As sport- en rolprentheld was hy in Amerika maklik so gewild soos, sê maar Francois Pienaar hier by ons. Maar skielik het hy voor die gereg gevlug nadat sy gewese vrou se keel afgesny is. En die hele land het op TV na die dramatiese jaagtog gekyk . . .

Al het die spoedmeter nooit verby 100 km/h geklim het nie, was dit ’n jaagtog wat Amerika op 17 Junie 1994 tot stilstand gebring het.

Langs die San Diego-snelweg het mense met hul tuinstoele opgedaag en reggeskuif vir hul deel van die aksie. Op oorbrûe oor die snelweg het talle saamgedrom. Selfs in die vinnige baan het motoriste stilgehou om te kyk en te waai.

Langs die snelweg het die skare gejuig toe die wit Ford Bronco verskyn.

Die res van Amerika het vasgenael voor die televisie gesit. Op die skerm het ’n toneel verskyn so reg uit ’n avontuurprent. ’n Wit motor snel voort met ’n dosyn polisiemotors agterna. Bo hulle hang 10 helikopters in die lug, met televisiekameras wat kykers op die hoogte hou terwyl die drama uit die werklike lewe ontvou.

Langs die snelweg het die skare gejuig toe die wit Ford Bronco verskyn. Sommige toeskouers het plakkate in die lug geswaai. “Go O.J. go,” lui een.

'n Mens sou sweer O.J. Simpson was weer op die voetbalveld, reguit op pad doellyn toe. Of die ster in die televisie-advertensie vir gehuurde motors waarin hy deur die lughawegebou nael. Of op die silwerdoek op ’n haastige sending.

Maar op dié dag was O.J. Simpson, die 46-jarige voetbal- en rolprentheld met die sjarme wat van hom volksbesit gemaak het, ’n voortvlugtige voor die gereg. Hy is gesoek vir die dubbele moord op sy gewese vrou, Nicole (35), en haar 25-jarige vriend, Ronald Goldman, op 12 Junie 1994.

Die mooi, blonde Nicole se keel is tot by haar nekwerwels oopgesny.

As ek jou nie kan kry nie, kan niemand nie.

Nogtans het die skare O.J. toegejuig. Miskien uit gewoonte, het een toeskouer gesê. Of miskien omdat hulle weier om te glo hul held kan ook ’n ander sy hê — dié van geweldenaar met ’n obsessie oor ’n vrou wat hom verlaat het.

“As ek jou nie kan kry nie, kan niemand nie." Dit is die woorde wat by Nicole Simpson bly spook het.

Ná ’n huwelik van sewe jaar het sy O.J. goed genoeg geken om te weet dis nie 'n leë dreigement nie. Nadat hulle uitmekaar is, het hy immers so ver gegaan dat hy haar agtervolg en kroeë en restaurante binnegestorm het waar sy saam met iemand gekuier het. Hy het ook haar mansvriende gebel en gewaarsku: “Bly weg van Nicole.”

Sy was ’n 18-jarige Kaliforniese skoolmeisie wat saans kelnerin was toe sy O.J. ontmoet. Hy het reeds as voetbalspeler naam gemaak en was nog met sy jeugliefde, Marguerite, getroud en pa van drie kinders.

“O.J. het Nicole gesien en verlief geraak. Hy het haar opgeraap en na Beverly Hills gebring. Sy was syne,” het ’n vriend vertel.

Maar O.J., eens 'n voetbalheld, toe sportkommentator op TV en akteur in die Naked Gun-rolprente en The Towering Inferno, was nie altyd die glimlaggende sjarmante held wat Amerika se hart gesteel het nie.

Toe sy tweejarige dogter Aaren in 1979 in die swembad by hul huis verdrink, wou hy Marguerite net daar langs die bed in die waakeenheid te lyf gaan terwyl vergeefse pogings nog aangewend is om haar lewe te red.

O.J. Simspson saam met Marguerite (Whitley) Simpson, dogter Arnelle en seun Jason op 8 Januarie 1973 in Los Angeles. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Sy het my kind vermoor!,” het hy oor en oor in die hospitaalgange geskree.

Dieselfde jaar het hy van Marguerite geskei.

Hy en Nicole het sewe jaar saam gewoon voor hulle op 2 Februarie 1985 getrou het, kort voor die geboorte van hul eersteling.

Nicole het gehoop O.J. sal aan haar getrou bly. Maar daar was steeds ander vroue in sy lewe. Intussen het hy gruwelik jaloers geraak op haar.

O.J. het haar gedurig geslaan. Sy was vreesbevange vir hom.


“Wanneer sy petrol in haar motor gaan ingooi het, wou O.J. weet of sy ’n verhouding met die petroljoggie het,” het dr. Susan Forward, ’n sielkundige wat Nicole ten tyde van hul egskeiding behandel het, gesê.

“O.J. het haar gedurig geslaan. Sy was vreesbevange vir hom.”

Aan die sielkundige het Nicole beken: “O.J. is so besitlik en jaloers dat ek nie weet wat hy kan aanvang nie.”

Daar was tye in hul huwelik dat sy in doodsangs die noodnommer 911 geskakel het. Een so ’n keer was Nuwejaarsaand 1989.

Nicole het weggehardloop, maar O.J. het haar elke keer ingehaal.

Toe die polisie by O.J. se huis van R18 miljoen in die spogbuurt Brentwood aankom, het Nicole huilend na hulle gehardloop in ’n modderbesmeerde sweetpakbroek en bra. Haar gesig was geswel, haar lip stukkend, haar oog blou geslaan.

“Hy gaan my doodmaak,” het sy histeries geskree.

“Dit was ’n uitgerekte aanranding,” vertel ’n vertroueling van Nicole later.

“Nicole het weggehardloop, maar O.J. het haar elke keer ingehaal. In een stadium terwyl sy in ’n bondeltjie opgekrul gelê en hy haar geslaan en geskop het, het sy gedink hy gaan haar doodmaak.”

O.J. is van aanranding aangekla en ’n boete van sowat R1 700 en 120 uur gemeenskapdiens opgelê.

Sommige regslui het gereken sy roem het hom van tronkstraf gered.

“Die regter het hom probeer tegemoet kom, pleks daarvan om hom te laat insien dat dit kriminele gedrag is,” het Alana Bowman van die plaaslike kantoor van die prokureur-generaal, gesê.

Maar sy loopbaan was steeds nie geknou nie. Hertz, die motorverhuringsaak vir wie hy as woordvoerder opgetree het, het in ’n verklaring gesê hulle het geen plan om O.J. se dienste te beëindig nie.

Selfs ná die egskeiding twee jaar later moes die polisie steeds etlike kere ingryp toe O.J. en Nicole se rusies handuit ruk.

Soos die aand in Oktober 1993 toe O.J. die deur van Nicole se dorpshuis afbreek uit woede omdat hy ’n foto van ’n gewese kêrel in haar fotoalbum gevind het.

Hier is Nicole se noodoproep na 911. (Waarskuwing: Dit kan sensitiewe lesers ontstel.)

Hoewel O.J. toe onder andere die model Paula Barbieri uitgeneem het, het hy geen geheim daarvan gemaak dat hy weer met Nicole wil versoen raak nie

Hy het haar belowe hy het verander.

Maar Nicole het bang gebly vir hom.

12 Junie 1994

Eindelik het sy moed bymekaargeskraap en vir O.J. gesê sy sien nie kans om weer met hom te trou nie. Drie weke later is sy dood.

Op haar sterfdag het sy die aand ’n dansvertoning bygewoon waarin hul dogter Sydney (8) opgetree het. O.J. het dit ook gaan kyk. Hulle het mekaar gegroet, maar nie by mekaar gesit in die skoolsaal nie.

Daarna gaan Nicole, haar kinders, haar ouers, haar twee susters met hul kinders en ’n vriendin by die restaurant Mezzaluna gaan eet, waar Ronald Goldman ’n kelner was.

Ron Goldman het saam met Nicole gesterf. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ron, wat deeltyds as model gewerk het, en Nicole het mekaar by die plaaslike gimnasium ontmoet. Bure het hom gereeld gesien waar hy buite saam met Nicole se kinders gespeel het, maar het getwyfel of die twee meer as vriende was.

Nicole se ma het haar bril in die restaurant vergeet en Ron het aangebied om dit vir Nicole te vat. Hy het so gemaak. Terwyl hy en Nicole op pad voordeur toe was, is hulle vermoor.

Toe ’n buurman kort ná middernag op die gru-toneel afkom, tref hy Nicole se lyk in ’n plas bloed op die Italiaanse teëls voor haar voordeur aan. Nader aan die bosse het die lyk van Ronald gelê. Hy was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Dit het gelyk asof hy verbete terugbaklei het voor hy aan veelvuldige meswonde beswyk het.

In die huis het Sydney en haar sesjarige boetie, Justin, geslaap, onbewus van die tragedie wat buite afgespeel het.

16 Junie 1994: O.J. met Justin en Sydney by hul ma, Nicole, se begrafnis in Los Angeles. Foto: Gallo Images/Getty Images.

By O.J. se huis, waar die polisie vroeg die volgende oggend toegeslaan het, het hulle bloedspatsels in die oprit en in sy motor gevind en ’n bebloede handskoen wat pas by die een wat hulle op die moordtoneel gekry het.

O.J. het volgehou hy is onskuldig.

Die handskoene wat aanleiding gegee het tot: "If it doesn’t fit, you must acquit." Foto: Gallo Images/Getty Images.

Toe die polisie die uitslag van die forensiese toetse ontvang, het hulle met O.J. se prokureur gereël dat hy homself oorgee. Hy het egter die polisie ontwyk. By sy huis het hy drie briewe gelaat — een aan sy kinders, een aan sy ma en ’n ope brief.

Een van die drie briewe wat O.J. Simpson geskryf het. Dit is deur een van sy regspan, Robert Shapiro, op 17 Junie 1994 in die hof in Los Angeles voorgelees. Foto: Gallo Images/Getty Images.


Hierin het hy oor Nicole geskryf: “Soos in enige langtermyn-verhouding het ons goeie en slegte tye gehad. As ons ’n probleem gehad het, was dit dat ek haar so liefgehad het.”

Uit die slot het dit gelyk asof hy dit oorweeg om sy eie lewe te neem.

“Moenie vir my jammer voel nie,” het hy geskryf. “Ek het ’n wonderlike lewe gehad, wonderlike vriende. Dink asseblief aan die ware O.J. en nie aan hierdie verlore mens nie.”

Saam met sy lewenslange vriend en voormalige spanlid Al Cowlings het hy in sy motor geklim. Oproepe wat hy met sy selfoon gemaak het, het die polisie na hom gelei. Uit hul helikopters het verslaggewers O.J. op die agterste sitplek sien sit met ’n blou staalrewolwer teen sy kop.

Dit het ’n byna rustige jaagtog van vyf uur lank geword, wat boeiende kykstof vir ’n televisiegehoor van 95 miljoen gebied het. Meer mense het daarna gekyk as na die slotepisode van die treffer-TV-reeks M.A.S.H.

Tom Lange, ’n speurder van die Los Angeles-polisie, het oproepe na O.J. gemaak terwyl die jaagtog aan die gang was.

Luister hier na dele van die gesprek tussen die speurder en voortvlugtige.

Dit het ná donker by O.J. se huis geëindig. Voor hy hom oorgegee het, het hy 'n glas lemoensap gedrink en gesê hy wil sy ma bel.

Tot Amerika gesien het hoe die polisieboeie om sy polse sluit, was Oenthal James Simpson die volmaakte voorbeeld van die Amerikaanse droom wat bewaarheid is.

Hy was ’n arm seun met bakbene uit die staatsbehuisingsprojekte van San Francisco. Die bakbene was die gevolg van wanvoeding wat die beensiekte ragitis veroorsaak het.

O.J., of The Juice, ’n bynaam wat sy energieke speelstyl hom besorg het, het die suksesleer tot bo geklim.

In Brentwood het hy in dieselfde straat gewoon as Meryl Streep. Ander bekendes in die spogbuurt was Dennis Quaid, Meg Ryan, Michelle Pfeiffer en Tom Hanks. Drie maande voor O.J. in ’n sel toegesluit is, het hy nog saam met pres. Bill Clinton gholf gespeel.

In die jare voor dit mode geword het om bekende swart persoonlikhede in advertensies te gebruik, was O.J. die uitsondering. Sy styl is as “ras-neutraal” aangeprys en opnames onder die publiek het getoon hy is vir hulle “kleurloos”.

Skielik nie meer nie. In ’n gemeenskap wat hom daarop geroem het dat hy nie rassisties is nie, is toe gepraat oor hoe O.J. as “swart rolmodel” misluk het.

Ook die sondes van ander is opgehaal: Mike Tyson wat in die tronk sit vir verkragting. Michael Jackson wat van kindermolestering beskuldig is. Marion Bary, voormalige burgemeester van Washington, wat glo met die dwelmmiddel crack handel gedryf het.

En toe O.J. Simpson, die bekendste Amerikaanse persoonlikheid, wat van moord aangekla is.

’n Mede-voetbalspeler, Jim Brown, het Amerikaners se gevoelens van skok, teleurstelling en ongeloof raak opgesom toe hy sê: “Ek weet daar is twee mense dood en die staatsaanklaer sê dis O.J. Maar dis nie dieselfde O.J. wat ek ken nie. “

Nicole Brown Simpson

Nicole is op 19 Mei 1959 in Frankfurt, Duitsland, gebore. Sy was een van sewe kinders. Haar ma, Juditha Anne Baur, was van Duitse afkoms en haar pa, Louis Hezekiel Brown, Amerikaans.

In 1980 het sy ’n geringe rol as ’n buspassasier in die riller Detour to Terror vertolk. O.J. het die hoofrol in die fliek as die karakter Lee Hayes vertolk.

Gerugte het die ronde gedoen dat Nicole ’n affair met Marcus Allen, een van O.J. se vriende, gehad het terwyl hulle van mekaar vervreem was.

Haar bebloede lyk is op 13 Junie 1994 gevind.

Sy is sewe keer in die kop en nek gesteek. Die snywond van 140 mm aan haar nek het deur haar linker- en regterslagare gedring. Van die steekwonde was 19 mm diep en sy is byna onthoof. Daar was ook verdedigingswonde aan haar hande.

Nog ’n mishandelde vrou?

Christy Prody het O.J. 13 jaar lank gesteun nadat sy as 19-jarige hom in 1995 voor die moordhuis ontmoet het. Toe sy 21 jaar oud is, het sy en O.J. se verhouding begin.

Die polisie is vier keer ontbied om in te gryp toe sake tussen die paartjie skeefloop. Sy het egter van plan verander nadat O.J. in 2008 vir gewapende roof tronk toe gestuur is.

In 2016 het sy beweer O.J. het telkemale aan haar erken hy het die moorde gepleeg, ook hoe hy vir Ron “geslag” het.

“Ek sal altyd vir hom lief wees. O.J. is so arrogant. Ek twyfel vir geen oomblik dat hy glo hy kan ’n tweede keer met moord wegkom nie,” het sy glo gesê en beweer sy leef in vrees dat hy dieselfde aan haar sal doen as "wat hy aan Nicole gedoen" het.

Is jy 'n slagoffer van geweld teen vroue en kinders?

Dié organisasies kan jou help:

  • FAMSA (landwyd): Bel 011-975-7101 of stuur 'n e-pos na national@famsa.org.za vir inligting en hulp.
  • Lifeline (24-uur): 0861-322-322.
  • POWA (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 vir nog inligting en hulp.
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425. 
  • Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762.

  • SA Polisie-noodnommer: 10111.

Artikel: Huisgenoot, 14 Julie 1994

Bykomende bronne: radaronline.com, insideedition.com