplantings sal oorweeg voordat die beste kennis wat in die wêreld bestaan, in Kaapstad toegepas kan word nie.

“Toe dr. Jean Dausset van Parys in 1957 vir die eerste keer ontdek het dat daar antisera is wat weefselfaktore erken, was ek met ’n studiebeurs oorsee en het ek in sy labarotorium gewerk,” vertel dr. Botha.

Toe dr. Botha van Dausset af weg is, het ’n Japannees, Paul Terasaki, hom opgevolg en ’n ruk saam met dr. Dausset gewerk voor hy na Los Angeles gegaan en sy navorsing in verband met weefselgroepe voortgesit het. Nog niemand wat in hierdie verband navorsing gedoen het, is dr. Jon van Rood van die Akademiese Hospitaal in Leiden.

Dit was by dr. Van Rood waar dr. Botha in 1968 gaan lig opsteek het.

“Hy het al sy inligting tot my beskikking gestel,” vertel dr. Botha. Van hom af is hy na prof. Terasaki in Los Angeles, waar hy volkome op die hoogte gekom het met die jongste navorsingsmetodes en saam met die manne in die labarotorium gewerk het.

“Die tyd wat hy daar deurgebring het, was die grondslag, die samewerking wat daar sederdien tussen hierdie drie navorsers bestaan het en wat so ’n groot rol in die operasie gespeel het.

“Omdat ek presies geweet het watter metode daardie mense gebruik en hulle vertroue in my gehad het, was hulle bereid om vir ons antisera te gee.”

Met hierdie kontakte het hy na Suid-Afrika teruggekeer en aan die werk gespring.

“Ons het feitlik elke week aan mekaar geskryf en voortdurend antisera uitgeruil.”

Oor die antisera het dr. Botha verder vertel.

Swanger vroue die 'nuwe heldinne'

“Daarsonder kan geen weefseltoets gedoen word nie. Omdat die belangrike faktore in weefsel ook in witbloedselle voorkom, word die wit en rooibloedselle van bloed geskei en met eersgenoemde gewerk.

“Hierdie witbloedselle word dan teen verskillende antisera getoets en so bou ons mettertyd ’n antisera-bank op vir gebruik wanneer ons moet vasstel watter faktore in iemand se weefsel teenwoordig is. Elkeen van hierdie antisera erken net een faktor.”

Toe dr. Botha verduidelik waar hierdie antisera vandaan verkry word, het ’n nuwe groep “heldinne” se onregstreekse aandeel in Suid-Afrika se groot prestasie geblyk: dié van swanger vroue.

“Die grootste problem met weefseloorplanting in die wêreld is die skaarste aan antisera wat bruikbaar is vir hierdie toetse. Ons weet dat die liggame van swanger vroue hierdie antisera ontwikkel teen die weefselfaktore wat in haar fetus aanwesig is en wat van die vader geërf is.

“Nou is dit so dat alle swanger vroue nie hierdie teenliggame produseer nie, terwyl ander – die grootste meerderheid – teenliggame ontwikkel wat teen meer as een faktor optree.

“Hierdie vroue se serum is onbruikbaar omdat ons antisera nodig het wat net een faktor en geen ander erken en so sterk met hom reageer dat ons by toetsing keer op keer dieselfde uitslag kry.

“Wanneer ons wel so ’n serum kry wat teenliggame bevat wat net met een faktor reageer, stuur ons daarvan aan dr. Van Rood en prof. Terasaki. Hulle toets dit dan ook en laat weet hulle bevinding.

“Wanneer ook hul uitslag positief is, gaan ons terug na daardie vrou van wie ons dit gekry het en vra of ons ná haar bevalling meer van haar bloed kan kry. En dan stuur ons die helfte daarvan na Van Rood en Terasaki. Hulle doen dit voortdurend ook sodat heelwat van ons antisera van hulle af kom.

“Van die antisera wat ons gebruik het om weefseltoetse vir hierdie hartoperasie te doen, het ons van Van Rood gekry”, verklap die Suid-Afrikaner met dankbaarheid.

In hierdie verband kan dr. Botha nie genoeg lof van Kaapstad se vroue praat nie.

“Ons maak suiwer net staat op die welwillendheid van die vroue en ek moet sê hier in Kaapstad is daar baie selde ’n vrou wat ons nie wil help nie.”

In dieselfde asem het hy ook vertel van die geweldige rol wat Kaapstad se bloedskenkers gespeel het om hierdie operasie moontlik te maak.

“Hierdie mense kan met reg trots wees, want sonder die man in die straat wat bloed skenk, sou hierdie operasie nooit plaasgevind het nie. Ons prestasies wat hartchirurgie betref, strek nou oor 10 jaar en is opgebou op die basiese feit dat daar altyd vars bloed beskikbaar is wanneer ons dit wil hê. Die mense ontsien geen moeite nie.”

Volgens dr. Botha het Suid-Afrika in hierdie verband ’n geweldige voorsprong op die meeste lande van die wêreld waarmee hy bekend is.

“Daar is baie van my kollegas oorsee wat al vir my gesê het dat hulle in die verband net nie met ons kan meeding nie.”

Volgens dr. Botha was hulle sowat drie maande voor die operasie gereed om die nodige weefseltoetse te doen.

“Toe het ek vir prof. Barnard gesê ons is reg: ons het al die artiserum en ons het opgeleide mense om die toetse reg te doen. Toe hy dit hoor, het Chris gesê: “As jy reg is, dan is ons ook reg; nou kan ons laat rol.”

Hulle het besluit om met die nieroorplanting weg te spring. Mev. Edith Black was die pasiënt. By die toets van die vyfde moontlike skenker het die weefselfaktore so goed ooreengekom dat hulle die operasie aangepak het.

“Vandag is ek daarvan oortuig dat dit die rede is waarom sy nie die minste moeite gehad het om die nier te behou nie,” meen dr. Botha.

Volgende aan die beurt was die oorplanting van ’n hart.

Die eerste foto van Louis Washkansky nadat hy sy tweede hart ontvang het.

Mnr. Washkansky se toestand was kwaai versleg, maar uiteindelik was daar ’n hart van iemand wie se weefsel met syne ooreengekom het.

Hieroor het dr. Botha vertel: “In hierdie besondere geval het die skenker nie een enkele faktor gehad wat nie by die pasiënt aanwesig was nie en omgekeerd. Binne die perke van ons huidige kennis, was daar ’n kans vir volmaakte versoening.”

Eers toe is die operasie gedoen. Die wêreld was verstom. Uit alle oorde het koerantmanne en beeldradiospanne gestroom. Geen koste is ontsien nie en die Suid-Afrikaanse helde het honderde telefoonoproepe ontvang; oproepe om geluk te sê en uit te vra.

“Die eerste vraag wat almal my gevra het, was of ons dan die weefseltoetse kan doen,” vertel dr. Botha.

“Hulle kon dit eenvoudig nie glo dat ons die faktore hier in Kaapstad kon bepaal nie; hulle doen dit nie eens in Engeland nie. Dan wou hulle weet hoe dit moontlik is. Hierop het ek maar net gelag en geantwoord: “Wel, ons hét dit gedoen.”

Die mediese wetenskap wil siek mense help, maar hy gaan nie moord pleeg om dit te doen nie.

Dat dit een keer gedoen kon word, baan die weg vir nog operasies en ander oorplantings. En soos dit met rekords in die sportwêreld gaan, word die vraag gestel: Waar gaan dit eindig? Kan die brein ook oorgeplant word?

Ook oor die etiese aspek word daar baie kop geskud en vrae gestel. Besonder lastig is die vraag: Wanneer is iemand dood?

Talle antwoorde is reeds gegee. Duideliker antwoorde word verwag.

“Vir my is die saak afgehandel met woorde van ’n dokter wat gesê het: Die mediese wetenskap wil siek mense help, maar hy gaan nie moord pleeg om dit te doen nie.’